Dowe Piet en Jan Kupedo
Vroeërjare, voordat die plase toegekamp is, het elke boer sy veewagter gehad. Toe ek my verstand kry, was outa Dowe Piet Oupa se skaapwagter. Hy en sy vrou, Lyla, en twee kinders het in ‘n matjieshuis gebly.
Ou Dowe Piet was ‘n lang, skraal man en het met ‘n fluisterstem gepraat, want hy was baie doof. Ons kinders was baie bang vir hom, want ons kon nie altyd verstaan wat hy sê nie. As daar ‘n sertifikaat vir skaap oppas verwerf kon word, sou hy beslis een verdien het.
Hy het altyd ‘n lang kierie met ‘n groot knop gedra waarmee hy bok se kind gou maniere geleer het. Sy selfgemaakte karwats was altyd netjies opgerol. In sy kossak was ‘n safgebreide duikervel waarvan hy vir hom ‘n voorslag gesny het. As hy soggens in die winter die veetrop van die werf af opstoot, het die honger gusskaap gou uitmekaar gewei en was hulle wyd versprei. Ou Piet het dan sy karwats losgewoel en in die oggendstilte ‘n paar harde klappe gee wat tussen die koppe soos veraf geweerskote weergalm het. Die voorskaap het dan skielik omgesit, asof ‘n mens hulle omgekeer het.
As kind het ek hom dopgehou as hy agtermiddae stadig en geduldig die kleinlammerooie werf toe bring. Ons moes hom altyd gaan help, want die vet Afrikaner- en Persielammers het dan teen die bult af begin speel met die skreeuende ooie agtgerna. Soms, as die gusskaap te wyd oopgesprei het, het ou Dowe Piet ‘n lang, skril veewagtersfluit gegee wat die voortrop in hul spore laat omsit het terug trop toe. Dan was daar ‘n glimlag van genoegdoening op sy verrimpelde bakkies. Ja, outa Dowe Piet kon met sy karwats en fluit enige skaaptrop stelstoot soos hy wou, want hy het hulle na sy hand geleer.
Toe Oupa van die plaas af weggetrek het, het outa Piet met sy gesin teruggetrek Klipfontein toe. Een oggend, terwyl ons brekfis eet, het hy uit die bloute by die agterdeur gestaan en met sy een hand op sy kierie geleun. Ek het teen die onderdeur opgeklouter om beter te sien. Op sy rug was ‘n sak met al sy besittings. Onder die sak was ‘n opgerolde kombers vasgemaak. Aan sy verslete belt was ‘n afgesplinte enemmelbeker vasgemaak. In sy hoed se sweetband het ‘n volstruisveer agteroor gestaan. Aan sy een hand het ‘n verwaarloosde kaalvoetkind vasgeklou. Met sy maer beentjies en groot kniekoppe het hy beangs sy oë rondgerol toe die groot gryskop oubaas die deur oopmaak.
Outa Piet het sy hoed eerbiedig afgehaal en met ‘n fluisterstem gegroet en gesê: “My duisman, outa Piet is vemôre leegaf. My vrou het besede maand afgesterf en ons het hom toe daar in Klipfontein gebêre. Ik hit my opgeskote klimmeidjie by my minse gelos en voetsaam Sarrisam toe gestap kom om vir ‘n broodjie te kom werk.” Hy het weer sy hoed opgesit en gesê: “My duisman, soos jy kan sien, is ons half nakend en tjyk hoe lyk my voetgoed. In Klipfontein kons ik nie langer bly nie, want ons kry honger. So Baas moet vemôre my hand vat, want op hierie werf was nog alle jare genog kos.”
Pa het omgedraai en vir Ma gesê: “Smeer daar vir outa Piet ‘n broodjie en gooi sy beker vol koffie. Gee vir sy kind ook ‘n eetding.” Toe Pa weer die onderdeur toestoot, het ou Piet byna onhoorbaar gefluister: “Dankie, baas Corneels. Jy het mos nou baas geword na ou Joos weg is. Ek sil van môre af die skaaptrop vat.”
Toe Ma vir hom die dik sny brood met vet in sy hand gee, het ou Piet afgekyk na die kind en gesê: “My noi, jy moet assemblief hierie klonkie vat en vir hom sôre, want hy kan nie bedags saam mit die vee loop nie.” Ma het instemmend geknik, terwyl sy ook vir hom sy kos gegee het. Sy hempie was op die een skouer met ‘n Springboktabaksakkie gelap en sy kortbroekie was met ‘n riempie om sy lyf vasgemaak.
Ma het die maer seuntjie met die dowwe wit kolle op sy gesig, wat duidelik tekens van ondervoeding was, van daardie oggend af onder haar vlerk geneem en versorg soos haar eie. Hy het deel van die gesin geword en sy naam was Jan Kupedo. Pa het vir hom ‘n paar bokoorleer velskoentjies gemaak en Jan Kupedo was ons kêrelkinders se mater. Ons het laterjare baie kattekwaad aangevang en het almal saam onder die plathand deurgeloop. Jan was, soos sy vader, ‘n diereliefhebber en het ‘n natuurlike aanleg gehad om met diere te werk. Toe hy groter word, het hy wintertyd die lammerbokke opgepas en saans werf toe gebring. Hy was bokwerktyd die belangrikste skakel, want saans het hy in die lammerhok gespring en elke bok se tweelinglammers uitgegee, sonder om ‘n fout te maak. Soms het Pa net sy kop in ongeloof geskud, want dan staan daar ‘n lot swartkameel lammers wat almal eenders lyk. Jan Kupedo het hulle twee-twee oor die kraalheining aangegee en as die twee lammers onder hulle moeder inhardloop, het sy hulle liefderyk geruik en met haar baard gekielie, asof sy wou sê: “Suip, julle biesgatte. My uier is seer en styf van die melk.”
Soos gebruiklik het Pa hom ook beloon met hanslammers en dit was nie lank nie of Jan het ‘n stewige boktroppie met sy eie merk op gehad – links winkelhaak van agter en stomp regteroor. Toe Jan Kupedo se stem begin kraak, het hy vir Pa laat verstaan dat hy wou teruggaan na sy mense toe. Pa was spyt oor Jan se besluit, want hy het geweet dat hy bokwerktyd “handaf” sou wees sonder hom. Toe hy die tyding aan Ma gaan oordra, het hy teleurgesteld gesê: “Jan wil loop – hy het nie rede gegee nie, maar hy wil nie langer bly nie.” Ma het haar kop laat sak en gesê: “Hy wil seker maar tussen sy mense wees, want niemand het hom tog hier aanstoot gegee nie.” Pa het gesug: “Ja, ou vrou, hy hit voor ons oë grootgeword ….. maar as hy weggaan, sil ik spyt wees. Hy is nou net mooi handig, so ons sil hom mis.”
Toe Jan die oggend sy paar bokke uitkeer, het hy later huis toe gekom om te kom groet. Ma was in die kookskerm besig om koffie te brand toe Jan eerbiedig met sy hoed in sy hand naderkom en sê: “Noi, ek – ek kom net groet.” Dit was asof die werklikheid nog nie tot haar deurgedring het nie. Sy het die koffie uitgegooi en dit stadig koudgeroer, terwyl die trane onbeheers oor haar wange geloop het. Jan het ongemaklik sy hoed in die rondte gedraai, terwyl Ma opgestaan en huis toe geloop het. Sy het teruggekom met ‘n slopie skoon klere en padkos vir die dag. Sy het haar trane met haar voorskoot afgevee en met ‘n onvaste stem gesê: “Jan, dis vir my ‘n swaar dag, want jy was vir ons soos ‘n eie kind. Ons hoop dit gaan goed met jou.” Met hierdie woorde het sy omgedraai en in die huis verdwyn. Sy was vir ‘n paar dae stil, want sy het oor Jan getreur.
Ek en Pa het saam met hom gestap en die draad agter Branderkop losgemaak en platgetrap, sodat hy sy bokke kon oorjaag en reguit Klipfontein toe kon trek. Jan het ‘n groot sak waarin al sy besittings was, op sy rug geabba. Pa het hom by die draad gegroet en sy hand ‘n bietjie langer vasgehou en aangedaan gesê: “Jan, ik wil dit nie so gehad het nie, maar keer kan ik jou ook nie vemôre nie.” Hy het omgedraai en met sy draadtang in die hand met geboë skouers huis toe gestap.
Ek het hom nog oor die volgende randjie gehelp en toe ons afskeid neem, toe vra ek nuuskierig vir hom: “Jan, hoekom loop jy?” Toe kyk hy ver op die volgende rand en sê: “Oorle’ Tata het vir my gesê: ‘As jou sin opraak, dan loop jy van die witmense af voor hille se kos bitter raak.”
Baie mooi storie wat ‘n mens se gedagtes baie ver terug vat. Plaaswerkers was altyd so ‘n integrale deel van ons almal se lewe op Sarrisam wat bygedra het tot die vorming van dit wat ons vandag is. Hoe oud was Jan toe hy die plaas verlaat het want ek onthou byna niks van hom nie?
Dit is regtig ‘n baie mooi storie & ek is so bly oom Gert onthou so mooi… so al het ek nie die voorreg gehad om vir ouma of oupa te ken nie, voel ek asof ek ook daar was as ek die stories so opsit & lees! 🙂
(Oom Koos ek sal vir tannie Hestelle laat weet dat die nuwe storie op is sodat sy vir oom kan antwoord!)
Koos, Gert en Koos Koek is vir die dag weg veld toe en ek sal hom eers vanaand kan vra. Ons kry jou mos DV die naweek op Citrusdal en dan kan julle daaroor gesels as ek nie voor vanaand ‘n antwoord het nie. Veilig kom!
Nie nodig om nou reeds te antwoord nie ons kan die naweek daaroor gesels.
Ja nee wat mense, dit is ‘n mooi storie. Ons almal het seker maar een of ander tyd ‘n Dowe Piet of Jan Kupedo op ons lewenspad. Sommige kom terug huistoe en sommige gaan om hul eie weg te vind.
Ek lees nou so van die boklammers wat so die seer uier suip en kry sommer lus vir ‘n lekker !xhamkoe brou met bokmelk natuurlik!!!
Tannie Hestelle moet daai stokkiestee met bokmelk vir die oom gee dat hy krag kan kry vir die nuwe boek wat almal op wag 😉
groetnis,
AB
AB, dis al wat hy drink – stokkiestee met bokmelk! Dis darem nou behalwe die boeretroos (ook met bokmelk), want dis al melk wat ons het. Dis darem “Swietse” bokke, want die ou boerbokke se melk is darem te onsmaaklik. (hy sê ek is vol fiemies!) Veral in die blommetyd vreet die bokke die gousblomme en ek wonder of dit vir hulle lammers lekker is! Daar is egter geen verskil in die smaak van bokmelk en boksiemelk nie. Toe die kinders klein was en nie die bokmelk wou drink nie, het ek dit net in die boksie gegooi (sonder dat hulle weet) en dan was dit kamma lekker! Die boerbokke is nou aan die lam. Groetnis.
ONGELOOFLIKE MOOI STORIE,
Dankie, Mias! Daar is so baie sulke stories, maar dit moet vertel en geskryf word! Groete.