Slaan oor na inhoud

My eerste langbroek

Mei 27, 2010

Vroeërjare het ons seuns maar almal ‘n ou kortbroekie gedra en het net van ‘n langbroek gedroom, want dit was eintlik net vir groot seuns beskore. Wintertyd het ons soggens om die vuur geboer en ons ou beentjies was later rooibont van die hitte, maar as jy gestuur was, moes jy maar die koue met jou maer kieriebeentjies en velskoene sonder sokkies trotseer.

Toe die smous voor die winter ‘n keer by ons gekom het, het Ma ‘n rol kakiemateriaal gekoop om tydens die drieweke vakansie vir my ‘n langbroek te maak. Ons kinders moes maar met die boerdery help en my werk was om soggens te help koeie melk en dan moes ek hulle veld toe jaag, sodat hulle nie naby die kalwers kon wei nie. Deur die dag moes ek die kalwers dophou en die boklammers oppas, sodat hulle nie ook in die rigting loop waar die bokke gewei het nie of by Ma se buite-oond kom nie. Ma het nie ‘n maatband of ‘n maatbroek gehad nie en het maar die rol kakiemateriaal op die kombuistafel oopgegooi en vir my bo-op die materiaal laat lê. Sy het haar hand wyd oopgemaak en my mate geneem soos ‘n mens ‘n span boertwak afmeet. Daarna het sy versigtig begin knip. Toe ek van die tafel afklim, het Ma die broek se materiaal met spelde aanmekaar vasgesteeek. Bedags as ek uit die veld uit kom, moes ek aanpas en my opgewondenheid het ál groter geword soos die broek sy voltooiing genader het. Ek het so gehoop Ma sit twéé sakke in, maar toe ek haar daarna vra, was haar sagte antwoord: “My kind, ek is bang jy loop hand-in-die-broeksak en dis tog alte lelik”. Ek moes dit maar gedweë aanvaar, solank ek net die langbroek kon kry. Alle kinders in my standerddrieklas het al ‘n langbroek gehad, behalwe ek.

Eindelik het die skool weer na die vakansie begin en die Maandagoggend het Ma ons vroeg geroep. Ek het groos my nuwe broek aangetrek en my velskoentjies vasgemaak. Toe ek regop staan, toe voel ek sommer groter as die vorige dag. Ek het my hand in my regtersak gesteek en gedink aan Ma se vermaning, maar my hand het so lekker warm gevoel, dat ek gewens het die ander hand het ook ‘n sak gehad. Ons moes eers die koeie gaan melk en is met die emmers en lantern kraal toe. Ons het altyd onder mekaar gewedywer wie sy koei die gouste kon klaar melk. Ons het die kalwers geleer om eers die koeie sak te suip en het hulle dan met ‘n vierkantige paaltjie op die kop getik. Dan het hulle ewe rustig by die koei se kop gestaan totdat ons klaar gemelk het.

Die koei wat ek gemelk het, se naam was Oppermeis. Sy was ‘n groot, geel koei wat, soos ons gesê het, los van melk was. Sy was ook ‘n kriewelgat van ‘n koei wat net nie wou stilstaan nie. Soms het sy jou met haar nat stert deur jou gesig geslaan. Ons het ‘n paar spanrieme gehad waarmee ons die koeie se agterbene gespan het sodat hulle nie in die melk kon trap nie. As dit moontlik was, het jy die koei se stert ook saam met haar agterbene vasgemaak, maar daarvan het sy niks gehou nie. Sy het altyd met mag en mening probeer om haar stert uit te wikkel.

Nadat ek haar klaar gespan en laat saksuip het, het ek op die Noorkapper-rugwerwel, wat ons as ‘n bankie gebruik het, ingeskuif en begin melk. Ek het met my linkerbeen by haar agterpote verby geskuif en toe so vinnig as moontlik begin melk, terwyl sy rustig gestaan en herkou het. In die flou lanternlig het ek na my ander helpers geloer om te sien hoe ver hulle al was en die volgende oomblik het ek net ‘n dowwe plofgeluid gehoor en gevoel hoe die pap beesmis op my linkerpyp val sodat dit teen die emmer spat! Die skrik en teleurstelling het plek gemaak vir ‘n ongekende woede jeens Oppermeis. Ek het vervaard opgespring, inderhaas die paaltjie gegryp en met al die krag in my vir Oppermeis tussen haar horings geslaan, sodat sy met ‘n hyggeluid op haar pote inmekaargesak het.

Ek het my lam geskrik, want ek het mos nou vir Oppermeis doodgeslaan! Skielik was die nuwe langbroek vergete en ek het gevrees dat, as Oppermeis dood was, Pa my soos ‘n gifding met die spanriem sou vrekslaan. Ek het die emmer neergesit, afgesak en haar aan haar stert gebyt, soos ou Petrus altyd gemaak het as daar ‘n maer bees bly lê en ons haar wou optel. Sy het doodstil bly lê. Later het ek benoud geroep: “Kêrels, kom help my! Oppermeis is dood!” Na so ‘n paar minute het sy saggies gekreun, haar kop heen-en-weer geskud, so ‘n paar proese gegee, waggel-waggel opgestaan en op haar pote gewieg. Al haar melk was weg, maar toe Oppermeis weer op haar voete staan, was ek so bly en verlig, dat ek net saggies: “Dankie, Here’tjie!” geprewel het.

Terwyl ek met die halwe emmer melk huis toe gestap het, het trane van teleurstelling oor my wange geloop. Ek moes maar weer die koue wintersoggend met my ou kortbroekie agter op die blou Ford-bakkie in die koue sit en bibber na Wallekraal se skool toe. Ek het so uitgesien om my nuwe langbroek aan almal te gaan wys, veral vir Lettie, vir wie ek toe al ge-“eye” het.

28 Kommentaar leave one →
  1. Mei 27, 2010 21:14

    Klink my ook maar die oom het baie benoude boude gehad toe hy kind was, Oppermeis flou geslat, die trekker episode, die trek winterveld toe toe die perd amper omgekom het, die rosyntjies, LOL lag nou lekker heheheee

  2. hestelle permalink
    Mei 27, 2010 22:18

    AB, die helfte is jou nie vertel nie! Die ergste is dat hy steeds sulke goeters oorkom.
    Dit reën nou so lekker hier – al van 5nm af. Môre moet ek dorp toe en die pad sal nát wees.

    Lekker naweek.
    tannie Hestelle

  3. Mei 27, 2010 23:08

    Ai, die teleurstelling was seker groter as die verligting dat koeitjie nog gelewe het.

  4. hestelle permalink
    Mei 28, 2010 20:54

    Olga, hierdie slag was die verligting groter! Jy wou nie by wees as Oppermeis toe gesneuwel het nie – Pa sou hom slaan soos hy die dag sy broer Sarel met die osriem geslaan het – van die middag tot die son gesak het! Onthou, dit was ‘n kosbare melkkoei!

    Groetnis.

  5. Harry permalink
    Junie 16, 2010 09:03

    Lekker gelag.

  6. hestelle permalink
    Junie 16, 2010 14:12

    Dit gaan bietjie dol hier met die skaap wat lam, so Gert kry nie tyd om te skryf nie. Sal later iets probeer uitkrap! Ons het lekker reën gehad (17mm) en dis pragtig groen. Hoop vir ‘n mooi jaar.

  7. Junie 18, 2010 15:12

    Gewonder hoekom is tannie so stil! ;o) Die boeke loop nogsteeds, ek kry nogsteeds bestellings… maar almal soek die volgende boek… oom Gert sal moet skryf! xxx

    • hestelle permalink
      Julie 22, 2010 10:58

      Ai, Terina, jy weet mos hoe gaan dit hier! Hy het darem al ‘n paar stories geskryf, maar nou kry ek nie tyd om dit op die rekenaar te sit nie. Die blommetyd lê ook voor, so die tyd loop uit!

  8. Harry permalink
    Junie 18, 2010 16:05

    Ekself sit wag rustig vir die nuwe boek.

  9. Junie 18, 2010 16:14

    en ek wag ook nog rustig vir JOU boek Harry! 🙂

  10. Junie 18, 2010 22:56

    Hallo tannie Estelle en oom Gert,

    Ek loer sommer in om te sien hoe dit nog gaan daar in die mooiste land. Die Kaap was baie nat die afgelope tyd, en ek hoor selfs daar in Namakwaland het “die engeltjies lekker gepiepie”. Hoop dit gaan ‘n mooi jaar wees al was die reën bietjie laat.

    Julle moet die sokker geniet al is Bafana nou amper uit, hoop ons vir ‘n wonderwerk. Die gees wat die sokkerfees afgee is darem nou rerig wonderlik. Het so bietjie gaan kyk by die fanpark by Bellville, en die mense is regtig trots Suid Afrikaans!!! So goed om te sien en te ervaar.

    Groetnis uit die Kaap,
    AB

    • Junie 21, 2010 23:04

      Tannie Estelle? waar was my breins? Tannie Hestelle natuurlik, apolgies!!!!

  11. Junie 25, 2010 13:42

    Harry het my die kant toe gestuur om te kom lees.
    Ek het net een keer in my lewe(12 jaar oud) ‘n koei probeer melk, en ek was daai aand maar dankbaar dat ons melk in die yskas nie uit ‘n koei kom nie, maar uit Pick & Pay se yskas.

    Lekker gelees.

    • hestelle permalink
      Julie 26, 2010 16:47

      Hi Kerneels, weet nie hoe ek jou misgelees het nie! Ek kry min kans om op die blog te gaan kyk. Sukkel so met die internet – nes ek besig is, is daar skielik net niks. Baie frustrerend! ek hoop jy het lekker gelees. Ek is self bly hier is manne wat melk en dat dit net bokke is, want hulle is nie so veeleisend soos koeie nie!
      Mooi bly!

  12. Harry permalink
    Julie 2, 2010 11:11

    He he he he Kerneels. Pick en Pay se yskas seg jy?

  13. Harry permalink
    Julie 8, 2010 13:56

    Nouja ek het vir Tannie en oom Gert ‘n storietjie gelos op die link. Geniet maar.

    http://blogs.litnet.co.za/HarryLouw/toerbus-na-die-poorte-van-die-hemel

  14. Julie 8, 2010 19:39

    Hallo Harry! Het jy reggekom met die besonderhede wat ek vir jou gegee het…? Is jou boek een van die dae op die rakke? Anders moet ons weer kyk, dan stuur ek dit ook vir my ander vriendin. Lekker dag!

    Terina 🙂

  15. hestelle permalink
    Julie 8, 2010 21:50

    Hallo almal! Ai, die dolle gejaag na niks! ek kry nie eers kans om op die blog te gaan kyk nie – jammer dat ek nou eers hier uitkom. sal probeer om die naweek weer vir Terina iets te stuur om op te sit. Die blommetjies begin en ons het reën dringend nodig. Ons glo ons Vader sal voorsien.
    o Gert was die afgelope tyd so besig met ‘n ander ding wat moes klaar en ek moes net probeer byhou – het snags tussen 12- en 2-uur gaan slaap. dis nou agter die rug en hy is al aan die stories klaarkry vir die boek – ek moet begin tik! Hier is egter so baie ander goed wat ek ook moet (en wíl!) doen, dat ek laks is. Sal weer laat weet. Groete aan almal! Nou val my oë toe.

  16. hestelle permalink
    Julie 8, 2010 21:51

    Harry, ek sal die naweek na die link kyk – dit wil nie nou oopmaak nie. Dankie, hoor?

    • Harry permalink
      Julie 12, 2010 15:07

      Die oom moet vir hom ‘n mooi sekretaresse aanstel tannie. Dan het hy mos iets vir die oog en die boek kom geskrywe. Terina daar is nou weer mense wat op my blog navrae doen vir jou boek. Ek he thulle hierheen gestuur. Jong ek het die boek idee sommer opgeskop. Jy kan verniet daar by my loop lees.

  17. Julie 12, 2010 21:12

    Navrae vir die boek? Praat jy nou van oom Gert se boeke, want ek het gevra waar’s JOU boek! ;o)

  18. Julie 12, 2010 21:16

    Oe koek ek sien nou wat jy bedoel! Ek weet nie hoe om daar by jou kommentaar te lewer nie? Maar die boeke is beskikbaar in Namibie: The Book Den, Windhoek, Namibië, +264 61 239 976.

    🙂

    Groete en baie dankie vir die advertensie!

  19. Harry permalink
    Julie 16, 2010 12:15

    Ek het hom vertel ja. Ek hoop daar is nog oor van hulle. Dankie Therina 🙂

  20. Julie 18, 2010 14:00

    Ek is bly ek het op hierdie blog afgekom. Ek het pas klaargelees aan Vonke uit die Koeroeklip, en Murasies lê en wag.

    • hestelle permalink
      Julie 22, 2010 10:47

      Maankind, jy kan gerus sê waar jy woon! (Seker nie op die maan nie?) Ons hoop jy geniet die boeke. Ek is net spyt dat Gert so min tyd kry om iets op die blog te sit. Ek moet behoorlik aan hom karring om iets klaar te maak, want hy is regtig nou baie besig. Die skaap en bokke lam en sy hande is net te min om alles raak te vat. Saans is hy net te moeg om nog iets te skryf en soggens was hy te koud om 3-uur op te staan! Hopelik sal dit nou begin beter gaan. Lekker lees!

  21. hestelle permalink
    Julie 22, 2010 14:09

    Dit verklaar die skulpie! Dankie dat jy laat weet het. Groete, Hestelle

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: