Slaan oor na inhoud

Kees maak amok

April 30, 2010

Op ‘n warm somersdag gaan maak ek ‘n draai by my veesuipings.  Groot was my verbasing toe ek ‘n klein verhongerde bobbejaantjie in ‘n ou sementdam ontdek.  Ek het hom huis toe gevat, ‘n paal in die koelte van ‘n groot bloekomboom geplant en bo-op die paal vir hom ‘n huisie van planke aanmekaar getimmer.

Die kinders het hom Bobbie gedoop en hy was gou deel van die gesin.  Almal het hom bederf en hy het soos ‘n koolkop gegroei.  Soggens het hy behendig met die ketting afgegly en al wat perkate is op die grond uitgehaal.  Dit was nie lank nie of hy het ons van sy manlikheid bewus gemaak.  In die begin het ek hom soos ‘n kind verbie, maar later het hy roekeloos geword as daar vreemde gaste kom, tot groot verleentheid  van ons, sy peetouers.

Ons jaarlikse wyksbasaar op Wallekraal is altyd ‘n groot geleentheid.  Ons vriende, Koos Koek en Bassie met hul vrouens het die naweek vir ons kom kuier.  Die Saterdagmiddag het ons almal opgetrek basaar toe en vir Bobby wees agtergelaat.   In die ou klipskooltjie is die tafels uitgepak en na ‘n halfuur het hulle gekreun onder die koek, vleis en poeding.

Na ds. Dokkie se opening het almal op die tafels toegesak op soek na kleinkoekies, melkterte en rosyntjiebrode.  Ek het die bedrywige vrouens agter die tafels elk met ‘n bakkie poeding bederf en self die orige twee bakkies ge-“polish”.  Ek het ook die pannekoektafel goed ondersteun en toe ek die kaneelsuiker met die agterkant van my hand van my mond afvee, kom Jan Auret met vier opgehoopte bakke poeding en sê:  “Kêrels, nou moet julle my help, want ek sien die vrouens het klaar poeding.”   Ek laat my nie twee keer nooi nie en vat twee bakkies.  So onderlangs loer ek na vroulief, want ek is al lelik in die moeilikheid by haar oor my klere wat die laaste tyd al kleiner raak.   My liefde vir jellie en kastert (custard) kom vanaf my koshuisjare en oudergewoonte speel ek eers ‘n bietjie met die jellie tussen my tande sodat die lekkerte nie so gou oorgaan nie.

Met die laaste paar slukke voel ek dat die ‘valve’ by my maag nie lekker sluit nie, want as ek sluk, kom dit terug op as dit moet af.  Ongemaklik staan ek op en verdwyn steun-steun om die klipgebou se hoek om my belt ‘n gaatjie of twee skiet te gee.  Terwyl ek gaan sit, baklei ek met myself oor my overdaad en verwyt die boodskap na my brein wat altyd net-net te laat opdaag om te sê:   “Jy het nou genoeg gehad!”

Na ‘n rukkie is die veiling aan die gang en ou Kolie veil een lekker ding na die ander op, terwyl ek uitdrukkingloos na die gehawende plankvloer staar.  My vrou pomp my in die ribbes en vra:  “Voel jy sleg?”  Ek beduie na my maag en voel weer ‘n gekneusde stukkie pannekoek en ‘n bietjie jellie in my mond.  Aan die einde van die veiling kom swaai Kolie die orige pakkies lekkers van die kindertafel voor my neus en ek raak wakker en roekeloos.  “Jy mag nie die goed eet nie,”  fluister Hestelle.  “Dis vir Bobbie,”  kap ek terug.

Later vertrek ons met die kombi wat volgelaai is met versoekings van terte en kartonne vol kleinkoekies. Toe ons opry na die huis, vra almal tegelyk:  “Waar’s Bobbie?” Ons oë soek op die werf rond en toe sien ons hom oor die huis se dak loer.  Almal roep en gooi vir hom eetgoed, maar dis asof Bobbie sy vryheid vier.  Hy hardloop ligvoets en spring van die een dak na die ander.  Hy haal sy bobbejaanperkate uit en kom loer soos ‘n stout kind kort-kort vir ons.  Hoe sou hy daar kom?, wonder ek.  Terwyl almal hom besig hou, sluip ek om die hoek van die huis.

Toe ons vyf kinders groter word, het ek ‘n groot gedeelte aangebou en met ‘n breë gang verbind.  Toe ek om die huis stap, raak alles vir my duidelik.  Hy het met die paal waaraan die TV-antenna gemonteer is, opgeklim en toe ‘n meter ver tot op die dak gespring.  Ons hou

kajuitraad.  Almal kom met slim-slim planne om Bobbie te vang, maar ons lot kruip almal na sestig se kant toe en die spoed ontbreek.  Ons huishulp kom met ‘n skitterende oplossing:  “Kom ons gooi vir hom slaappille!”

‘n Paar slaappille in toffiepapier toegedraai word op die dak gegooi.  Bobbie kry sy sit, maak die papier met sy seningrige vingertjies oop en vat die pille fyntjies.  Hy kou girts-girts en kyk later met sy bruin ogies vir nog.  Ons hou hom dop – sy bewegings is later nie meer so flink nie.  Later stut hy sy kop tussen sy handjies en knip-knip sy ogies stadig soos twee klein “blinds” wat jy op en af trek.  Toe ons dink dis tyd om toe te slaan, gaan haal ek die leer en staanmaak dit regoor waar hy sit.  “Klim een op en maak hom skrik,  dalk gaan hy weer by die paal af!”,  beveel ek soos ‘n sammajoor.  Met my dik maag beweeg ek om die hoek van die huis en ek voel hoe die sooibrand kook.    “Daar kom hy af!”,  skree Koos.

Op daardie oomblik kry ek en kees mekaar by die hoek van die huis en hy krink terug paal toe.  Ek sit alles in paal toe, maar met my kerkskoene en vol maag waarin die jellie skommel,  sien ek dat my opponent ook nie meer so vlugvoetig is nie.   Toe hy spring vir die paal, is ek net betyds om ta se stert bokant my kop te gryp.  Hy sit ‘n bek op, terwyl ‘n paar mieliepitte my rakelings mis, maar die stank word my nie gespaar nie.   Ek gryp hom agter die nekvel terwyl hy met ‘n oopgesperde bek in bobbejaantaal protesteer.  By die stoep oorhandig ek hom aan Bassie wat die vashouwerk moet doen sodat ek weer die halsband kan aansit.

Teësinnig vat Bassie die gevangene vas, terwyl Bobbie tekeregaan of hy vermoor word – die vaak skoon weggeskrik.  Koos Koek vou dubbeld soos hy lag, want hy het al gesien hier ‘klom kloot klak”.  Bobbie het hom nou begin teësit en met sy seningvingers aan Bassie ‘n vasklouplek gesoek, terwyl sy klein lyfie in die rondte draai en sy beste wapen byna in Bassie se gesig is.  Eers het hy ‘n paar bobbejaanwinde gelos, terwyl Bassie sy gesig so ver moontlik probeer wegdraai.  “Hou net vas, Bassie!”,  moedig ek hom aan, terwyl ek sukkel om die halsband oor sy kop te kry.  Bassie se oë fokus net tussen die twee eelte wat lyk of Bobbie bymekaar maak om te vuur.  “Gert, as hierie bobbejaan vandag op my dinges, los ek die vuiles net so.  En Koos, moenie daar lê en lag nie – pleks jy kom help vashou!”

“Bassie, jy moet nou vervat, want ek moet die beltjie aansit waar jou hande is”,  sê ek.   “Maar my goeie, Gert, waar vat ek dan?  Die vuiles se bek is oop en as darie tande my byt, skop ek hom vandag vrek… Bobbie of nie Bobbie nie!”.   Koos en die vrouens geniet ons dilemma sonder om ‘n vinger te verroer.  Ek loer weer na die lanseerbasis en sien dit haal asem soos wanneer ‘n hoender pas ‘n eier gelê het en ek weet hy haal oor, maar ek sê niks vir Bassie nie.   Ek sukkel om die gespe in die gaatjie te kry en dis of kees ‘n desperate poging aanwend om uit Bassie se greep te kom.  “Hy’s vas”,  sê ek verlig, maar dis of hierdie woorde vir kees sê hy kan maar laat loop, want toe vuur hy.  Bassie het soos ‘n gesoute soldaat laat los en weggerol sodat die skrapnel van die granaat hom met millimeters gemis het.

Alle geroei was pure verniet, want ‘n uur later lê Bobbie uitge-“pass” op sy rug onder die boom met ‘n stukkie pannekoek nog tussen sy vingers vasgeklem.  Hy lyk onskuldig en skadeloos en ‘n vreemdeling wat daar sou verloop, sou wonder of dit ‘n mannetjie- of ‘n wyfiebobbejaantjie  is.

6 Kommentaar leave one →
  1. Pierre van Niekerk permalink
    April 30, 2010 05:50

    Ek is bly die man is terug, baie sterkte vir julle almal.

    • hestelle permalink
      April 30, 2010 11:58

      Ai, Pierre, die tyd vang ons net altyd. Ek grawe nou in die ‘argiewe’, want hy is besig met ander goed en haal nie by wat ek hom vra nie! Hopelik as die nagte langer word, gebeur daar meer! Groetnis.

  2. fagalein mulder permalink
    April 30, 2010 10:33

    wow eke het nou lekker gelag, dankie

    • hestelle permalink
      April 30, 2010 12:06

      Dankie, Fagalein! Ek wil hê hy moet skryf oor die dag toe die kapokkies weggevlieg het. Of die aand toe ek die ystervark op die agterstoepie moes uithelp! Hier is soveel stories, maar dit moet geskryf word. Lekker dag verder en dis goed om van jou te hoor. Mooi bly.

  3. Harry permalink
    Mei 2, 2010 09:31

    So ‘n bojaan is mos baie oomanierlik. Ek sal my pa se werf bojaan storie ook nog skryf. Tannie kan my stories by http://www.harry.bierpens.co.za gaan lees. Geniet die dag.

  4. hestelle permalink
    Mei 4, 2010 22:07

    Dankie, Harry! Ek het gaan lees en dit baie geniet. Is nou net te vaak om ál die stories te lees. Tog baie goed dat jy ook die dinge opteken, anders gaan dit verlore en wie sal dan weet? Sterkte daarmee!
    Groete van oom Gert ook – hy is aan die skryf aan ‘n ding wat al 40 folio’s lank is! As ek moet begin tik, sal ek seker nie die son sien nie.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: