In Dinsdag, 31 Mei 2011, was daar ‘n artikel oor die nuwe kamp hier naby ons…
Ek het vir julle die hele artikel ingeskandeer & laai dit op sodat julle meer kan lees oor ons mooi wêreld.
Geniet dit! Kliek hieronder om die hele berig te lees. Jy benodig Adobe Reader om dit oop te maak. Laai dit verniet hier af indien jy dit nie het nie!
Sarrisam-spore
Sarrisam-spore
Luister na die Engelbrecht-stemme
deur Gert Sarrisam en medewerkers
Engelbrecht Familie Geskiedenis
1717-2011

VOORWOORD
Hierdie boek oor die Engelbrecht’s van Sarrisam het daartoe gelei dat ons die spore van ons voorvaders ver terug moes gaan vat. Ons wou graag weet wie ons werklik is en waar ons vandaan kom. Met my heupvervanging meer as ses jaar gelede, was ek gekniehalter. Ek het besluit om ‘n bietjie oor ons herkoms te skryf, asook oor die latere geslagte wat op Sarrisam grootgeword het.
Die kern van hierdie boek handel hoofsaaklik oor die vier geslagte van Sarrisam se mense en hul nasate. Die bronne van inligting was uiters beperk, omdat twee geslagte van die Sarrisam-familie reeds oorlede is. Ek en Sarel het in ons geheue gedelf en probeer om soveel as moontlik te onthou en oor te vertel. As ek foute gemaak het, vra ek nederig om verskoning.
Die leser moet besef dat ons gepoog het om die “onthou” van die verlede op skrif te stel en vir die nageslag te bewaar. U moet ook nie ‘n taalkundig korrekte geskrif met enige literêre waarde verwag nie. Die hoofkarakter in hierdie boek is oupa Joos, wat as skaapwagter deur swaarkry gesukkel het om vir Sarrisam as standplaas vir sy familie te bekom. Die meeste vertellings is insidente wat op Sarrisam afspeel – ‘n mengsel van drama en glorietye!
As gesin het ons ook die hartseertye beleef toe ons ouers op betreklik jong ouderdom oorlede is. Hul voorbeeld en nalatenskap bly vir ons kosbaar. Ek glo dis hoekom ons nageslag soveel seën en God se guns geniet. Ons eer hulle daarvoor.
Ek wil dankie sê aan al die broers en susters vir hul onderskeie bydraes tot hierdie boek. Ook aan al die neefs en niggies wat vir ons bydraes gestuur het. Ons het probeer om almal die geleentheid te gee om hul grootwordjare en die rol van hul ouers in herinnering te roep.
My broers en susters, dankie vir wat ons nog elke dag vir mekaar beteken. Die liefde en harmonie wat ons deur ‘n onsigbare band so saambind, maak dat ons die behoefte het om jaarliks bymekaar te kom.
Dankie aan my geliefde vrou, Hestelle, wat in haar druk program tyd ingeruim het om alles op rekenaar te sit. Ek waardeer dit uit my hart. My kinders, dankie vir jul ondersteuning en ou Nelis, dankie vir al die foto’s wat jy geneem het.
Ons erken met dank die navorsing wat Faansie Engelbrecht gedoen het in verband met die Engelbrecht-voorgeslagte. Dankie aan Maria Liebenberg, broer Koos en Hestelle wat saam met Terina gehelp het met die afronding van “Sarrisam-spore”. ‘n Spesiale dankie aan Terina le Roux vir die finale bladuitleg.
Gert Sarrisam
Leer ken die herkoms van die Sarrisam Engelbrecht familie.
Hoe het Sarrisam in Joos Engelbrecht se besit gekom?
Wat het van Gert Cornelis se broers en susters geword?
Waar bevind die vierde geslag van Joos Engelbrecht hulle?
Gert Sarrisam se broers en susters deel hul lewensverhale.
Hartseerverhale, familie-intriges, swaarkry dae word oorvertel soos net Gert Sarrisam kan.
Sagteband
A4-grootte
220 volkleurbladsye
450+ foto’s
R310
Navra: Hestelle Engelbrecht
sarrisam@telkomsa.net / 027 581 1021
Blye weersiens van Garisiete by Groenrivier
Ons ou Garisiete het baie daarna uitgesien om mekaar na vele jare weer die naweek op Groenrivier te sien. Ons het die afgelope tyd die draad geslaan om ons ou maters uit ons skooljare op te spoor en uit te nooi. Die laaste paar weke is op facebook getwitter en gekwetter met Garies Kaalvoetkind in die voorste linie. Kinderfoto’s van ons skooljare en gesinsfoto’s is afgelaai en ons het met verbasing gestaar na die oupa’s en ouma’s met hulle gryskoppe, wat meer as vyftig jaar gelede saam met ons op die skoolbanke gesit het.
Koos Koek, my klasmaat vanaf 1959, het al ‘n week voor die naweek uit Kaapfontein by my kom kuier. Sondae, as ou ds. Van der Merwe oor die tweedegrootste gebod van die liefde praat en dat jy jou vyande moet liefhê, het ek aan die nare Koos Koek gedink en vir myself gesê: “Not ‘n dem!” Hy het op skool soos ‘n wafferse werfhond begin blaf as ek in die nabyheid was (my bynaam was Spotty) en die haat jeens hom het by die dag gegroei.
Vandag is ek en hierdie aartsvyand van skooljare boesemvriende en ons het saans om die vuur bespiegel wie almal van ver af daar sal wees. Ons was verseker van Hannelien Vermeulen (nou Strydom) op wie ons seuns almal verlief was, asook Olé Pedersen van Denemarke.
Broer Sarel-hulle het al die Donderdag gekom en Sally het haar ou skoolmaat, Mieta, saamgebring. Die aand het ons die naweek ingesuur en met Mieta gespot en gevra of sy haar voorbehoedpille saamgebring het. “Gaan dit só rof wees?” het sy saamgeskerts. Sarel en ek het die Vrydagoggend opgewonde ons karavane gehaak en koers gekies Groenrivier toe. Koos Koek het kort op Sarel se hakke vir ons vooruit gery. Toe ons die kampterrein binnery, val my oë op ‘n groen Land Rover en ‘n gryskopman wat besig is om kamp op te slaan. “Ek wonder wie is die ‘ou’ man?” vra ek vir my vrou. “Wat meen jy? Ons is almal oumense!” choke sy my. Toe ek agter Sarel se karavaan stilhou, kom ‘n brunet by hulle uitgestap en ek wonder wie die vriendelike vrou is. Koos Koek stel haar aan my voor: “Elsabe Coetzee.” Ons oë ontmoet mekaar..”Hannelien?” sê ek onseker. Sy knik. Vyftig jaar val weg tussen ons en ons omhels mekaar. ‘n Rukkie later ontmoet ek die gryskopman, Andre Strydom. “Jy sal hierdie naweek haar met ons moet deel,” spot ek. “Natuurlik,” sê hy vriendelik. “Ek het haar vir julle gebring,” spot hy saam. Stuk-stuk kom hou hulle stil – ou Kalfie, Koeloe, Gert Pit en Malinda uit Hentiesbaai, Arno met gesin en ou Jasper Hamel en Annatjie daag op. Ook Renier Koeëlblad en Marlene kom sluit by ons aan. ‘n Wit Mercedes kom hou regoor ons stil. “Ek wonder wanneer kom ou Olé?” vra ek toe die passasier in die kar onbekend lyk. ‘n Gryskopvrou loer vir ons deur die venster, terwyl die man ook stip na ons staar. “Lyk my die man ken ons nie,” sê een. Toe klim hy uit en kom na ons aangestap. “Dis wragtag ou Olé!” sê ek en almal staan op. Na 51 jaar groet ek die ou grote en almal omhels hom. Die verlange en blydskap om ons almal weer te sien, word weerspieël in die warm drukkie wat hy elkeen gee. Die gryskopvrou kom aangestap en dis niemand anders as Noekie Dreyer nie.
Die agtermiddag sit ons in ‘n kring en kort-kort verskuif ons, want die kring raak al wyer. Dit gesels en dit jil oor-en-weer. Arno verwelkom al die ou Garisiete en vertel ons onder andere van Johan Dreyer se mislukte selfmoordpoging oor ‘n girl wat hom afgesê het en later is Sarel op die been. Hy vat vir ons terug na die dag by oom Bertie Colyn toe die koshuiskinders moes gaan help om jakkals te jag en hy gebruik oom Bertie se “groot” woorde: “Manne, voor ons begin, moet ons eers organiseer.” In daardie stadium het ons nog nie geweet wat “organiseer” beteken nie! Hy bedank vir Adriaan en Arno vir die “organiseer” van hierdie naweek. Adriaan haal sy rooi kabouter-kitaartjie uit en sing een van Kaffertjie Rooiwal se songs. Ek vat hulle as seuntjie agterop Pa se Fordbakkie ‘n bietjie na Bitterfontein se sirkus toe en ou Jasper vertel ons van Blikvoet se sub. A-storie. Blikvoet moes ‘n storie vertel en sê later: “Juffrou, toe raak Wolf so kwaad vir Jakkals, hy hardloop hom van agter af in en hy byt ou Jakkals se valve morsaf!”
Arno kondig aan dat ons eers die skoollied moet sing voor ons uitmekaar gaan. Terwyl ons uit volle bors sing, staan ons weer in rye in die vierkant. Ek sien ou mnr. Kallie op die verhoog met die Bybel in sy hand. Ek sien weer vir ou For, Piet Koek en Herman Kotze op aandag staan wanneer die laaste akkoorde uit die skoollied weerklink: “Bruin, groen, oranje roep jou werk en oorwin!”
Later maak ons vuur en Bennie en sy maat dra vir ons kole aan. Gou hang die geur van Namakwalandse vleis tussen ons en ons klink ‘n glasie op ‘n blye weersiens. Daar daag nog ‘n klomp van die jonger garde op. Die kamera’s van Nelis, Stella, Marna en die ander flits aaneen en ‘n onvergeetlike aand wat te vinnig omvlieg, word op film vasgevang.
Die aand toe ons gaan inkruip, wou die slaap nie kom nie. Ek was opgewonde soos ‘n seuntjie wat destyds op Wallekraal se kersboom sy eerste present gekry het en wat die aand kort-kort onder die kussing aan die karretjie gevoel het of dit regtig waar was.
Saterdagoggend het Adriaan se trekker en sleepwa gereed gestaan om ons almal see toe te vat. Met ‘n leertjie het ons almal opgeklim en toe die ou knieë so klap, sê ek: “Ai, waar is ons dae toe ons as kinders uitgelate agter op oom Petrie se lorrie geklouter het vir die Sondagskoolpiekniek by Groenriviersmond.”
Toe ons afstap, sê ou Kalfie ewe droog: “Liewe genade, as my skaduwee so sleg lyk, hoe lyk ék dan?” Op die strand het nog twee van ons klasmaats, Johny Pool en Johan Rossouw, ons ingewag. Van die 52 st.-sesse van 1959 was ons nou 8 bymekaar en die tyd het gaan stilstaan. Ons was weer op die hasieveldjie waar ons tol en albaster gespeel het. Ons was weer langs die tennisbaan waar ons klein mannetjies die groot meisiekinders met die kort tennisrokkies dopgehou het as hulle spring vir die hoë balle. Ons het agter ons hande gefluister en gestry wie die mooiste panty aanhet. Ons was weer terug agterop oom Petrie se lorrie as ons saans van ‘n foot ball game af gekom het, waar ons onder die komberse die meisiekinders bevoel het, om gou uit te vind ‘n ander man se hand is alreeds daar.
Ons neem vir oulaas foto’s op die strand en ons loer na die duine waaroor die grootmanne toendertyd met hulle girls op piekniekdag afgedwaal het. Ons groet hulle wat terugry, want die tyd het net te vinnig verbygespoed. Terwyl ons stadig die bult klim, voel ek ‘n feetjie stoot my van agter af. Ek herken Marietjie se lag. “Jy’t seker gesien ek sukkel,” skerts ek.
Terwyl ons terugry, vertel Olé my die hartseerverhaal van sy geliefde vrou se siekte en dat sy verlede jaar oorlede is. Hy vertel ook van sy verlange na Suid-Afrika.
Terug by die kamp het ons weer die foto’s wat Adriaan teen die muur opgehang het een-vir-een deurgeloop en na ons onskuldige kindergesiggies gekyk. Eenkant het ons vrouens en André ons geduldig op ‘n afstand dopgehou waar ons die naweek die bietjie kind wat in ons oorgebly het, losgelaat het.
Toe dit aand word, het Adriaan vir ons elkeen ‘n braaipakkie uitgedeel en die vure is aangesteek. Ons het die aand as ‘n groot familie almal saam geëet met musiek in die agtergrond. Die mense het begin dans en ek en my vrou het ook glad ‘n paar passies gemaak. Ons het gesels en gekuier en toe ons op ons horlosie kyk, was dit middernag. Ek en Hannelien het vir Olé en Noekie gaan afsien. “Ek kom terug na julle!” is sy laaste woorde. Toe ons terugstap, sê ons vir mekaar: dit was wonderlik om mekaar na al die jare weer te sien en ou Olé het elke oomblik ingedrink.
Sondagoggend kom ons bymekaar vir die oggenddiens. Ons sing die ou Halleluja-liedere van kindsbeen en Arno bring ‘n kort, maar kragtige boodskap. Hy lees ‘n paar verse uit die Bybel en sê elkeen van ons het ‘n pad geloop. Langs hierdie pad was voorspoed, maar van ons was minder gelukkig en daar het ook slegte dinge met ons gebeur. Ons het egter nie die reg om vrae te vra oor hoekom hierdie dinge met ons langs die pad gebeur het nie. Hy bring hulde aan hulle wat ons reeds vooruitgegaan het en doen die nodige bedankings aan ons gasheer en sy vrou en kinders wat ons die naweek bederf het.
Die aaklige deel was om te pak en die besef dat so ‘n wonderlike naweek besig was om uit te loop. Ons haak die karavaan en begin te groet. By Adriaan se hoekie sit almal nog rustig met ‘n glas in die hand, besig om aan die naweek te herkou. Eenkant is die stille Vlos besig by die roerpan om die middag se kos gereed te kry. Ons word hartlik uitgenooi om saam te eet en ek vat nogal “twee skeppies”! Dis tyd om afskeid te neem, maar dis of ons die tyd nog ‘n bietjie wil rek. Ek vat nog ‘n skeppie en vertel hulle van toe ek en Niek in 1962 met die trein Kaap toe is om vir Sarel te gaan kuier. Kort-kort weerklink Marna se helder laggie en Marcell, ons gas uit Nederland, luister aandagtig na die oom se storie en wonder oor die bokrib op die trein. Die stille Piet Esel sit eenkant met sy breë smile wat sy trade mark is.
Toe ons eindelik by die kamp uitry, kom lê daar ‘n leë gevoel in my binneste, maar ek dink aan die liedjie wat ons vanoggend gesing het: Wat ‘n vriend het ons in Jesus. Die woorde kom oor-en-oor in my agterkop en ek sê vir myself, ja, wat ‘n Vriend het ons nie regtig nie – ‘n Vriend wat oor al die jare rondom ons was en ons die voorreg gegee het om nog so ‘n onvergeetlike naweek te kon beleef.
My kennis van Namakwaland en sy mense sou deur Namakwalanders bestempel kon word as “Nul”; behalwe dat hulle te ordentlik is om dit ooit te sou kon sê.
Soos meeste ander Kaapse kinders van daai tyd het ek met ʼn vak genaamd “Sosiale Studies” gewroeg en daarin sou ek – as ek in die klas opgelet het – geleer het van die bestaan van Namakwaland met die hoofdorp Springbok. Daar het bokke en skape en diamante – en skynbaar hier en daar mense – voorgekom. Simon van der Stel het ook daar getoer; ja, daar is self ʼn plek genaamd O’okiep. My ma, wat ook in haar jeug eens in Bitterfontein verwyl het, het aan my bevestig dat Namakwaland bestaan. Ook Juf. Naudė, ons Engels-literatuur onderwyseres het bevestig dat dit nie ʼn plek vir gewone, normale mense is nie, deur aan te beveel na aanleiding van ʼn voorgeskrewe boek “Karroo”: “If you want to write a book about the end of the world, Garies would be a good place to start.” Garies? (Dis háár kort hokkierok en die feit dat sy op die reg voorste skoolbank se skryfvlak gaan sit het met ʼn swaai van die been, wat veroorsaak het dat ek nie in háár klas opgelet het nie.)
My oorlede Pa, ʼn “bloubaadjie”, het my eenkeer in 1958 Springbok toe geneem en ons het in die Springbok Hotel oorgebly en by Jan “Clutch” Visser aangedoen. Ek was soos ʼn regte “gawie” en het aanhou klokkie lui vir diens. 2/6 het baie koeldrank gekoop en die kelners met swart broeke, wit baadjies en ʼn vuil vaddoek oor die arm, moes bontstaan.
In die bank in Parow waar ek so 1966/67 gewerk het, het daar Namakwalanders gewerk. (Klein)Jan en Christine (Nieuwoudt) Hanekom; Willem (Battery) en Ita (Pooltjie) Dippenaar; Hermie Nieuwoudt; en Johnny Vosloo. Hermie het Cointreau en Fanta Orange gedrink. Dit sê vir mens alles wat jy oor Namakwalanders wil weet, het ek geweet.
Dit behels my kennis van Namakwaland en sy mense tot September 1970 toe my wêreld eensklaps op sy kop staangemaak word deur ʼn onderwyseressie met ʼn ewe kort rokkie, wat ek in Parow ontmoet het. Hannelien Vermeulen. Nadat sy die nodige speurwerk oor ʼn tydperk van drie weke afgehandel het en my as geskikte materiaal bevind het (om na haar Namakwaladse norme hervorm te kon word, het ek later eers besef), het sy ewe hofvaardig ingestem om met my uit te gaan, by wyse van ʼn oefenrondte. Bietjie later toe ek agterkom sy verskil van Hermie, het ek die groot vraag gevra: “Waar kom jy vandaan?”. Dis mos belangriker vir jou ouers se gemoedsrus as die latere, heel groot vraag. “Alexanderbaai.” (Huh?) “En waar het jy dan skool gegaan? (as jy skoolgegaan het, wonder ek)”; “Laerskool Binnekamp en toe Garies Hoërskool.” Mmmm! Ek onthou toe dat ʼn rugbytoer deur my JGMeiring Hoërskool se span in ʼn verlies uitgeloop het agv sekere onderduimshede gepleeg deur GHS waaroor ek liewers nie wil praat nie.
Ek het Alexanderbaai (die eerste trippie soontoe is ʼn nagmerrie verhaal op sy eie) besoek en kennis gemaak met Oom Jan en Tant Hannie Vermeulen en nog 4 ander klein Vermeulenpies, (nog ʼn verhaal op sy eie) waaronder Jan Vermeulen, Jnr, later HUB van Alexkor die opvolger van die SAD. ʼn Namakwalander waarvoor ek ʼn baie groot bewondering het.
Ons is in 1972 getroud en vandaar het my visie begin verbreed en my kennismaking met Namakwaland en sy mense het begin met ʼn foto van ʼn besoek deur GHS se kinders aan die Burger Strandhuis in 1960. Dit het gevorder tot rugby-, netbal en ander skoolfotos en so ʼn boekie waarin Hannelien die “geboortes, verlowings, vordering en sterfgevalle” van Garisiete ge-rekordeer het. Mooi woord, hè Sarel?
Die jong gesigte op die fotos het vir my mos nou nooit ouer geword soos ons twee nie. Daar was selfs fotos waarvan die wat daarin verskyn het nie eers geweet het nie.
En so het ek die veelbewoeë byname leer ken. Dis ook ʼn storie op sy eie. Party mense het ek net op hul byname op die fotos leer ken. Die honde: Spotty, Lemmetjie; en muise,…. Wag kom ons los dit daar. Groot manne wou mekaar al daaroor te lyf gaan en ander het mekaar jare lank verpes.
ʼn Bynaam moet mos voldoen aan 4 vereistes: Dit moet darem beskrywend van een of ander karaktertrek, gewoonte of voorkoms wees; dit moenie persoonlik (liggaamlik of sielkundig) kwetsend wees nie; die benoemde moet daarmee kan saamleef; en dit moet (ook vir die benoemde) humoristies wees. Net in Namakwaland geld hierdie reëls nie. Jy kan jouself maklik met enige dier, plant, insek, hemelruimdeel, geografiese-, natuurlike of wat ookal aanmekaargeflansde afferring vereenselwig vind en daarmee maar moet saamleef. Perd, hond, kalf, koeëlblad!?
So het ek deur die jare die jong gesigte van Namakwaland leer ken – daar was ook ʼn paar wat ek meer te hore van gekom het toe hulle al ouer geword het – noemenswaardig Adriaan Niewoudt en ook so op TV Arno van Zyl en Kleinjan en Christine Nieuwoudt met wie ons deur die jare vriende geword en gebly het. Hier en daar het ek nog onrmoet, maar ek het maar altyd half-en-half bevooroordeeld gebly teenoor hierdie mense wat so effe uniek is. Ek het ook vir Jasper Nieuwoudt ontmoet op Van Rhynsdorp. Byname het mense geword. Koos Koek, Kalfie, Beursiebek en what-hef-u. Ole Pederson wat al die pad van Denemarke af gekom het vir die gesels (en so iets anders ook!). En dit bring my by mense soos Noekie Dreyer – altwee mensies wat onlangs groot smart verduur het. En nou kon mens met hulle daaroor praat.
Toe bespring facebook my eendag in November 2010. Dis mos soort van verderflik en ek moet dit dus ervaar! Mens, hoe kan die sonde onder my neus plaasvind en ek loop dit mis!
Dit was ook nie lank André Strydom se fb nie, maar word vinnig via Jan Vermeulen ʼn ontdekkingsreis vir Hannelien. En so word die mense vir my ook lewendig; mense wat lekker praat, lekker fotos uit die ou dae deel en vir Hannelien skielik twee wêrelde bymekaar bring. Haar ou plek en die nuwe Sodom en Gomorra waar sy noual tydelik vir 31 jaar in stille bannelingskap vertoef.
Ek self het ʼn heel nuwe Namakwalander begin ervaar. Mense wat nie omgee om te deel nie; mense wat kan lag en veral vir hulself kan lag; mense met lief en leed; mense wat in hul jong jare harde en ongenaakbare tye ervaar het; mense wat ʼn deel van die aarde bewoon het en nou nog bewoon waar ʼn geween en ʼn gekners van tande nie dikwels in die openbaar gehoor word nie, maar wel heel gereeld daar is; mense wat met min van die materiële moes leer klaarkom en dit gemoedlik aanvaar het; mense dus wat nie ʼn keuse gehad het as om ʼn sin vir humor te hê nie, want ek glo dis wat hulle siele kop-bo-water gehou het; mense wat deur alles trou aan hulle herkoms, hulle landsdeel en hul mense gebly het; mense wat na aan hulle Here is en nie skaam is om hulle afhanklikheid van Hom te besing nie – so tussen die lag en trane deur.
Maar een ding het vir my bly ontbreek: die gesig (alhoewel ek die fotos gesien het op fb) and veral die stem en die MENS agter die foto.
Ek het die uitnodiging op fb gesien en besluit dat ek dit saam met Hannelien – wat meeste van die jong gesiggies 50jaar laas gesien het en die 50-jarige herdenking van GHS in 1988 nie kon bywoon nie – sal gaan ly. Sy het haar opgewondenheid wonderbaarlik weggesteek, maar dit was daar en ek vermoed ek sou haar nie met stokke en swaarde kon weghou nie.
Gert Sarrisam het die byeenkoms goed en innig namens die GHS’sers en ons ander ook beskryf, ek gaan dit nie herhaal nie.
Maar van my kant af, wat ʼn belewenis om die stemme te hoor, die ouer mense aan hul kinderfotos te koppel, gesigsuitdrukkings te ervaar, die gelag, geskerts en nou en dan ook ʼn traan; groot deernis tov die wat nie meer met hulle is nie, siekes en krankes; die duidelike gemis van afwesiges. En die handgebare, saampraat, uitdrukkings, aksente (dit was natuurlik nie ʼn halfuur nie toe praat almal weer met ʼn Namakwalandse aksent). Niemand het nog ooit, of besit selfs nou, ʼn motor nie, dis ʼn “mouter”.
Stories – min grappe, want Namakwalanders vertel mos ʼn storie met stories binne in en bakdraaie om seker te maak dat almal weet van wie daar gepraat word en wat van die persoon se ouers, broers, susters, niggies, neefs, plaas, tuinjong, voertuie deur die jare, onderwysers en hulle manewales, ou For en juf so-en-so wat met so-en-so al in matriek gevry het, selfs “Kaffertjie Rooiwal” en ʼn lied of twee wat Adriaan bygesleep het “Ek steek my sak vol sikkerrette..” ens, ens, geword het. Met ʼn kwinkslag aan die einde wat selfs ons “aangenaaide lappe” nevvermaaind die totaal oningeligdes, moeilik vind om in humor te vertolk – stories oor ervaringsvelde, plaaslike mense, politiek, mooiwees en lelik wees, onsuksesvolle selfmoordpogings, ertjies eet of nie eet nie en wat dies meer. ʼn Voorbeeld:
Arno het ʼn halfuur lank gestreef om tussendeur ʼn storie van so 50 woorde oor dié ertjie-etery te vertel. Ek erken ek verstaan dit nog nie, maar man, vrou en muis, selfs die totties buite in die droeë doringboom wat Elrien daar aangesleep het, het histeries verslap en gesit staan en lag. Nog ʼn uitdrukking waaraan jy beter gewoond moet raak. “Gesit staan en lê…”.
Maar; ek moet maar bybly en lag en lag, want hier sien ek in die vertellery die mense agter die prentjie. En dis in sulke mense se hande wat ek met groot plesier my vrou laat (ook maar net vir ʼn dag of wat, want ek was gelukkig gewaarsku deur my “spaai”, oor kasterolie in my drank om my te “confine to barracks”). Ek wil nie uitsonder nie, maar so ʼn verwysinkie of twee na Hannelien en haar maats wat in 1959 in st 6 in GHS saamgekom het, sal seker nie onvanpas wees nie:
Koos Koek – uiteindelik sien ek die jong, aantreklike rugbyspelertjie – wel min of meer, neem ʼn haar hier en ʼn paar pond daar;
Adriaan Niewoudt – ek sien ook die mens agter die ondernemende seun wat by koshuisvensters uitgeklim het om kwepers te “oes” en uit te deel;
Gert Sarrisam – die man van “As murasies kon praat” – seker die mooiste naam vir ʼn boek wat ek al teengekom het;
Beursiebek – darem nie so erg soos die kinders dit gemaak het nie. Gelukkig beteken dit net eenvoudig dat hy op die regte tyd ʼn “zip” kan insit;
Kalfie – die lang man met die mooi skaduwee en die gat in die grond om hom kort genoeg te maak om in die foto te pas;
Ole Bulow Pederson – die sagte man van Alexanderbaai en Garies en Denemarke wie se Afrikaans so wonderlik bewaar gebly het;
Johnny “Vetkoek” Pool – te verstane was daar seker ʼn besondere aanvoeling vir koeke van enige aard onder mense en koshuiskinners wat dit nie te gereeld gesmaak het nie en dus maklik daarmee kon vereenselwig en sulke byname kon aanvaar; Hannelien – wat na 40 jaar nogsteeds weier om my haar bynaam te gee, maar darem die mooiste (al) meisie van die 1959-inname by die re-unie was! Dankie manne!
En die vrouens, moenie die vrouens vergeet nie. Noudie dag, Moedersdag; en as onbevooroordeelde, objektiewe en onaf-hanklike waarnemer kan ek sien hoe die vrouens oor die jare heen – netsoos vir my – ook maar moeder moes wees vir hierdie stoere manne. “Mooie meisies, fraaie meisies…..”
Aan almal wat daar was – dankie dat julle die naweek vir ons ʼn groot affêre gemaak het; wat kan ek sê, behalwe om saam met almal weer te kon sing, net soos Gert herhaal het: “Wat ʼn vriend het ons in Jesus….” Julle het vir my op 67 ʼn nuwe wêredl gewys. ʼn Wêreld wat ek altyd sal bewaar en nooit vergeet nie.
Deur André Strydom, Roodepoort
Ons reis met die MSC Sinfonia
Ons Namakwalandse boere breek maar min weg vir ‘n vakansie, want jou voortbestaan wentel om jou boerdery. My vrou en familie weet ook dat hul timing reg moet wees as hulle my wil oorhaal vir ‘n “wegbreek”. Soms konkel hulle agteraf ‘n vakansie en wag net vir die regte oomblik met die hoop dat ek in die yster sal trap.
Terwyl ons tee drink, sê my skoonsuster, Sally, uit die bloute: “Het julle die advertensie in die nuutste Huisgenoot gesien?” Ons koppe draai na haar en my vrou sê: “Vertel – jy maak ons nou nuuskierig.” “Hulle adverteer ‘n bootreis vanaf Durban na die Portugese eilande.” Ek drink rustig my tee, want ek het klaar belangstelling verloor. Sy borduur verder: “As een couple betaal jy die volle bedrag, maar as ‘n tweede couple die kajuit deel, betaal hulle niks. Is dit nie wonderlik nie? Dan deel julle die bedrag – dis ‘n goedkoop vakansie.” Sy draai haar kop in my rigting. “Gert, kom ons gaan almal…..wat sê jy?” Ek verstik amper in my tee. My vriend, Renier, en sy vrou, Marlene, kuier by ons en terwyl ek sukkel om te sluk, sê hy: “Met my en Marlene is dit okay.” Almal se oë is nou op my gerig en ek sien my vrou se opgewonde gesig en ek raak week. “Dis net vir ‘n jollie naweek saam met Kurt Darren,” sê een en in ‘n onbewaakte oomblik knik ek my kop. “Hierop moet ons drink,” sê een en lig sy koppie. Ek besef dadelik hulle het my met ‘n slap riem gevang, maar die gedagte dat ek en my vrou daardie week 41 jaar saam is, regverdig die roekelose besluit. Dis asof my besluit deurslaggewend was en ‘n paar minute later word my ander broer en susters almal gebel en opgekommandeer vir die seevaart, want ons moet almal saamgaan.
Die volgende paar maande word daar opgewonde oor en weer oor die bootreis gesels, want van ons nege broers en susters kan net twee nie gaan nie. Saam met Renier en Marlene is ons twaalf stuks. Ek sluit my af, maar ek kan nie help om terug te dink aan my laaste bootreis meer as dertig jaar gelede nie. Ek het saam met wyle oom Erasmus van Wyk gaan snoek vang by Hondeklipbaai. Ons het vroeg die oggend met een van die kreefskuite uitgevaar en daardie dag het ek so seesiek geword, dat daar pal ‘n paar hans seevoëls om my gedraai het met die hoop ek gooi vir hulle nog kossies uit. Skielik het die skipper geskree: “Lyne!” Ek het my snoek se nek gebreek en verbaas vir die man langs my gevra: “Wat gaan aan? “ “Kan Meneer nie sien die see tel op nie?”
Teleurgesteld het ek my lyn opgerol en gevoel hoe die boot begin rol. “Die mis is besig om toe te trek en kyk daardie ‘wit perde’ op die horison,” het oom Erasmus opgemerk. Ek kon nie help om die kommer in die ouer visserman se stem waar te neem nie. Ons twee buurmanne het bekommerd na mekaar gekyk toe die sleepmis soos ‘n groot kombers om ons toevou. Skielik was die vangs nie meer belangrik nie. “Die wind raak al sterker”, het ‘n ou visserman geskree, terwyl hy sukkel om op die wiegende boot sy snoek te vlek. Ons het later almal soos verlore skaap op die dek saamgedrom, want die mis was nou so dik, dat ons niks om ons kon sien nie. Onder elkeen se neus het ‘n paar lastige druppels water gehang, terwyl die klein dieselmasjien sukkel om vir Diana voort te dryf.
“Hoe weet Jackman ons is op koers?” het ek later bekommerd gevra. Ek het aan my vrou en klein kindertjies by die huis gedink wat nog vanoggend in droomland was toe ek vieruur daar weg is. “Hy’s ‘n ou skipper en hy kyk op sy kompas,” het oom Erasmus my probeer kalmeer. Dit was asof my skietgebede beantwoord word toe die mis effe lig en iemand skree: “Ek sien die ligtoring!” Toe ek vaste aarde onder my voel, het ek myself belowe: blou water, op jou vaar ek nie gou weer nie.
Gedagtig aan hierdie nare ondervinding het ek myself verwyt dat ek my so maklik laat vang het. Terwyl ons die “groot dae” langs die see uitgespan het, is daar rondom die vuur by Koringkorrel bespiegel wat daar op die boot vir ons wag. Bedags het die vrouens sommer na Boetiebaas-hulle toe gery en by hulle gaan kers opsteek, want hulle was die vorige jaar ook saam op die boot.
Een aand, terwyl ek ‘n kreef plunder, hoor ek een sê: “Ons moet vir ons baaibroeke kry, want daar’s glo twee swembaddens op die boot. Ons gaan met klein bootjies na die eiland toe ook.” Ek sluk amper ‘n kreefpoot heel in soos ek lag, want hoe gaan ons almal in baaikostuums lyk? Almal is al aan die verkeerde kant van 60.
Een oggend staan ek met ‘n slegte verkoue op en hoes die hele kamp wakker. “Jy moes nie gisteraand in die koue uitgegaan het nie,” verwyt my vrou my. Almal is bekommerd, want dis nog net drie weke voor ons vaar. Ek word gesmeer en gesalf met Herbaheat dat ek na toor ruik. Die verkoue is later beter, maar ek hoes sonder ophou. Saans as ek te lui is om hout te gaan haal, gee ek net so ‘n paar diep hoese, dan hoor ek een sê: “Hoor daardie bors! Jy staan nie vanaand op om te gaan hout haal nie, want die wind is te koud op jou bors.” Ek is soos ‘n seuntjie bederf, want by ons crew moes nie ‘n fout kom nie.
Die aand voor ons vertrek, sê my vrou: “Jy moet môre op Vredendal vir jou ‘n swembroek koop.” “’n Swembroek?! Wat het van my swembroek geword wat ek op honeymoon gedra het?” vra ek stout. “Is jy laf?” en haar oë rus op my boepie. “Bring dat ek hom aanpas,” treiter ek haar. Sy grawe in my kas en kom met die verbleikte blou dingetjie te voorskyn. Ek skud myself moeisaam in paaiemente in. Toe ek die laaste entjie na my naeltjie inbeur, is ek skoon kortasem. My oë dop om en my vrou giggel. “Kyk na my fris knoppie,” sê ek verspot. “Newwermaaind jou knoppie, waar’s die broek se toutjies? Hulle sal nooit bymekaar uitkom nie,” en sy begin hardop lag. “Lag jy vir my of met my?” vra ek knorrig in my eer gekrenk. “Pak hom in, ek gaan nie ‘n nuwe een koop nie.” “Jy gaan ‘n bespotting wees …. ek sê maar net.” “’n Bespotting? Hoe dink jy gaan julle spul ou vrouens in baaikostuums lyk?” kap ek terug.
Vyfuur die oggend val ons in die pad. Terwyl my vrou die hekke oopmaak, kyk ek in die motorligte na haar mooi lyf vir haar jare. Hoe gaan sy na al die jare in ‘n baaikostuum lyk? Half agt laai ek haar op Vredendal by Christine se haarsalon af. Terwyl ek vir haar wag, dink ek aan ons gereelde besoeke by Christine as ons Kaap toe ry. Hoe belangrik is dit nie vir ‘n vrou om goed te voel nie! Ek gun gaan deesdae alles, want desjare, toe ons kinders grootgemaak het, was hulle die belangrikste en het die boervrouens hulself afgeskeep.
Sy kom met ‘n skewe koppie uitgestap – elke haartjie op sy plek. “Nou’s jy reg vir die Sinfonia,” spot ek. “Ek moet nog by Truworths gaan kyk vir ‘n baaikostuum,” sê sy. “Is jy ernstig?” vra ek. “Wil jy hê ek moet kaal swem?” vra sy sinies. “Ok, kry vir jou die mooiste, beste – ek sal betaal,” sê ek braaf. “Jy moet kom kyk as ek aanpas,” vra sy dankbaar vir my buigsaamheid. “Meneer kan maar ingaan,” sê die jong dametjie ‘n rukkie later. Ek bekyk haar op en af en dink onwillekeurig terug aan haar jong, ferm lyf van ons jongdae. “Hoe lyk dit?” vra sy bekommerd toe ek effe te lank huiwer. “Ek wil jou bene ook sien.” “Moenie laf wees nie, ek gaan nie my bene wys nie. Ek draai ‘n sarong om my middellyf.” “Vat dit maar, Ma, ek dink nie ‘n tweestuk sal jou meer pas nie.” By die betaalpunt rek my oë, want byna ‘n halwe dorperlam word ge-offer.
“Het jy al ons naarwordpilletjies gekoop?” Sy knik. Toe ons in die bakkie klim, sê sy: “Ons moet noual begin drink.” Die sonnetjie het sy laaste strale teen Tafelberg gegooi toe ons Kaapfontein binnery. Die aand voor die groot reis trek ons almal opgewonde saam om ‘n vleisie te braai. Ons vier mans kry elkeen ‘n grys seevaarderskep met ‘n rooi anker, asook sokkies met ‘n ankertjie op. Aan tafel kyk ek die vrouens deur. Hulle is almal opgedollie en daar’s ‘n paar brunette, ‘n swartkop, een met highlights in die hare, maar nie ‘n enkele gryskop te bespeur nie.
Vrydagoggend vroeg, toe die Kaapse hoenders nog op hul steiers sit, spoed ons op die R300 na die internasionale lughawe. Op die lughawe drom ons saam. Oral word groot reistasse op wieletjies gesleep. My oë dwaal .. ek soek die manne met die keppe. Ons crew kry later mekaar. Die opgewondenheid kook. Ons boek in. Buite op die aanloopbaan staan British Airways vir ons en wag. Oral merk ons passasiers met Huisgenootsakke op. Ons gooi ‘n warm glimlag vir mekaar.
Terwyl ons deurstap, fluister ek: “Dis almal bootmanne.” Buite waai ‘n paar koue miswolkies verby. Sus Marie stap vanoggend met ‘n nuwe tred. Die linkerbeen swik so effe soos ‘n senter wat ‘n binnegaping wil vat en daar word net so liggies op die kierie gedruk. Byna laaste stap ons span tussen sittende passasiers deur. “Ek is Piet Retief en ek sal hierdie boerevolk na Umgungunglovo lei”, sê ek hard. Almal lag.
Ons gespe ons vas, die Engelse ystervoël gaan maak ‘n draai en toe trek die kaptein die kontrole oop. Ek sit by die venster en terwyl die enjin brul en ons spoed optel, vat my gedagtes my ver terug na my kinderjare. My oë rus op die vinnigbewegende vlerk en ek dink onwillekeurig hoe ons kinders nog ‘n entjie agter Pa se eselkar vasgehou en saamgedraf het tot ons beentjies moeg geraak het.
Ek skrik uit my mymering toe die vliegtuig se neus lig en daar kom lê ‘n hol kol op my maag. Onder flits die wingerdboorde verby. Die groot damme water blink onder ons. Ek wens net vir een dam vars water in ons dorre wêreld waar my Bolandse vrou al die jare moet bly. Hoe sal ek haar nie bederf nie? Maar hulle is met so min tevrede.
Dit word stil rondom my. Sus Marie is lankal in droomland. Haar valstande het vorentoe geskuif. Die ander vrouens sit kiertsregop soos hase en slaap, want die haartjies moet tog nie aanstoot kry nie. Ek skrik uit my drome wakker toe die miswolke soos ‘n groot wit kombers oor die landskap getrek word. Dit lyk soos ‘n feetjiewêreld. Almal raak nugter wakker toe die kaptein ons landing naby Durban aankondig. Die groen landskap en wuiwende suikerplantasies is duidelik sigbaar, maar dis die nuwe Kingsmead Stadion wat my oog vang.
Op die lughawe groet ons vir broer Koos en sy vrou uit Bobbejaansberg. Elkeen swaai sy Huisgenootsakkie oor skouer en klim die bussie wat ons hawe toe vat. Ons jil en gesels soos opgewonde skoolkinders, want ons kan nie wag om die boot te klim nie. Toe ons weer sien, toe lê die MSC Sinfonia in al haar majesteit voor ons. Ons bagasie word gelaai en my vrou se tas lyk verdag. Sy word gevra om dit oop te maak. “Wat soek julle?” vra sy met ‘n frons tussen die oë. “Dame, dit lyk of daar drank in u bagasie is.” Sally lag. “Jy wat nie eers drink nie, word vir drank deursoek!” Dit blyk toe dat ‘n boek bo in die tas op die skerm na ‘n boks wyn lyk.
In die grote saal bondel ons bootvriende saam. Sus Betta breek weg en soek ‘n eetding. Oorkant ons sit twee swaargewigte met ‘n sak biltong en droë wors op hul skoot en hul kakebene roer aanmekaar. Terwyl almal wag, glip ek uit en gaan besigtig ons vaartuig. Ek tree haar af en na 350 meter is ek al kortasem … glo net so lank soos die Titanic. By die sykant van die romp is hulle druk besig om tonne kosvoorraad in te skeep. Julle sal nog moet gaan haal, want ons eet soos Mopaniewurms, praat ek met myself.
Ons wag, want daar het reeds ‘n lang tou gevorm. Die koppe draai toe Kurt Darren en kleine Dunay by ons verbystap. “Ek wonder wat hy vir my handtekening sal betaal,” fluister ek stuitig vir my vrou. Eindelik, na wat soos ‘n ewigheid gevoel het, is dit ons beurt. Sus Marie het haar eie ry langs ons, want sy skuif van stoel tot stoel vorentoe. Ons paspoorte word ge-scan en ons gaan aan boord.
Ons koffers staan reeds voor ons kajuite. Elkeen ondersoek sy nessie en dit lyk heel gerieflik. Ons gaan soek die eetplek. In die hysbak sien jy jouself lewensgroot, want die spieëls weerkaats ‘n paar gesigte van jouself. Op die elfde dek is die grootste kuierplek. Dis warm en bedompig. Voor die kroeg staan reeds ‘n paar dors manne. Ons ondersoek alle eetplekke. Terwyl ons in ‘n lange tou staan, dink ek weer aan my koshuisdae op Garies meer as vyftig jaar gelede.
Rondom half drie blaas daar skielik ‘n moerse toeter. Ek skrik my gat af toe my bord amper uit my hande val. Dit klink soos iemand wat op ‘n reuse bamboes blaas. Die masjiene onder ons grom en stadig begin die Sinfonia beweeg. “Hier gaat ons!”, skree een. Ons laai ons borde vol en ek verwonder my aan die swartkop mannetjies met hul netjiese wit baadjies en swart broeke wat met die hoë stapels borde bokant hul skouers loop. Ons eet rustig en min het ek geweet dat dit die laaste goeie bord kos was wat my vrou op die boot sou eet.
Ons ontspan op die boonste dek en nou wieg ons heen-en-weer. “Kyk, dis klein wit vissies wat vlieg!” skree ek. “Dis voëltjies, man.” Ek stry. “Jy ken nie ‘n voël nie, man,” sê broer Koos. “Al voël wat jy ken, is ‘n hoender.” “Vat julle maar die wen,” sê ek afgehaal. By die kroeg staan die bittereinders……hulle kuier en gesels, want hierdie naweek op die Sinfonia moenie vergeet word nie.
In die swembaddens baljaar die jongspan. Op die kant van die dek lê ronde oompies en tannies uitgestrek op hul dekstoele in die son en baai. Die manne voor die kroeg lig hulle glasies vrolik. Die vakansie tel nou stoom op. Ons gesels en jil onder mekaar. Broer Koos se kamera is nie ‘n oomblik stil nie. So ‘n vakansie sal ons broers en susters nie gou weer meemaak nie.
Ek kyk nou na die windbranders in die verte en sê: “Dis hoekom die boot so tekere gaan .. die see is omge-ellie.” My vrou word al stiller. “Ons moet tog ons pille gereeld drink,” sê Sally en gooi vir ons elkeen ‘n paar in die mond. “Moet hulle nie kou nie,” word ons vermaan. “Lyk nie hulle help vir my nie,” sê my vrou en staan op. “Is jy naar?” vra ek bekommerd. Sy knik haar kop en stap onvas badkamer toe. ‘n Frons kom sit tussen my oë. “Dis nou jammer .. ek het so gehoop sy geniet die vakansie,” sê ek teleurgesteld.
Oor die luidspreker kom ‘n aankondiging: alle passasiers moet op die dek aantree vir ‘n dril. Reddingsgordels word aan almal uitgedeel en ons word geleer wat om te doen sou die boot in die moeilikheid raak. “Hy moenie neuk nie,” sê ek terwyl ons die oranje besigheid vasgespe. Ek toets die fluitjie en wens ek het dit gehad toe ek as kind skaap opgepas het.
Die aand trek ons ons kisklere aan om in die restaurant te gaan eet. Hestelle trek nie eens aan nie en bly net in ‘n bondeltjie lê. Die nag, terwyl die boot voortstoom, is sy kort-kort badkamer toe. Sy voel goor en ek kry haar innig jammer. Saterdag-oggend is die Portugese eiland in sig. Kort-kort vertrek ‘n bootjie met passasiers na die eiland. Ons besluit om eers middag te gaan, want dis glo baie warm op die eiland. Toe dit ons beurt is, gaan groet ek my vrou in die kajuit. “Hoe voel jy nou?” vra ek bekommerd. “Hulle kan my maar oorboord gooi,” prewel sy floutjies. Gelukkig het broer Sarel vir haar setpille by die hospitaal gaan haal voor ons met die bootjie vertrek. Ek haas my om in die vertrekkende ry in te val. Ons los drie van ons siek maats agter – broer Koos sal na hulle omsien. Jongmanne help ons op en ek skree: “Captain, maak die voorperde los!” Hy kyk my met skaapoë aan en sy wenkbroue lig – ek sweer hy het nog nooit ‘n perd gesien nie. Ons twintig passasiers klou verbete vas, want dit gaan rof. Sus Marie druk haar wit hoed van oumagrootjie vas. Dis voor opgeslaan en langs die kant pryk ‘n groot pienk roos.
Ek loer na die swaargewig oorkant my en wonder of die reddingsbaadjie hom sal bo hou sou hier ‘n foutjie kom. Die eiland kom al nader. Die vrouens gil toe die bootjie se neus die sandbank tref. ‘n Paar jong gespierde manne help eers die vrouens af. “Dan’s dit ‘n paar mooi mans,” fluister sus Marie kwylend. Twee gryp haar met kierie en al en dra haar tot op droë grond. Opgewonde gooi sy sommer haar kierie weg en sê: “Dit was nou lekker!”
Ons dwaal tussen die stalletjies rond. Dis bedompig en koue biere word uit koelhouers gehaal. Ons drie mans knak elkeen ons eerste bier, want hier sal ons seker nie weer kom nie. Terwyl ons later onder ‘n afdak sit en eet, ons moet ons die vriendelike Bennie Masinga. Hulle is maar arm en werk is skaars, vertel hy ons. Gulsig eet hy aan die kos wat ons hom gee. Toe ons hom ‘n geldjie gee, ontvang hy dit met bakhande en sê: “Dankie, my oubaas!” Verbaas kyk ons na mekaar. Ons groet en sê: “Mag jy die volgende president van Mosambiek word!” Hy glimlag met wit tande.
Almal koop goedjies en wag vir die eerste boot wat vertrek. Ek draai om en gaan snuffel nog rond. Ek soek vir my vrou en kleinkinders presentjies en laat hulle mooi toedraai, want op die bootjie gaan dit rof. Ek besef later ek is die enigste van ons span wat agtergebly het. Ek loer na die son en kyk na die honderde mense wat in die tou staan en wag. As ek agter moet inval, sal dit baie laat word.
Met die presentjies in ‘n sakkie stap ek onverstoord strandlangs en sê vir myself, ‘n boer maak ‘n plan. Regoor die vertrekkende bootjie gryp ek ‘n reddingsbaadjie en iemand skree: “Spring, omie!” Ek was tot onlangs ‘n perderuiter en wip my oor, terwyl twee pare sterk arms my vang. Ek beland tussen die bene van ‘n jong dame. “Oppas, oom!” sê sy vriendelik. Sy sit oorkant my, maar sy is breed geheup. Ek staan op met die reddingsbaadjie in die een hand en die presentjies in die ander. Hulle stoot die bootjie die water in, terwyl ‘n dwarsgolf ons tref. Ek verloor my balans en val op haar breë boesem. Sy vang my vas en amper versmoor sy my. “Jammer,” sê ek verleë. “Jy sal nie gou weer so ‘n man in jou arms hou nie!” probeer ek ‘n grappie maak. Sy bloos, terwyl ‘n paar sandkorrels in die poortjie verdwyn. “Dis all right, oom,” sê sy skamerig.
Die kaptein trek die refs oop, maar ons word deur die ander bote verbygesteek. “Ons is oorlaai,” sê hy later moedeloos toe ons die Sinfonia nader. Hy gooi ‘n wye draai en pyl op die aflaaipunt af. Hy misgis hom en tref die kant met ‘n harde slag. My maatjie gil en val twee van ons plat. Gesmoord skree ek van onder haar: “Kaptein, wat de hel maak jy?” Die boot het baie water geskep. “Sorry for the landing,” sê hy verskonend. Ons word met ywerige hande afgehelp en bondel die laaste hysbak in. Laaste glip ‘n jongman met ‘n deurmekaar kuif in. “Kom, Kurt, ek wil saam met jou sing!” sê ek onder gelag. “Dis reg so, my omie,” sê Kurt Darren met ‘n glimlag. Toe die hysbak op die agste vloer oopskuif, sê ek: “Voorspoed vir die aand, Kurt!” “Dankie, my omie! Kom sing vanaand saam.”
Ek soek my maats op en vroulief is ook beter. Sy is bly oor die geskenkies. Ons eet vanaand vroeg, want Pieter Koen en Kurt Darren tree op. Toe ons terugkom, sit die mense reeds bankvas en geen stoel is beskikbaar nie. Die meeste van ons gaan sit op die muurtjie langs die swembad. Terwyl die musiek oorverdowend bler, soek ek en Renier vir ons stoele. Tussen hordes van mense kry ons later twee stoele. Dis nog vier ure voor die show, maar niemand verlaat sy stoel nie. Ek stap rond en slaan liggies op my sak en sê: “Tien dollar vir ‘n stoel!” Hulle kyk my vyandig aan. “Twintig dollar?” Geen raksie. “Hoe lyk dit met vyftig dollar?” Die wenkbroue lig. ‘n Man staan op en vra: “Wanneer betaal jy?” “Tagtig dollar vir twee stoele!” en ek kyk na sy vrou. Hy druk haar aan. “Jy’s laf, ek gaan nie heelaand staan nie.” Almal lag en ek en Renier gaan sit op die twaalfde dek. Sy vrou, Marlene, kry by ‘n vriendin nog ‘n stoel. In die skemerte sluip iemand agter op die verhoog rond. Ek herken die keppie en stamp vir Renier aan toe ek sien Sarel gaps twee stoele. Alle aandag is egter voor op die verhoog waar ‘n lot jongmense in flikkerende ligte dans.
Die aand is besig om stoom op te tel. Voor die kroeg dans die jongmanne, ander hang aan mekaar, ander hou hul glasies in die lug. Die vrolikheid is aansteeklik. Onder die harde gedoef-doef beur ek my pad deur die menigte om vir vroulief in die cabin te gaan haal. Sy’s nog bleek, maar musiek is in haar bloed en ons almal maak ons tuis reg onder die verhoog. Ek gaan soek vir Renier en Marlene en met stoele in ons hand beur ons deur die lot mense wat bankvas sit. Toe ons tussen ons maats gaan sit, skud ek my kop, want die musiek is oorverdowend vir my gevoelige oor.
My oë val op drie tantes voor ons. Al drie is breed om die heupe. “Bliksem,” sê Renier. “As die Stormers hulle vir ‘n voorry kan kry!” Skielik word die musiek gedemp. Die seremoniemeester, Stephan Cloete, verwelkom almal en stel vir Kurt Darren aan die gehoor voor. Die skare raak mal toe Kurt die mike vat en lostrek. Voor die tantes spring ‘n vrou op en sing met haar hande in die lug. Sy word deur die middelste tante afgepluk. “Jy staan reg voor ons!” Hulle gluur mekaar aan. Die vrou reageer briesend: “Luister dame, ek sit al van vieruur vanmiddag en wag. Ek het gekom om my aand te geniet.” Die ligte op die verhoog flikker, terwyl Kurt almal meevoer. Onder die verhoog staan ‘n vrou ook op ‘n stoel. Sy het wit klere aan, maar haar onderklere skyn helder deur. Die hele lot onder die verhoog staan en wieg terwyl hulle met glasies in die hand uit volle bors sing. Die kroegmane is moedeloos, want van alle kante word bestellings geskree, terwyl daar ongeduldig op die toonbank geslaan word. My bek hang oop, want voor my speel ‘n fliek af wat al meer interessant raak.
Skielik verskyn die kaptein op die verhoog met ‘n papiersak in sy hand. Die musiek word uitgedoof. “Dankie tog,” sug ek. “In die sak is my kapteinspet, Kurt. Ek leen dit vir jou vir vyf minute!” Kurt sit die wit kep op en trek weg met “Kaptein, span die seile!”. Pandemonium bars los en ‘n meisie in swart dans met haar wilgerlatlyfie skuins langs ons. Sy wieg haar lyfie op die maat van die musiek en sing uit volle bors met haar bekkie wawyd oop soos ‘n ma-eend wat haar kleintjies roep. Agter haar sit haar maatjie en voetjie klop – die een voet in gips. Selfs sus Dina staan teen die pilaar en wikkel haar lyfie. Verbaas sien ek dat die voorry van die Stormers ook op hul voete is en hande klap. Hulle blok ons af. Ons frons, maar ek skree vir my maats: “Toemaar, hulle kan nie lank staan nie.” Hulle probeer hard om ook te wikkel, maar elke tien sekondes is daar ‘n klein beweginkie te bespeur tussen die walle van die vaskopstut. As sy haar arms laat sak, is daar ‘n diep kuiltjie in haar elmboog …. lyk jy’t ‘n aartappel daar uitgesuig. Soos een man sak die voorry moeg op hulle stoele neer. Hulle bring ‘n papiersak te voorskyn en die kakebene roer. ‘n Vrou skuins langs my gee haar slapende kind vir haar man aan, spring op haar stoel en gaan soos ‘n uitgelate kind tekere. Ons skud ons kop in ongeloof. Ek beleef vir die eerste in my lewe massahisterie. Skuins na twaalf is die show verby en tot na drie-uur kon ek nog die doef-doef hoor soos die bittereinders partytjie hou. Die kroegbaas se geldlaai kla nie.
Die volgende oggend stap ek by ‘n paar jongmanne verby. Elkeen het ‘n donkerbril op. “Manne, die son is vanoggend ‘n bietjie skerp, né?” spot ek. Hulle lag. “Omie, moenie so hard praat nie!” Ek glimlag. “Die musiek was net te hard vir ons oumense,” kla ek. “Van watse musiek praat oom?” “Maar die musiek van Kurt Darren,” sê ek verbaas. “Was hy dan daar, oom?” Ek lag en skud my kop – hulle was op ‘n nog beter plek.
Later die oggend gaan ek by ‘n openbare toilet langs die kroeg in. Ek hoor ‘n paar jongmanne gesels en een sê: “Op hierdie boot drink ek al my geld uit.” “Dis niks, ou pel, leen by my, want ons sal nie weer gou boot ry nie.” Die ander lag. “Dis vandag ons laaste dag … vandag maak ons alle honde los wat nog vas staan.” Ek stap later by hulle verby en sê: “Geniet dit, boys, maar onthou, agter hierdie lekker is daar nóg ‘n lekker.” Hulle kyk my verbaas aan, maar ek verduidelik nie wat ek bedoel nie.
Dis ons laaste dag en my vrou voel nog steeds ellendig. Ek gaan soek die skeepsdokter. Ek is ‘n bol senuwees, want ek sukkel om my beste Engels bymekaar te maak. Skielik staan ek voor hom. Ek stotter ….kan nie ‘n Engelse woord uitkry nie. Ek wys na my borste soos ‘n dowe mens ‘n vrou beskryf. Hy knik begrypend. Ek probeer verder verduidelik, maar ons Namakwalanders se hande is gewoonlik te vinnig en jou sukkelende bek ver vooruit. Ek haak vas en demonstreer deur te maak of ek braak. Hy spring eenkant toe, want hy dink dis rerig so. Hy knik weer en sê: “Your wife must come for the injection.” Ek stap natgesweet die gang af om haar te gaan haal en kry vir Oubaas van Sewende Laan wat ook met sy vrou op pad dokter toe is.
Sondagaand gaan kyk ons ‘n show en later is daar ‘n towenaar wat ons met sy toertjies vermaak. Hy boei ‘n jong meisie, sit haar in ‘n staalhok en sluit haar met kettings toe. Hy steek staalpenne kruis en dwars deur en waai ‘n geel doekie. Hy spring op die hok en skud homself in ‘n geel sloop en siedaar – die meisie staan buite en hy sit geboei in die hok. Almal klap hande.
Ons beweeg uit na ‘n ander lokaal waar Getroud met Rugby aan die gang is. ‘n Paar manne word na die verhogie gelei, waarvan broer Sarel een is. Daar word vrae aan hulle gevra en so word hulle uitgedun tot net drie finaliste oorbly en Sarel is een van hulle. Die seremoniemeester sê later: “Die een wat die meeste bra’s uit die gehoor kry, is vanaand Mnr.Sinfonia!” Vrouens maak ywerig hul straps los en gooi. Die gehoor raak mal, want die gryskop man wen met die meeste bra’s voor sy voete! Terwyl die kamera’s flits, word broer Sarel as Mnr. Sinfonia gekroon, tot groot vermaak van veral sy familie.
Dis al laatnag en die vrouens moet pak, want ons word oor die mikrofoon gewaarsku dat die tasse môre-oggend twee-uur in die gang moet staan om gelaai te word. Moeg, maar tevrede kruip ons in.
Kort na brekfis vaar ons Durban se hawe in. Die meeste passasiers is bo-op die elfde dek. Ons monde hang oop toe die kolos van ‘n passasiersboot ook die hawe binnevaar – die Queen Mary 2 vaar stadig by ons verby met haar vyfduisend passasiers aan boord. Sy is seker twee keer so groot soos die Sinfonia. Ons stap later die hysbak binne en besef ons vakansie het tot ‘n einde gekom. Ek loer na my bleek vrou en ek fluister vir haar: “Toemaar, ons is netnou op land.”
Op die lughawe eet ons vir oulaas saam. Dit word tyd om te groet, want broer Koos-hulle vat ‘n ander vlug. Hulle vlug word aangekondig en ons neem afskeid. “Ek sal die foto van ons almal met die Sinfonia op die agtergrond vir julle aanstuur,” is sy laaste woorde aan ons.
Toe ons loop om te gaan inboek, kom sus Liesbet vir oulaas met twee hande vol draairoomyse aangestap. Alles is besig om te smelt van die warmte en tap teen haar arms af, terwyl sy aan almal gelyktydig probeer lek. Toe sy myne probeer aangee, val die roomys voor my voete op die grond, terwyl Liesbet met haar bene gekruis staan en lag dat die personeel saamlag.
Wat ‘n herinnering! Ons sal eendag op die ouetehuis se stoep daaraan herkou.
Ons naweek in die Boesmanland
Ons skoonseun en dogter bly op Aasvoëlkop, Loeriesfontein se kant van Kliprand, maar het ook grond in die Boesmanland. Oor die afgelope jare is my baie vertel van Boesmanland en sy uitgerekte droogtes. Ons was nog nooit daar nie, maar ek het hulle belowe dat ons sal gaan kuier as hulle daar goed reën kry. Die afgelope weke het algemene reëns daar geval en dit was tyd om ons belofte na te kom.
Ons het laat die Vrydagaand op Aasvoëlkop stilgehou. Ons opgewonde twee kleindogters het dadelik deurmekaar vertel van die sprinkane wat hulle veld opvreet …. en môre moet Oupa kom kyk hoe Pappa hulle vrekspuit. Ek het vir Tersia gekomplimenteer met haar mooi nuwe kombuis en verbeteringe wat hulle intussen aangebring het. Sy het glimlaggend haar kop geknik en onnodig verskoning gemaak: “Pa, julle moet net onthou, in die Boesmanland is daar niks. Daar’s nie ‘n telefoon of TV nie en die badwater word nog op die stoof warmgemaak. Saans as die krag uitgaan, is dit kerse opsteek.” “Toemaar, my kind, gelukkig ken ek nog slegter – trouens, ek ken alles en ons kan op enige plek aanpas,” het ek haar gerusgestel. “Flippie en ‘n span manne is die hele week besig om sprinkane te spuit, so Pa sal maar moet saamry as hulle veld toe gaan,” het sy verskonend gesê.
Die volgende oggend toe ons op pad is Boesmanland toe, dink ek selfsugtig oor my naweek se sport wat ek gaan mis. Dis die Protea wêreldbeker-game teen hulle aartsvyand, Indië, en die Super 15 rugby. Ons kleinkinders, Kyla en Tianna, se gebabbel op die agterkussing onderbreek my gedagtes. Ek kan mos aanpas, hoor ek my eie woorde. My oë dwaal oor die menigte kaiingklip en die uitgestrekte lowergroen grasvlaktes. Dis ‘n ander wêreld dié, sê ek vir myself en ek moet vinnig spoed verminder, want baie water het onlangs oor die pad gestroom.
Na byna 80km draai ons op ‘n smal paadjie af na hulle plaas. Dis net kaiingklip waar jy kyk. Dis ‘n droomplek vir die klipgooiers in die Kaap, dink ek by myself. Toe ons voor die outydse huisie stilhou, waarsku Tersia: “Oppas, hier’s baie duwweltjies.” Vier vriendelike skaaphonde verwelkom ons stertswaaiend. “Ons moet gaan sprinkane doodslaan,” sê ek later vir die kinders nadat ons afgepak het. Ons vat elkeen ‘n stok en vat koers veld toe met die honde agter ons aan. “Wat is hul name?” vra ek. “Vossie, Blessie, Kierie en Tara,” sê Kyla, die oudste. Ons loop by die kraal verby en die melkbokke skrik vir die honde. “Oupa, daardie voorste bok is Oortjies en die ene met die groot uier is Spene,” word ek aan die bokke voorgestel. Ons stap ‘n draai op soek na ‘n swerm sprinkane. Skielik wemel dit voor ons. “Dis rooibaadjies!” sê die vyfjarige Tianna. “Issie, dis nog bontbaadjies,” sê die agtjarige ousus ewe slim. Ons slaan hulle met stokke tot ons moeg is, toe sê Kyla: “Oupa, ons sal hulle nooit almal vrek kry nie, hulle is te vinnig vir ons. Pappa moet hulle kom doodspuit.” Ek gaan sit op ‘n groot klip en sê: “Vang hulle – Oupa wil hulle saamvat.” Terwyl ek die kriewelrige goed uit hul handjies vat en in my hempsakke steek, sê ek: “Oupa wil gaan boer met hulle.” Kyla kyk my verbaas aan en sê: “Hulle sal Oupa se veld alles opvreet!”
Ons stap later huis toe, want Flippie het intussen gekom. Voor die huis staan twee bakkies met hulle gifpompe op. Ons groet en Flippie waarsku my: “Pa moenie aan die bakkie vat nie, want oral is gifspatsels.” “Dit brand vreeslik, Oom” vertel sy buurman my. Voor middagete sê Flippie: “Pa, kom ons gaan sny spoor,” en hy laai sy geweer in. Ek vra nie vrae nie en dink aan die jakkalse wat hulle so baie skade aandoen. Na ongeveer ‘n kilometer sê hy: “Hier is nou ‘n swerm verby, maar dis ‘n klein swermpie.” Ek kyk verbaas na hom en vra: “Waaraan sien jy dit?” Hy wys na die grond voor ons. “Kyk, dit lyk of die pad gevee is.” Ek skud my kop en ons ry verder.
Nou is my oë ook voor in die pad en ons sien later dat sy wielspore van die oggend vir meer as 100m doodgevee is. “Hierdie swerm moet ons soek en spuit,” sê Flippie langs my. Hy kyk regs. “Daar trek hulle!” en hy draai sy bakkie tussen die driedoringbosse in. Ek kyk ook, maar sien niks. “Waar?” vra ek. “Sien Pa daardie bruin streep? Dis hulle.” Ek verbaas my vir hulle spoed en doelgerigtheid. Dit lyk of hulle met ‘n sesperde-sweep aangejaag word. Hy ry om die swerm en start die pomp. Kort-kort kyk hy op die GPS om die rigting te behou. Dit gaan rof, want dis oor kaiingklippe en driedoringbosse wat ons ry. “Ek moet versigtig wees vir ‘n papwiel, want al my spaarwiele is al pap,” sê hy terwyl hy vir ‘n groot driedoring weglê. Ek gril as die groot bos die bakkie van voor tot agter skraap. Ek dink terug aan my kinderjare toe oorle’ Pa ons eerste bakkie gekoop het en ons die deur net effe te hard toegeslaan het. Dan het hy altyd gesê: “Liebe jirre, jy slaan deur my siel!” Ek glimlag by die gedagte en skree: “Flippie, oppas vir die klip!” Hy glimlag en sê: “Pa, hierdie klippie is mos niks. Pa moes nou-die-dag by gewees het toe die jakkals voor my opgespring het.” “En toe?” vra ek nuuskierig. “Ek het hom met die bakkie ingejaag en vrekgetrap.” Ek skud my kop toe hy verder vertel: “Ek is deur twee kampdrade en my een wiel was later pap, maar ‘n jakkals los jy nie voor hy vrek is nie.”
Ons ry later huis toe en ek wonder wat van die krieket geword het en of Tendulkar nog staan. Skelmpies luister ek in my bakkie en hoor hy slaan ons aan flarde … dis 260 vir 1 en nog 10 boulbeurte oor. Ek sidder en sê vir myself: “Hulle kan 350 kry.”
Na middagete kom staan klein Tianna voor my en sê: “Oupa, ek wil haasbek wees. Sal Oupa my tandjie trek, asseblief?” Ek voel-voel haar ondertandjie en sit versigtig met my ou groot hande die garedraad met ‘n maswerk om. Kort-kort glip dit los, maar sy staan ewe braaf met ‘n breë glimlag voor my. Met my laaste poging voel ek die garedraad het ‘n stewige knoop gemaak. Ek gee ‘n vinnig plukkie en siedaar – die tandjie is uit. Die vreugde is groot toe sy die klein melktandjie in haar palm hou. “Nou moet jy vir Mamma vra om ‘n SMS na al die tandmuise van die Boesmaland te stuur, sodat jy ‘n geldjie van hulle kan kry! Of jy kom kuier vir ons, want ons muise is vol geld.”
Later die middag sê Flippie: “Kom ons vat Pa se bakkie en ons ry almal veld toe en kyk vir ‘n springbok.” Ek en vroulief kyk bekommerd na mekaar, want sy is heilig op haar bakkie. “Ek gee nie om om agterop te staan nie,” probeer ek skerm, gedagtig aan vanoggend se rowwe trippie. “My bakkie is vol gif en ek is bang vir die kinders,” gee hy die finale deurslag. So versigtig moontlik ry ek tussen die doringbosse deur, maar kort-kort gril my vrou en druk haar naels diep in my skouer in. Dis later deur spoelslote en oor kaiingklippe en haar naels kerf al dieper. Ek sit maar die radio aan en hoor hoe ons kolwers sukkel teen Indië.
“Hou stil, Pa!” sê Flippie skielik en maak die radio dood. Hy gooi die loop oor die bakkie se neus en lê aan. Ek fluister: “Dis te ver, Flippie,” want in die laagte is net ‘n dowwe geel dingetjie. Hy laat sak die geweer effe. “Ek moet toegee vir die wind wat dwars waai.” Ons hou asem op. Eindelik knyp hy af en die knaldemper laat die skoot soos ‘n windbuks klink. Flippie loer nog steeds deur die teleskoop. “Daar val hy!”. Ek kyk op die meter en kruie met die Hilux oor die klippe en tussen die driedoringbosse nader, terwyl ek met die een oor hoor dat SA nog 120 lopies kort van 87 balle. My teleurstelling word onderbreek deur Tianna se opgewonde uitroep. “Daar lê hy, Oupa! Pappa het hom doodgeskiet.”
Ek hou langs die bok stil en kyk op die meter terwyl ek ongelowig my kop skud – dit het oorgerol tot op 500 meter. Ek wens die skut geluk toe ons die uitgegroeide ram agter in die bak gooi. Die son is besig om water te trek toe ons langs die huis stilhou. Groot is my verbasing toe Chris Swanepoel sê: “Suid-Afrika kan nog hierdie kragmeting wen, maar dan kort ons ‘n paar grenshoue.”
Ons slag die bok af en die ligte wind dra Chris se opgewonde stem wat sê: “Dis Johan Botha wat ‘n sierlike ses oor middebaan moker.” Hy vra verlof by die nuusateljee om die spannende wedstryd te voltooi. Ek steek die vuurtjie aan, maar my moed gaan lê in my skoene toe hy sê: “Daar stap Johan Botha, maar hy het sy kant gebring.” Ek sit met my kop tussen my hande en sien nie die knetterende vuur raak nie. “Dis die laaste boulbeurt – ses balle en dertien lopies word benodig. Ons hou vir Petersen dop wat die eerste bal inwag. Dis ‘n ses!” Die skare van 50,000 is tjoepstil. Ek lig my kop weer op toe Chris uitroep: “Suid-Afrika wen hierdie naelbyt-kragmeting teen Indië!”
Dis of sy opgewonde woorde ‘n seël plaas op ‘n onvergeetlike naweek – ‘n naweek wat ek weer my grootwordjare as kind op ons wintersplaas beleef het. Dis asof hierdie eenvoud waarmee jy grootgeword het jou agtervolg en laat terugverlang na die sorgelose vreugde van kindwees.
Die wonder van die liefde
Toe ons die huweliksuitnodiging na die troue van Abrie van Niekerk en Chantelle kry, toe trek ons ‘n duidelike kring om die datum op die almanak. Eindelik breek Saterdag, 13 Augustus, aan en ons maak onsself aan die kant om in die pad te val. “Wat trek ‘n mens na ‘n plaastroue toe aan?” is my vrou se vraag. “So gemaklik moontlik,” is my antwoord, want buite waai ‘n warm oostewind.
Toe ons oor Folleminksberg ry, lê Naries se berg dofweg in die verte. Dis nog ‘n stywe stoot, want die troue is anderkant die berg. Ons draai slap links en vat Kamieskroon se pad. Toe ons Rooiberg-se-steilte klim, roer die oostewind die fluitjiesbos se blare. Ek sien dit skaars raak, want my gedagtes het die pad ver terug gevat.
Dis stil in die bakkie en ek herkou weer aan die verlede van meer as veertig jaar. Ek skrik uit my mymering toe my vrou skielik langs my praat. “Waaraan dink jy?” vra sy met ‘n vonkel in die oog. Ek stotter effe, want sy het my onkant betrap. “Ek het mos ook eens op ‘n tyd na dieselfde plaas gery om vir Ivan se suster te gaan kuier,” is my antwoord aan haar. “En toe?” treiter sy my stout. “Dit het nie uitgewerk nie,” is my koel antwoord. Ons oë ontmoet en ons weet óns was vir mekaar bedoel.
Toe ons die afdraaipad na Brakputs nader, val my oë op die nuwe naambordjie: “Betel”. Ek herkou die betekenis daarvan: “God het daar aan hom verskyn”. (Gen. 35:7). Wat ‘n pragtige naam. Toe ons die werf nader, sien ons die groot gestreepte tent. Ons bespiegel waar die troue gaan wees, want ‘n bordjie met ‘n vet pyltjie wys dan in ‘n suidelike rigting weg van die opstal af.
Daar staan baie voertuie en daar word oor-en-weer gegroet. Ons word hartlik verwelkom. Ek kyk op my horlosie …. dis amper twaalfuur. Ons vra nie vrae nie en sit rustig in die skaduwee, terwyl die oostewind die boomtoppe roer. Ons sien oral jongmense rondbeweeg….. hulle is bedrywig soos miere, want die horlosie tik die tyd af. ‘n Fris jongman in ‘n donker broek en wit hemp vang my oog. “Dis seker Abrie, die bruidegom”, fluister my vrou. “Ek weet nie,” sê ek onseker. “Hy was nóg kind nóg grootmens toe ek hom laas gesien het”, sê ek, terwyl my oë hom volg. Ek soek die sterk familietrekke van die Swart Isakke, maar besluit, hierdie generasie is al taamlik uitgebaster – ek sal weldra weet.
Die voertuie begin beweeg en ons klim die bult, terwyl ons wonder, waarheen nou? ‘n Afdraaipad lei ons op ‘n smal paadjie deur die veld na ‘n hoë rots wat hoog bo alles uittroon. Ons parkeer tussen die klippe en stap nader. Toe ons almal ons plekke op die wit stoele inneem, is die oorhangende rots nog meer indrukwekkend en ek sien ‘n klein verhogie voor ons. Links van ons beweeg die bye in en uit. Hulle is hard besig, want hulle voel aan dat die winter kort is en die oostewind is besig om hul kosvoorraad te bedreig. Heel voor sit vier jong manne eenders in hulle donker broeke en regoor hulle drie mooi jong meisies uitgevat in hulle strooimeisierokkies. Ek sê vir myself: “Mooi bly maar mooi.”
Die gaste loer op hulle horlosies …. dis al na 12, maar dit maak nie saak nie… tyd speel nie vandag ‘n rol nie. Almal gesels gedemp dat dit klink soos ‘n bynes wat goed rook gegee is. Ons wonder wanneer die bruidskar kom. Ek hou die veldpaadjie waarmee ons gekom het, dop. Skielik raak dit stil. Almal se koppe draai na regs. Sagte, verbaasde uitroepe word gehoor. Wat ek in ‘n oogwenk waarneem, ruk aan my binneste! “Sprokies-agtig – ons is in kabouterland!” fluister ek vir my vrou.
‘n Donkie word gelei en die leier stap tydsaam asof hy nog tyd wil wen. Die warm oostelug pla hom nie, want hierdie is vir hom ‘n kosbare oomblik. Nou is hulle skaars vyftig meter van die gehoor af. Almal staan eerbiedig op. Dis asof daar ‘n toneel uit ‘n feëverhaal voor ons afspeel. Soos ‘n prinses sit sy op die karretjie in haar wit bruidsgewaad. Dit herinner my aan die Bybelse prente van ouds.
Versigtig help haar vader haar af. Die blou skokbreker sak effe dieper toe sy haar wit skoentjie op die trappie neersit. Sy kom stadig, ingehaak aan haar trotse pa se arm, aangestap. Dirk Koperdraad, wat nou fier en regop voor die karretjie staan, se oë is vasgenael op die bruid wat hy moes bring. Op sy gesig is ‘n trotse glimlag van genoegdoening. Hy hou die stang styf vas en ek lees sy gedagtes: “My kleinbasie, ek het jou mooi nonnie vir jou gebring.” Tevrede draai hy vir Vaaltyn om en hulle kies koers af huis se kant toe. Hy het sy taak afgehandel.
Nou is ek doodseker wie’s die bruidegom toe hy by haar inhaak en haar pa ‘n handdruk gee. Hulle stap vorentoe met die gevolg wat weerskante van hulle plekke inneem. Die oomblik is gewyd. Kortliks verwelkom die baas van die plaas en vader van die bruidegom alle gaste wat die oostewind getrotseer en gekom het om die gelukkige oomblikke met hulle as familie te deel. Ivan slaan die Bybel oop en haal enkele verse aan uit Hooglied, wat digterlik en liries opklink in die gewyde atmosfeer.
Satan probeer die mooi oomblik bederf toe ‘n paar bye skielik ‘n seuntjie, wat daar naby op ‘n klip sit, takel. Sy pa, een van die strooijonkers, kom vinnig tot sy redding. So onverwags soos die aanval, is dit asof ‘n onsigbare Stem hulle bestraf en die seremonie ongesteurd voortgaan. Ons hou asem op, want ek ken ‘n kwaai bynes, maar niks gebeur verder nie.
Dis asof die woorde van Hooglied ons almal weer herinner aan die dae van ons jeug. Terwyl ek my beminde se hand styf vashou, kom die Pastoor nader en hy gaan oor tot die huweliksbevestiging. Ek buig oor na my vrou en fluister stout: “Hoekom is jy nie meer so gehoorsaam en onderdanig soos jy beloof het nie.” Sy sein vir my ‘n warm glimlag. Die ringe word ingesteek en die pasgetroude paartjie kyk diep in mekaar se oë. Ek drink elke oomblik in. Die geluk en vreugde staan vol in die blom toe die bruidegom sy mooi vroutjie op haar mond soen. Dis asof jy die teenwoordigheid van die Almagtige aanvoel. Ons as gaste verheug ons in hul vreugde. Mnr. en mev. Van Niekerk se huweliksboot is pas te water gelaat.
Ons ry stadig af huis toe vir die huweliksonthaal. Ek en my vrou bespreek die gebeure voor die groot rots. Ek skud my kop in ongeloof en sê: “Ek kan nie glo dat die bye so skielik opgehou het nie.” Voor ons alles kon oordink, is ons voor die groot tent. Onder ‘n boom hang die gastelys. Ons stap nader en steek blad vir hulle wat ons nog nie raakgeloop het nie.
By elke tafel is die gaste se sitplekke aangedui. Die bekers vrugtesap word omgestuur, want dis warm en kort-kort moet ons die lastige sweet afvee. Ons wag vir die bruidspaar, maar die fotograaf hou hulle besig. Nou gesels ons dat die byle huil! In die kostent word die maaltyd voorberei. Die geur van braaivleis hang tussen ons en maak ons watertand, maar die fotograaf is nog nie tevrede nie.
Eindelik is daar ‘n roering. Die twee verliefde jongmense stap rustig tussen die tafels deur, terwyl almal opstaan. Die bruidegom bedank sy ouers en in ‘n roerende toespraak seën hy hulle. Daar word ‘n traan of twee weggepink. Ons lig ons glasies sap en ek grinnik toe ‘n vrou uit die dwarste sê: “Ek is gewoond ons drink altyd ‘n dop, maar vandag is dit net seëninge!”
Later kom die voorgereg en ons skuif reg vir die hoofmaal. Soos koshuiskinders eet ons ons oor ‘n mik. Dis asof die kuier nou eers stoom optel. Niemand is haastig nie en dis asof ons die kuier in die tent nog ‘n bietjie wil uitrek, want die atmosfeer is hartlik en jy kan die liefde aanvoel.
Die bome het al lang skaduwees gegooi toe ons almal groet en traag koers kry huis toe. Langs pad herkou ons aan die dag se gebeure en ons besef ons was by ‘n huweliksfees wat ons nog lank sal bybly. “Ek dink dit was vir hulle as gesin ‘n wonderlike dag,” som my vrou die feesdag op. Ek knik instemmend en die woorde van oom Kortpiet Voges kom by my op wat sê: “Hulle is so gelukkig, hulle weet ok nie wat om met alle geluk te mááák nie
Witpiet, Ma se ou Hanskalkoen
Toe Pa-hulle op ‘n dag van hul kuiertrippie kom, was daar ‘n vaal boksie waarin ‘n paar gaatjies gesteek is agter op die bakkie. “Wat se langbekgoed is dit die?” het ek nuuskierig gevra. “Dis kalkoentjuikens”, het Ma trots geantwoord. “Ons moet hulle grootmaak, want hulle lê glo baie groter eiers as ‘n hoender”, het Ma verder die inhoud van die boksie geprys en bygevoeg: “Jou pa kan mos nie genoeg kry van eiers nie.”
Ek moes gou vir hulle ‘n hokkie prakseer, want daar moes tog nie skade kom by haar rooinekgeveertes nie. Toe sy die agtermiddag die hok kom inspekteer, sê sy opgewonde: “Ek het nog ‘n eier saamgebring …. ek wil hom nog lat uitbroei, want dis glo weer ‘n ander soort.” ‘n Paar dae later later, toe sy weer haar hoenders die agtermiddag met “kiep-kiep!” naderroep om hulle kos te gee, het daar ‘n opgerysde hoenderhen, wat aanmekaar kloek, uit die bosse agternagehol. “Hy’s broeis,” het Ma opgewonde gesê en die laaste bietjie dopkoring uit haar voorskoot geskud.
Ma het ‘n paar eiers onder die broeis hen gesit en sekergemaak dat die kalkoeneier in die middel is. Na ‘n paar weke het die ou rooivlerkhen met die geel donserige kuikens by die agterstoep kom kos soek. Tussen hulle was ‘n maer langbeenkuiken nog effe lomp op sy beentjies. Ma se oë het aaneen op die langbeenkuiken gebly en terwyl sy vir hulle broodkrummels strooi, sê sy: “Nou sal ons die roofvoëls moet dophou, want hulle los nie ‘n tjuiken uit nie.” Toe hulle veertjies begin uitkom, was die kalkoenkuiken spierwit. “Ek wonder of dit ‘n hennetjie of ‘n haantjie is … lyk my meer na ‘n haantjie,” het Ma hom beoordeel.
Na ‘n paar weke was ons doodseker dis ‘n haan, want hy het die ander kuikens begin afknou as hulle te na aan sy koringkorrels pik. “Sy naam is Witpiet,” het Ma haar kalkoen gedoop en skelmpies eenkant vir hom nog ‘n paar ekstra pitte gegooi.
Witpiet het soos ‘n koolkop gegroei en later net die onderdeur dopgehou. Behalwe Pa, is hy deur almal bederf en soms, as Pa nie daar was nie, het hy skelmpies onder die tafel kom krummels soek, tot groot vermaak van die kinders. Witpiet het egter ‘n foutjie gehad – hy het sy blerts voor die agterdeur se drumpel gelos. Soos sy bel langer geword het, het sy blertse ook groter geword. Ma het bly skoonmaak tot op ‘n dag toe Pa vol in die slagyster getrap het. “Sies, jirre!” het Pa vies uitgeroep en sy velskoen op ‘n plat bossie probeer skoonskuur. “Sies, magtag, dan stink sy stront!” het Pa uit die verte gebrom, want niemand mag aan Ma se pluimvee raak nie….. hulle was kroonwild.
Witpiet was ‘n hanskalkoen en het tussen die hoenders gebly en nie met die ander kalkoene gemeng nie. As ons egter hard praat of iemand roep, het Witpiet ons luidkeels van die agterdeur af gekoggel, tot groot misnoë van almal. Pa het net sy wit kop vies geskud en ek het gesien sy hande jeuk, soos altyd wanneer hy sien ‘n ander man se kind is stout en moet op sy swernoot kry.
Op ‘n dag het een van die ander kalkoenmannetjies gewaag om Witpiet se weigrense binne tedring en Witpiet het hom getakel. Ons het die geveg oor die onderdeur dopgehou tot albei die ene bloed was. Ma het met die besemstok gereedgestaan, sou haar witbroodjie aan die kortste end trek. Later het die indringer die hasepad gekies, met Witpiet kort op sy hakke. “So ja, dit sal jou leer om sy kos te kom steel,” het Ma trots kommentaar gelewer. Ons ander se lojaliteit het egter by die ander kalkoen gelê, want ons liefde vir Witpiet het opgedroog. Hy was lastig, sy geraas het ons geïrriteer om nie van die slagysters wat hy gereeld by die agterdeur gelos het, te praat nie. Elkeen van ons het met moordgedagtes rondgeloop en dit buite Ma se bereik ge-uiter.
Op ‘n dag, terwyl Ma besig was om afval te skraap, het Pa sy kans waargeneem en hom met die karwats bygedam. Die voorslag het netjies om Witpiet se nek gekrul en Pa het hom wraaksugtig nadergepluk, maar Witpiet was vlugvoetig en het Pa se skop net-net ontduik. “Lae drek!” het Pa agter hom aan geskree, terwyl Witpiet met oopgesperde vlerke om die buitekombuis se hoek verdwyn.
Witpiet was nou ‘n uitgegroeide kalkoen en het ook die wyfies die hof begin maak, tot groot blydskap van Ma. Sy wou so graag ‘n lot wit kalkoene hê, want Witpiet lyk tog al te spoggerig en mooi as hy soggens in die oggendson pronk asof die hele werf net aan hom behoort.
Kort voor die “groot dae” wou Ma ‘n kalkoen slag, maar dit moes een van die ou mannetjies wees. “Moet tog nie tussen hulle rondhardloop en vang nie,” was haar vermaning. “Skiet liewer een, maar moet hom tog nie kwes nie,” het sy gewaarsku. Ek het die Remmington .22 gelaai en die trop genader. Eenkant was Witpiet op ‘n wyfie besig. “Hier, vuilis!” het ek met my arms beduie en sy plesierige gelukkie kortgeknip. Witpiet het haastig die trop in gehardloop, terwyl die wyfie ontevrede haar vere regskud.
Ek het ‘n ou mannetjie gemerk en toe gewag tot Witpiet se nek ook in die visier is en toe afgeknyp. Toe die skoot klap, het twee kalkoene gelê en spartel. “Daar lê Witpiet ook!”, het een luidkeels vanaf die kookskerm geskree. Ma was, vir haar groot lyf, amper te vinnig op die ongelukstoneel, net betyds om te sien hoe Witpiet se oë omdop. Ek het nog half verdwaas op die geweer geleun en spyt het my oorval toe sy verwytend sê: “Ai, jinne my kind, wat het jy tog nou weer aangevang?” “Dis ‘n ongeluk, Ma,” het ek blatant gelieg.
Toe sy die dag die kalkoenvleis opskep, het sy nie daaraan geëet nie, maar Pa het nie op hom laat wag nie. Toe hy die kalkoenvet met die vadoek van sy mond afvee, sê hy so ewe: “Tag, maar so ‘n jong kalkoen smaak agter die oor.” En daar was ‘n grimmetjie op sy gesig.
Waar’s die vis?
Namakwaland is ‘n harde wêreld en kinders moes desjare van kleinsaf op die plaas help. Jy was net veilig in die abbavel, want as jy sterk kon loop, is jy rondgestuur.
My ouer broer was op skool toe die ploegreëns val en ek moes as sesjarige seuntjie die trekspan voor die ploeg lei. Die trekwa is die dag gelaai met saadkoring, beddegoed en voer vir die trekgoed. Agter op die wa het Pa-hulle die groen Rudsakpleog met osrieme vasgemaak. Toe ons die agtermiddag by die lande kom, is uitgespan en die span trekgoed voor die drievoorploeg ingespan. Agter het Pa se ses esels getrek en heel voor was Oupa en oom Gideon se twee ryperde ingespan. Oom Gidoen, Pa se jonger broer, het die twee perde met ‘n riem aanmekaargekoppel en vir my die leitou gegee.
Ek het bevrees opgekyk na die groot perde met die stange in hulle bekke. In die trens het Sieraad se twee wit oë wild rondgerol en kort-kort het hy hard op sy stang gebyt. Voor onder sy bolip het sy lang, geel, krom voortande uitgeloer. Ek het geknyp, maar in my kortbroekie het ‘n paar lastige druppeltjies gelek.
Oom Gideon het die riem vir my aangegee en vaderlik gesê: “Boesman, (sy karrienaam vir my) hou die tou styf en moenie lat die perde jou raaktrap nie.” Ek het bevrees na Sieraad en Piet se groot voorhoewe gekyk en dan na my kaal voetjies en die kraantjie in my broekie het nog ‘n druppeltjie of twee gelos. Ek het onder my vaal hoedjie na oom Gideon opgekyk, terwyl my maer kieriebeentjies met die groot knieknoppe soos ‘n wees volstruiskuiken s’n, liggies gebewe het. Oom Gideon moes my vrees gesien het, want hy het oor my koppie gevrywe en gesê: “As ons by die land se koppenent kom, sal ek die ploeg uithaal en dan sal ek vir jou skree om te draai. Dan draai jy haarom … nie te kort nie, want dan kan die esels oorstring trap, verstaan jy, Boesman?” het hy gevra en toe met die lang sweep agtertoe gestap. Hy het omgedraai en gesê: “Boesman, as ek sê ‘vat!’, dan moet jy begin loop – stap reguit na jou pa toe daar voorkant waar hy op die saaisak sit.” Ek het my koppie geknik en voor aan die tou gerem. Toe hy skree: “Vat!” en die sweep waai, het ek die span reguit na Pa toe gelei. Terwyl ek drafstap, wonder ek wat is ‘haarom’? Voor ek my kom kry, toe skree hy: “Koooooom!” Ek vlieg wild om en toe skree hy: “Nie hotom nie, haarom!” Ek vlieg haastig anderkant toe om en stap agter Pa aan wat, met die saaisak oor sy skouer, ritmies met die hand die koring heen-en-weer strooi. Toe ons by die volgende draai kom, skree oom Gideon: “Mooi so, nou hou my kind net die ploegvoor – ek sal die span warm klop.”
Nadat Pa ‘n paar akkers vir die nagskof gesaai het, het ons kort voor sononder uitgespan en Pa is terug huis toe. Weerskante van die wa se disselboom is ‘n seilkrippie vasgegespe en oom Gideon het vir elke esel en perd ‘n bietjie kaf en ‘n stroopblik rog afgemeet, terwyl hy met hulle gesels. “Maaifoelies, julle is darem te uitgelate. So ken ek vir ploegtrek – kyk hoe natgesweet is julle.”
Hy het vir ons ‘n groot vuur in die takskerm gemaak wat hy en Pa vroeër die dag haastig opgeslaan het. Toe dit donker word, het ek al nader aan oom Gideon geskuif, want ‘n uil het kort-kort uit die doringbome geroep en dan het sy maat in die verte ge-hoehoe. My kop het skielik geruk toe ‘n gammajakkals se skril getjank soos ‘n mes deur die aandstilte sny. Ek het nog ‘n tydjie in die donkerte ingetuur en toe my my broodjie stadig geëet. Nadat dit weer stilgeraak het, het ek my beentjies oopgevou om my vir oulaas warm te maak. Oom Gideon het oorkant op die kafsak gesit en sy pyp opgesteek. Hy het ‘n paar dik skywe getrek en toe afgekyk na my kortbroekie. Skielik was daar ‘n grimmetjie op sy gesig. Ek het vinnig my beentjies toegeklap soos ‘n hond wat na ‘n lastige vlieg hap. Ek het besef my dinges het seker by my broekspypie uitgeloer, want ek het nog nie ‘n onderbroek gedra nie.
Oom Gideon het opgestaan, hom uitgerek, na die ooste getuur en gesê: “Ons moet gaan inkruip, ou Boesman, want as die maan môre-oggend voordag opkom, moet ons weer inspan.” “Wanneer kom die maan op, Oompie?” het ek nuuskierig gevra. “As die driekoning daar kom hang,” het hy met sy krom voorvinger in die lug beduie.
Oom Gideon het die lantern opgesteek en toe met sy groot veldskoene die lekker warm vuur doodgetrap. “Boesman, ek het agter onder die wa op die duikerkleedjie vir jou kooi gemaak, maar kom ons gaan staan eers eenkant dat jy nie vannag jou kooi natmaak nie.” In die aandstilte kon ons hoor hoe die esels en perde die rog onder hul groot tande fyn maal en kort-kort het ‘n esel sy voet hard gestamp. “Hoekom stamp hulle hulle voete so, Oompie?” Hy het ‘n vet wind gelos, sy broek toegeknoop en geantwoord: “My kind, hulle se bene raak styf van die regop staan en dan kry hulle koud ook nog. Môre-oggend is die wêreld spierwit geryp …. dis hoekom hulle vir hierdie plek sê ‘Armbakkies’.”
Ek het nie verder gevra nie, want die koue het my van agter bekruip. Toe ek my koue lyfie met klere en al onder die harige velkombers inwikkel, het ek bang geword, want in die verte het ‘n jakkals geskree. Ek het omgedraai op my knietjies om my gebedjie, wat Ma my geleer het, op te sê. Ek het geruk soos ek skrik toe ‘n perd of esel my gebedjie met ‘n harde proes onderbreek. “Ag, Heretjie, help my tog vannag dat Sieraad my nie sal byt of my voetjies sal raaktrap nie. En as dit kan wees….’n onderbroekie. Lat Ma tog ‘n slag vir my ‘n onderbroekie by die smous koop …..assamblieftog. Amen.”
Ek het wakkergeskrik toe oom Gideon aan my skud. Ek het my ogies gevryf en in die donkerte na my hoedjie gesoek. Op die rand het ‘n halfmaan gehang en in die skerm het ‘n staanvuur gebrand. “Kom vat vir jou koffetjies, ou Boesman, solat ons kan inspan.” Ek het opgespring en vuur toe gehol en my soos ‘n wurm al in die rondte gedraai om my warm te maak. Oom Gideon het die swartgebrande koffieblik vinnig met sy groot kaalhande van die kole afgehaal en toe vir ons ingegooi. Terwyl hy my bekertjie roer, kyk hy na my kaal voetjies. “Kortendag moet jou pa vir jou ook ‘n paar velskoentjies maak, want ‘n man wat al kan ploeglei, moet skoene hê,” het hy my liggies geprys. Die kafsak langs die vuur was natgedou en ek het die lastige watertjie onder my neus met my baadjiemou afgevee en toe blaas-blaas my koffie gedrink.
Veels te gou na my sin het hy sy beker neergesit, opgestaan en die lantern gevat. “Sluk-sluk, ou Boesman, ons moet inspan.” Ek het vir oulaas my handjies warmgemaak en toe agter die lanternlig aangedraf. Toe ons naderkom, het die twee perde saggies gerunnik en in die dowwe lig het hul oë geblink. Hy het die lantern vir my gegee en gesê: “Lig jy vir my, ek sal inspan.” Bleekbok en Springbok was die agteresels …. getrou en sonder geite. Naasagter is die beneukte Steenbok, wat soms kopslaan, ingespan en langs hom Klouterbok, die kriewelgat, soos Pa hom altyd genoem het. Hotvoor het Donkerbok met sy spitsoortjies getrek en langs hom die op-en-wakker Glansbok. Voor het oom Gideon sy ryperd, Piet, ingespan en langs hom Oupa se haastige witskimmelperd, Sieraad.
Oom Gideon het voorom gekom, die lang sweepstok in die nat grond gedruk en gesê: “Boesman, hou die ploegvoor en ek sal vir jou roep wanneer jy moet draai.” Hy het sy pyp opgesteek, die sweepstok uit die grond getrek en vir oulaas gewaarsku: “My kind, oppas tog dat die perde jou nie raaktrap nie … hou die leiriem die heeltyd styf.”
“Vat!”, het hy oomblikke later geskree. Ek het vorentoe gespring en die span in die dowwe maanlig na die ploegvoor gelei. Agter het ek dofweg gehoor hoe knip hy die Rudsakploeg in en toe kraak die trekketting. Rondte vir rondte het die drieskaarploeg die aarde omgekeer en in die stil naglug het die geur van varsgeploegde grond gehang. Kort-kort het ‘n esel agter my gehoes wanneer sy keel toetrek teen die borsplaat. Voor het die twee perde se tande op hul stange geknars soos hulle dit vasbyt. Kort-kort het een van die trekdiere ‘n harde rogpoepie in die oggendstilte gelos as die ploeg deur die taai klei sy pad oopskeur. Agter my kon ek die perde se warm jagende asems ruik, want ploegtrek is nie speletjies nie. Die koue van die voordagmôre het stadig maar seker toegeslaan, want jy kon hoor hoe die grond kraak as die hoewe van die esels deur die kors trap. Ek het die leiriem al stywer vasgeklem, want ek was bang dat ek my greep sou verloor. Die vrees dat Sieraad my kan byt, het vlak in my binneste kom lê en ek het kort-kort in my verbeelding gesien hoe sy lang voortande my broekgat hap. Ek het my ruggie al krommer getrek, want hy kon my ou maer lyfie mos middeldeur byt, soos Lady nou-die-dag die muskeljaatkat wat Ma se hoenders gevang het. Ver agter my het oom Gideon ‘n deuntjie gefluit en kort-kort die agteresels aangepraat. Skielik het ‘n naguiltjie vlak voor my opgevlie en die voorperde het gesnork en hulle koppe opgeruk. Die volgende oomblik voel ek hoe Sieraad my voetjie vastrap en ek tussen die pote van die trekgoed beland. Ek het ‘n hengse bek opgesit en oom Gideon het gelukkig met ‘n lang, skril gefluit die trekspan gou tot stilstand gebring.
Die esels het elkeen ‘n harde snork gegee vir die rasende ding wat tussen hulle bene deurkruip. Oom Gideon het my soos ‘n lappop opgetel en die nat grond van my kleertjies afgeslaan. “Sierraad het my raakgetrap”, het ek aanmekaar gesnik, terwyl hy my bewende lyfie vashou. “Toemaar, as ons weer die koringmeul inspan, sal Oompie die vuiles se gat warm klop,” het hy my getroos. Hy het ‘n vuurhoutjie gestryk en na my voetjie gekyk. “Mastag, man, hy het mos jou hakskeen se vel afgetrap!” Toe ek die bloed sien, het ek harder gesnik. “Ek wil nie meer lei nie ….. my hoed is ook weg.” Oom Gideon het besef dat hy sy kaarte nou moes reg speel, anders is hy sonder ‘n touleier. Hy het weer ‘n vuurhoutjie gestryk en my hoedjie tussen die esels se pote uitgehaal, die sandjies afgeslaan en weer op my kop gesit. “Vat jy die sweep – Oompie sal hulle tot by die land se koppenent lei en dan maak ek eers vir ons ‘n lekker vuur.” Terwyl hy sukkel om die vuur aan die brand te kry, het my lyfie gebibber van die koue. Toe die taaibosvuur lekker hoog brand, het ons vir ons warm gemaak.
In die vuurlig het die span trekgoed gestaan en die wasem het uit hul natgeswete lywe getrek. Oom Gidoen het afgekyk na my geswelde voetjie en gesê: “Ou Boesman, die bleddie perd het mos jou voet lelik raakgetrap. Ek dink ons span hom met die volgende skof heel agter in – dan sal hy bars.” Hy het na die ooste gekyk. “Die dagster is al uit – netnoumaars breek die dag en as die son uitkom, span ons uit en dan eet ons brekvis.” Ek het my traantjies afgevee en met nuwe belangstelling na hom geluister. Hy het in sy baadjiesak gevroetel en sy troefkaart uitgehaal – ‘n halwe langlekker……effe bruin van die tabakstof, en dit vir my gegee. Terwyl ek sukkel om dit skoon te suig, het hy vaderlik oor my koppie gevryf en gesê: “Nou’s ons lekker warm, gaan vat maar weer vir ons die tou dat ons die skof kan klaarmaak.”
Toe ek effe huiwer, sê hy weer: “As ons uitspan, eet ons lekker brekvis.” Ek het maar weer gehoorsaam die tou gaan vat en terwyl ons ploeg, was my gedagtes kort-kort by die brekvis. Waar sou hy die vis vandaan kry? Later het dit begin lig raak en die akker het einde se kant toe gestaan. Toe die son oor Soutfontein se rand loer, het oom Gideon die ploeg regoor die wa uitgeknip en ‘n lang fluit gegee. Ons het uitgespan en die esels gaan voer gee.
Ek kon nie wag om die vis te gaan eet wat hy my belowe het nie. Toe die vuurtjie lekker brand, het hy vir ons elkeen ‘n beker koffie gegooi en toe vir my ‘n sny brood gegee. Terwyl my tande in die botter spoormaak, het ek by myself gewonder wanneer hy die vis uithaal waarmee hy voordagoggend gebrêk het. Ek het hom egter nie daarna uitgevra nie en my broodjie klaar geëet, maar sy belofte het in my koppie bly vassteek.
Laterjare in Wallekraal se laerskool, het ek egter by antie Visser, ons juffrou, geleer wat brekvis beteken.
(Gert Sarrisam)
Epos vanaf Andre Bekker van die SA Kamer van Onafhanklike Skrywers
Jy is `n Rolmodel!
Ek glo elke onafhanklike skrywer deur die land het die beriggies oor jou prestasie met aandag gevolg. Daarom het ek die vrymoedigheid om, as Voorsitter van die nuut-gestigte SA Kamer van Onafhanklike Skrywers, jou geluk te wens met die prestasie.
Laat my asseblief weet of jy sal bereid wees om ons van raad te bedien wanneer nodig, want ons skrywers wat nie Uitgewers het nie, is soos `n trop skape sonder voorloper. Daarom het ons die organisasie gestig. Ons glo ons kan reken op die suksesvolle manne en vroue in ons geledere om die minder geslaagdes te help en te lei. Onthou en weet dat elke bietjie raad wat ons kry, werklik hoog gewaardeer word.
Andre Bekker.
Persverklaring
Vir meer inligting, kontak :
Werna Maritz. Sekretaresse.
042 292 0455
E-pos by:
werna@telkomsa.net
OF
Andre Bekker. Voorsitter.
Selfoon 079 180 7663
E-pos by:
andrebee@vodamail.co.za
Verlede naweek, die 2de, 3de, en 4de Julie 2010, het die FEES VAN DIE ONGEPUBLISEERDE BOEK op Jeffreysbaai plaasgevind. Dit was gereël deur `n groep self-gepubliseerde skrywers, maar dit was aangebied om alle voornemende skrywers in te sluit.
As gevolg van die wye reklame deur middel van onderhoude en aankondigings op verskeie radiostasies soos RSG, Radio Pretoria, Radio Laeveld, Uitsaaines Live, asook die ondersteuning van verskeie Afrikaanse bewegings wat ons op hulle Webwerwe bekend gestel het, was dit `n jubelende sukses.
Dr. Gert Coetzee, akademikus en voormalige medewerker van D.J.Opperman, was ons gasspreker. Almal het aan sy lippe gehang terwyl hy op sy boeiende beste ons gemesmeriseer het met sy kennis van die groot digter se werk, en die invloed daarvan op die moderne digkuns en skryftegnieke. Prof. Heilna du Plooy van Noordwes Universiteit op Potchefstroom, en aamhanger van Dr. Coetzee, het ons Fees as waarnemer bygewoon, en sy het ons bemoedig en haar volle ondersteuning belowe., en haar groot kennis tot ons beskikking gestel.
Daarna het Rose Dugmore ons weggevoer na haar studiejare in die minus 35 grade winters van die Noorde van die “States.” Peet Coetzee oud-soldaat met diep kennis van die RECCE`s en KOEVOET, se herinneringe aan die donker dae van die grensoorlog het ons gespanne laat regop sit. Hy is skrywer van die bekende “Jam Stealer.” Werna Maritz, die lopende ensiklopedie oor die era van die trotse stoomtreine, het ons laat steier van genot met vertellings uit haar drie boeke in die “Ysterwiele” reeks
Die Supersterre finalis, Elsabé Rademeyer, het ons mat haar goue stem bekoor, en die CRYSTALS, `n kwartet vanaf Polokwane het ons aandure gesellig gemaak.
Op `n vergadering is die SA Huis van Onafhanklike Skrywers gestig, en `n loods komitee, onder voorstterskap van Andre Bekker, met Werna Maritz as sekretaresse, is verkies.
Hulle opdrag is : 1. Om riglyne vir `n alles omvattende grondwet te ondersoek en aan te beveel. 2. Om `n metode te formuleer waarvolgens lede van alle provinsies semi-outonome streeksliggame kan aktiveer. 3. Om maniere en kanale te ondersoek waardeur die druk en uitgee van lede se boeke vergemaklik en bespoedig en goedkoper gemaak kan word. 4. Om skakeling mat uitgewers te soek, en `n metodes te vind waarop ons lede se masiewe talent aan hulle beskikbaar gemaak kan word. 5. Om `n registrasie en klassifikasie stelsel te ontwerp waarvolgenselke onafhanklike skrywer se werk op rekord geplaas en bewaar kan word teen alle soorte afbrekende elemente. 6. Om te sorg dat elke lid `n gratis ISBN nommer vir sy werk kry. 7. Om te beding vir bekostigbare proeflesers, redakteurs, asook grafiese en voorblad kunstenaars om hulle werk persklaar te maak. 8. Om die integriteit en bekwaamheid van POD, en ander drukkerye, te bepaal, en slegs die wat bevredigende produkte lewer, en duursame materiaal gebruik, by ons lede aan te beveel.
Terugvoering moet so gou doenlik deur die Webwerf, www.boekfeesjbay.co.za gedra word, en dit sal ook na lede ge-E-pos word vir insae, waarna `n stemming gereël sal word.
Andre Bekker, Voorsitter.,
SA Kamer van Onafhanklike Skrywers
(Gaan lees meer op hulle webtuiste: www.boekfeesjbay.co.za

























