Slaan oor na inhoud

Garies Hoërskool geselsnaweek 29 April tot 1 Mei 2011 te Groenriviersmond soos gesien deur die oë van ‘n “Aangenaaide Lap”

Mei 18, 2011

My kennis van Namakwaland en sy mense sou deur Namakwalanders bestempel kon word as “Nul”; behalwe dat hulle te ordentlik is om dit ooit te sou kon sê.

Soos meeste ander Kaapse kinders van daai tyd het ek met ʼn vak genaamd “Sosiale Studies” gewroeg en daarin sou ek – as ek in die klas opgelet het – geleer het van die bestaan van Namakwaland met die hoofdorp Springbok. Daar het bokke en skape en diamante – en skynbaar hier en daar mense – voorgekom. Simon van der Stel het ook daar getoer; ja, daar is self ʼn plek genaamd O’okiep. My ma, wat ook in haar jeug eens in Bitterfontein verwyl het, het aan my bevestig dat Namakwaland bestaan. Ook Juf. Naudė, ons Engels-literatuur onderwyseres het bevestig dat dit nie ʼn plek vir gewone, normale mense is nie, deur aan te beveel na aanleiding van ʼn voorgeskrewe boek “Karroo”: “If you want to write a book about the end of the world, Garies would be a good place to start.” Garies? (Dis háár kort hokkierok en die feit dat sy op die reg voorste skoolbank se skryfvlak gaan sit het met ʼn swaai van die been, wat veroorsaak het dat ek nie in háár klas opgelet het nie.)

My oorlede Pa, ʼn “bloubaadjie”, het my eenkeer in 1958 Springbok toe geneem en ons het in die Springbok Hotel oorgebly en by Jan “Clutch” Visser aangedoen. Ek was soos ʼn regte “gawie” en het aanhou klokkie lui vir diens. 2/6 het baie koeldrank gekoop en die kelners met swart broeke, wit baadjies en ʼn vuil vaddoek oor die arm, moes bontstaan.

In die bank in Parow waar ek so 1966/67 gewerk het, het daar Namakwalanders gewerk. (Klein)Jan en Christine (Nieuwoudt) Hanekom; Willem (Battery) en Ita (Pooltjie) Dippenaar; Hermie Nieuwoudt; en Johnny Vosloo. Hermie het Cointreau en Fanta Orange gedrink. Dit sê vir mens alles wat jy oor Namakwalanders wil weet, het ek geweet.

Dit behels my kennis van Namakwaland en sy mense tot September 1970 toe my wêreld eensklaps op sy kop staangemaak word deur ʼn onderwyseressie met ʼn ewe kort rokkie, wat ek in Parow ontmoet het. Hannelien Vermeulen. Nadat sy die nodige speurwerk oor ʼn tydperk van drie weke afgehandel het en my as geskikte materiaal bevind het (om na haar Namakwaladse norme hervorm te kon word, het ek later eers besef), het sy ewe hofvaardig ingestem om met my uit te gaan, by wyse van ʼn oefenrondte. Bietjie later toe ek agterkom sy verskil van Hermie, het ek die groot vraag gevra: “Waar kom jy vandaan?”. Dis mos belangriker vir jou ouers se gemoedsrus as die latere, heel groot vraag. “Alexanderbaai.” (Huh?) “En waar het jy dan skool gegaan? (as jy skoolgegaan het, wonder ek)”; “Laerskool Binnekamp en toe Garies Hoërskool.” Mmmm! Ek onthou toe dat ʼn rugbytoer deur my JGMeiring Hoërskool se span in ʼn verlies uitgeloop het agv sekere onderduimshede gepleeg deur GHS waaroor ek liewers nie wil praat nie.

Ek het Alexanderbaai (die eerste trippie soontoe is ʼn nagmerrie verhaal op sy eie) besoek en kennis gemaak met Oom Jan en Tant Hannie Vermeulen en nog 4 ander klein Vermeulenpies, (nog ʼn verhaal op sy eie) waaronder Jan Vermeulen, Jnr, later HUB van Alexkor die opvolger van die SAD. ʼn Namakwalander waarvoor ek ʼn baie groot bewondering het.

Ons is in 1972 getroud en vandaar het my visie begin verbreed en my kennismaking met Namakwaland en sy mense het begin met ʼn foto van ʼn besoek deur GHS se kinders aan die Burger Strandhuis in 1960. Dit het gevorder tot rugby-, netbal en ander skoolfotos en so ʼn boekie waarin Hannelien die “geboortes, verlowings, vordering en sterfgevalle” van Garisiete ge-rekordeer het. Mooi woord, hè Sarel?

Die jong gesigte op die fotos het vir my mos nou nooit ouer geword soos ons twee nie. Daar was selfs fotos waarvan die wat daarin verskyn het nie eers geweet het nie.

En so het ek die veelbewoeë byname leer ken. Dis ook ʼn storie op sy eie. Party mense het ek net op hul byname op die fotos leer ken. Die honde: Spotty, Lemmetjie; en muise,…. Wag kom ons los dit daar. Groot manne wou mekaar al daaroor te lyf gaan en ander het mekaar jare lank verpes.

ʼn Bynaam moet mos voldoen aan 4 vereistes: Dit moet darem beskrywend van een of ander karaktertrek, gewoonte of voorkoms wees; dit moenie persoonlik (liggaamlik of sielkundig) kwetsend wees nie; die benoemde moet daarmee kan saamleef; en dit moet (ook vir die benoemde) humoristies wees. Net in Namakwaland geld hierdie reëls nie. Jy kan jouself maklik met enige dier, plant, insek, hemelruimdeel, geografiese-, natuurlike of wat ookal aanmekaargeflansde afferring vereenselwig vind en daarmee maar moet saamleef. Perd, hond, kalf, koeëlblad!?

So het ek deur die jare die jong gesigte van Namakwaland leer ken – daar was ook ʼn paar wat ek meer te hore van gekom het toe hulle al ouer geword het – noemenswaardig Adriaan Niewoudt en ook so op TV Arno van Zyl en Kleinjan en Christine Nieuwoudt met wie ons deur die jare vriende geword en gebly het. Hier en daar het ek nog onrmoet, maar ek het maar altyd half-en-half bevooroordeeld gebly teenoor hierdie mense wat so effe uniek is. Ek het ook vir Jasper Nieuwoudt ontmoet op Van Rhynsdorp. Byname het mense geword. Koos Koek, Kalfie, Beursiebek en what-hef-u. Ole Pederson wat al die pad van Denemarke af gekom het vir die gesels (en so iets anders ook!). En dit bring my by mense soos Noekie Dreyer – altwee mensies wat onlangs groot smart verduur het. En nou kon mens met hulle daaroor praat.

Toe bespring facebook my eendag in November 2010. Dis mos soort van verderflik en ek moet dit dus ervaar! Mens, hoe kan die sonde onder my neus plaasvind en ek loop dit mis!

Dit was ook nie lank André Strydom se fb nie, maar word vinnig via Jan Vermeulen ʼn ontdekkingsreis vir Hannelien. En so word die mense vir my ook lewendig; mense wat lekker praat, lekker fotos uit die ou dae deel en vir Hannelien skielik twee wêrelde bymekaar bring. Haar ou plek en die nuwe Sodom en Gomorra waar sy noual tydelik vir 31 jaar in stille bannelingskap vertoef.

Ek self het ʼn heel nuwe Namakwalander begin ervaar. Mense wat nie omgee om te deel nie; mense wat kan lag en veral vir hulself kan lag; mense met lief en leed; mense wat in hul jong jare harde en ongenaakbare tye ervaar het; mense wat ʼn deel van die aarde bewoon het en nou nog bewoon waar ʼn geween en ʼn gekners van tande nie dikwels in die openbaar gehoor word nie, maar wel heel gereeld daar is; mense wat met min van die materiële moes leer klaarkom en dit gemoedlik aanvaar het; mense dus wat nie ʼn keuse gehad het as om ʼn sin vir humor te hê nie, want ek glo dis wat hulle siele kop-bo-water gehou het; mense wat deur alles trou aan hulle herkoms, hulle landsdeel en hul mense gebly het; mense wat na aan hulle Here is en nie skaam is om hulle afhanklikheid van Hom te besing nie – so tussen die lag en trane deur.

Maar een ding het vir my bly ontbreek: die gesig (alhoewel ek die fotos gesien het op fb) and veral die stem en die MENS agter die foto.

Ek het die uitnodiging op fb gesien en besluit dat ek dit saam met Hannelien – wat meeste van die jong gesiggies 50jaar laas gesien het en die 50-jarige herdenking van GHS in 1988 nie kon bywoon nie – sal gaan ly. Sy het haar opgewondenheid wonderbaarlik weggesteek, maar dit was daar en ek vermoed ek sou haar nie met stokke en swaarde kon weghou nie.

Gert Sarrisam het die byeenkoms goed en innig namens die GHS’sers en ons ander ook beskryf, ek gaan dit nie herhaal nie.

Maar van my kant af, wat ʼn belewenis om die stemme te hoor, die ouer mense aan hul kinderfotos te koppel, gesigsuitdrukkings te ervaar, die gelag, geskerts en nou en dan ook ʼn traan; groot deernis tov die wat nie meer met hulle is nie, siekes en krankes; die duidelike gemis van afwesiges. En die handgebare, saampraat, uitdrukkings, aksente (dit was natuurlik nie ʼn halfuur nie toe praat almal weer met ʼn Namakwalandse aksent). Niemand het nog ooit, of besit selfs nou, ʼn motor nie, dis ʼn “mouter”.

Stories – min grappe, want Namakwalanders vertel mos ʼn storie met stories binne in en bakdraaie om seker te maak dat almal weet van wie daar gepraat word en wat van die persoon se ouers, broers, susters, niggies, neefs, plaas, tuinjong, voertuie deur die jare, onderwysers en hulle manewales, ou For en juf so-en-so wat met so-en-so al in matriek gevry het, selfs “Kaffertjie Rooiwal” en ʼn lied of twee wat Adriaan bygesleep het “Ek steek my sak vol sikkerrette..” ens, ens, geword het. Met ʼn kwinkslag aan die einde wat selfs ons “aangenaaide lappe” nevvermaaind die totaal oningeligdes, moeilik vind om in humor te vertolk – stories oor ervaringsvelde, plaaslike mense, politiek, mooiwees en lelik wees, onsuksesvolle selfmoordpogings, ertjies eet of nie eet nie en wat dies meer. ʼn Voorbeeld:

Arno het ʼn halfuur lank gestreef om tussendeur ʼn storie van so 50 woorde oor dié ertjie-etery te vertel. Ek erken ek verstaan dit nog nie, maar man, vrou en muis, selfs die totties buite in die droeë doringboom wat Elrien daar aangesleep het, het histeries verslap en gesit staan en lag. Nog ʼn uitdrukking waaraan jy beter gewoond moet raak. “Gesit staan en lê…”.

Maar; ek moet maar bybly en lag en lag, want hier sien ek in die vertellery die mense agter die prentjie. En dis in sulke mense se hande wat ek met groot plesier my vrou laat (ook maar net vir ʼn dag of wat, want ek was gelukkig gewaarsku deur my “spaai”, oor kasterolie in my drank om my te “confine to barracks”). Ek wil nie uitsonder nie, maar so ʼn verwysinkie of twee na Hannelien en haar maats wat in 1959 in st 6 in GHS saamgekom het, sal seker nie onvanpas wees nie:
Koos Koek – uiteindelik sien ek die jong, aantreklike rugbyspelertjie – wel min of meer, neem ʼn haar hier en ʼn paar pond daar;
Adriaan Niewoudt – ek sien ook die mens agter die ondernemende seun wat by koshuisvensters uitgeklim het om kwepers te “oes” en uit te deel;
Gert Sarrisam – die man van “As murasies kon praat” – seker die mooiste naam vir ʼn boek wat ek al teengekom het;
Beursiebek – darem nie so erg soos die kinders dit gemaak het nie. Gelukkig beteken dit net eenvoudig dat hy op die regte tyd ʼn “zip” kan insit;
Kalfie – die lang man met die mooi skaduwee en die gat in die grond om hom kort genoeg te maak om in die foto te pas;
Ole Bulow Pederson – die sagte man van Alexanderbaai en Garies en Denemarke wie se Afrikaans so wonderlik bewaar gebly het;
Johnny “Vetkoek” Pool – te verstane was daar seker ʼn besondere aanvoeling vir koeke van enige aard onder mense en koshuiskinners wat dit nie te gereeld gesmaak het nie en dus maklik daarmee kon vereenselwig en sulke byname kon aanvaar; Hannelien – wat na 40 jaar nogsteeds weier om my haar bynaam te gee, maar darem die mooiste (al) meisie van die 1959-inname by die re-unie was! Dankie manne!

En die vrouens, moenie die vrouens vergeet nie. Noudie dag, Moedersdag; en as onbevooroordeelde, objektiewe en onaf-hanklike waarnemer kan ek sien hoe die vrouens oor die jare heen – netsoos vir my – ook maar moeder moes wees vir hierdie stoere manne. “Mooie meisies, fraaie meisies…..”

Aan almal wat daar was – dankie dat julle die naweek vir ons ʼn groot affêre gemaak het; wat kan ek sê, behalwe om saam met almal weer te kon sing, net soos Gert herhaal het: “Wat ʼn vriend het ons in Jesus….” Julle het vir my op 67 ʼn nuwe wêredl gewys. ʼn Wêreld wat ek altyd sal bewaar en nooit vergeet nie.

Deur André Strydom, Roodepoort

One Comment leave one →
  1. Annette Vermeulen Bothma permalink
    Mei 24, 2011 21:46

    My magtag, André, ek staan verstom. Ek het nie geweet jy het dit in jou om sulke mooi stories te skryf nie en om te dink jy is nie eers ‘n Namakwalander nie. 10 uit 10!

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: