Slaan oor na inhoud

Ons naweek in die Boesmanland

Mei 18, 2011

Ons skoonseun en dogter  bly op Aasvoëlkop, Loeriesfontein se kant van Kliprand, maar het ook grond in die Boesmanland.  Oor die afgelope jare is my baie vertel van Boesmanland en sy uitgerekte droogtes.  Ons was nog nooit daar nie, maar ek het hulle belowe dat ons sal gaan kuier as hulle daar goed reën kry.  Die afgelope weke het algemene reëns daar geval en dit was tyd om ons belofte na te kom.

Ons het laat die Vrydagaand op Aasvoëlkop stilgehou. Ons opgewonde twee kleindogters het dadelik deurmekaar vertel van die sprinkane wat hulle veld opvreet …. en môre moet Oupa kom kyk hoe Pappa hulle vrekspuit. Ek het vir Tersia gekomplimenteer met haar mooi nuwe kombuis en verbeteringe wat hulle intussen aangebring het.  Sy het glimlaggend haar kop geknik en onnodig verskoning gemaak:  “Pa, julle moet net onthou, in die Boesmanland is daar niks.  Daar’s nie ‘n telefoon of TV nie en die badwater word nog op die stoof warmgemaak. Saans as die krag uitgaan, is dit kerse opsteek.”  “Toemaar, my kind, gelukkig ken ek nog slegter – trouens, ek ken alles en ons kan op enige plek aanpas,”  het ek haar gerusgestel.  “Flippie en ‘n span manne is die hele week besig om sprinkane te spuit, so Pa sal maar moet saamry as hulle veld toe gaan,” het sy verskonend gesê.

Die volgende oggend toe ons op pad is Boesmanland toe, dink ek selfsugtig oor my naweek se sport wat ek gaan mis.  Dis die Protea wêreldbeker-game teen hulle aartsvyand, Indië, en die Super 15 rugby.  Ons kleinkinders, Kyla en Tianna, se gebabbel op die agterkussing onderbreek my gedagtes.  Ek kan mos aanpas, hoor ek my eie woorde.  My oë dwaal oor die menigte kaiingklip en die uitgestrekte lowergroen grasvlaktes.  Dis ‘n ander wêreld dié, sê ek vir myself en ek moet vinnig spoed verminder, want baie water het onlangs oor die pad gestroom.

Na byna 80km draai ons op ‘n smal paadjie af na hulle plaas.  Dis net kaiingklip waar jy kyk.  Dis ‘n droomplek vir die klipgooiers in die Kaap, dink ek by myself.  Toe ons voor die outydse huisie stilhou, waarsku Tersia:  “Oppas, hier’s baie duwweltjies.”  Vier vriendelike skaaphonde verwelkom ons stertswaaiend.  “Ons moet gaan sprinkane doodslaan,” sê ek later vir die kinders nadat ons afgepak het.  Ons vat elkeen ‘n stok en vat koers veld toe met die honde agter ons aan.  “Wat is hul name?” vra ek.  “Vossie, Blessie, Kierie en Tara,”  sê Kyla, die oudste. Ons loop by die kraal verby en die melkbokke skrik vir die honde.  “Oupa, daardie voorste bok is Oortjies en die ene met die groot uier is Spene,” word ek aan die bokke voorgestel.  Ons stap ‘n draai op soek na ‘n swerm sprinkane.  Skielik wemel dit voor ons.  “Dis rooibaadjies!” sê die vyfjarige Tianna.  “Issie, dis nog bontbaadjies,” sê die agtjarige ousus ewe slim. Ons slaan hulle met stokke tot ons moeg is, toe sê Kyla:  “Oupa, ons sal hulle nooit almal vrek kry nie, hulle is te vinnig vir ons.  Pappa moet hulle kom doodspuit.”   Ek gaan sit op ‘n groot klip en sê:  “Vang hulle – Oupa wil hulle saamvat.” Terwyl ek die kriewelrige goed uit hul handjies vat en in my hempsakke steek, sê ek:  “Oupa wil gaan boer met hulle.” Kyla kyk my verbaas aan en sê:  “Hulle sal Oupa se veld alles opvreet!”

Ons stap later huis toe, want Flippie het intussen gekom.  Voor die huis staan twee bakkies met hulle gifpompe op.  Ons groet en Flippie waarsku my:  “Pa moenie aan die bakkie vat nie, want oral is gifspatsels.”  “Dit brand vreeslik, Oom” vertel sy buurman my. Voor middagete sê Flippie:  “Pa, kom ons gaan sny spoor,” en hy laai sy geweer in.  Ek vra nie vrae nie en dink aan die jakkalse wat hulle so baie skade aandoen.  Na ongeveer ‘n kilometer sê hy:  “Hier is nou ‘n swerm verby, maar dis ‘n klein swermpie.” Ek kyk verbaas na hom en vra:  “Waaraan sien jy dit?”  Hy wys na die grond voor ons.  “Kyk, dit lyk of die pad gevee is.” Ek skud my kop en ons ry verder.

Nou is my oë ook voor in die pad en ons sien later dat sy wielspore van die oggend vir meer as 100m doodgevee is.  “Hierdie swerm moet ons soek en spuit,” sê Flippie langs my.  Hy kyk regs.  “Daar trek hulle!” en hy draai sy bakkie tussen die driedoringbosse in.  Ek kyk ook, maar sien niks.  “Waar?” vra ek.  “Sien Pa daardie bruin streep?  Dis hulle.” Ek verbaas my vir hulle spoed en doelgerigtheid.  Dit lyk of hulle met ‘n sesperde-sweep aangejaag word.  Hy ry om die swerm en start die pomp.  Kort-kort kyk hy op die GPS om die rigting te behou. Dit gaan rof, want dis oor kaiingklippe en driedoringbosse wat ons ry.  “Ek moet versigtig wees vir ‘n papwiel, want al my spaarwiele is al pap,” sê hy terwyl hy vir ‘n groot driedoring weglê.  Ek gril as die groot bos die bakkie van voor tot agter skraap.  Ek dink terug aan my kinderjare toe oorle’ Pa ons eerste bakkie gekoop het en ons die deur net effe te hard toegeslaan het.  Dan het hy altyd gesê:  “Liebe jirre, jy slaan deur my siel!” Ek glimlag by die gedagte en skree:  “Flippie, oppas vir die klip!”  Hy glimlag en sê:  “Pa, hierdie klippie is mos niks.   Pa moes nou-die-dag by gewees het toe die jakkals voor my opgespring het.”  “En toe?” vra ek nuuskierig.  “Ek het hom met die bakkie ingejaag en vrekgetrap.”  Ek skud my kop toe hy verder vertel:  “Ek is deur twee kampdrade en my een wiel was later pap, maar ‘n jakkals los jy nie voor hy vrek is nie.”

Ons ry later huis toe en ek wonder wat van die krieket geword het en of Tendulkar nog staan.  Skelmpies luister ek in my bakkie en hoor hy slaan ons aan flarde … dis 260 vir 1 en nog 10 boulbeurte oor.  Ek sidder en sê vir myself:  “Hulle kan 350 kry.”

Na middagete kom staan klein Tianna voor my en sê:  “Oupa, ek wil haasbek wees.  Sal Oupa my tandjie trek, asseblief?”  Ek voel-voel haar ondertandjie en sit versigtig met my ou groot hande die garedraad met ‘n maswerk om. Kort-kort glip dit los, maar sy staan ewe braaf met ‘n breë glimlag voor my.  Met my laaste poging voel ek die garedraad het ‘n stewige knoop gemaak.  Ek gee ‘n vinnig plukkie en siedaar – die tandjie is uit.  Die vreugde is groot toe sy die klein melktandjie in haar palm hou.  “Nou moet jy vir Mamma vra om ‘n SMS na al die tandmuise van die Boesmaland te stuur, sodat jy ‘n geldjie van hulle kan kry!  Of jy kom kuier vir ons, want ons muise is vol geld.”

Later die middag sê Flippie:  “Kom ons vat Pa se bakkie en ons ry almal veld toe en kyk vir ‘n springbok.”  Ek en vroulief kyk bekommerd na mekaar, want sy is heilig op haar bakkie.  “Ek gee nie om om agterop te staan nie,” probeer ek skerm, gedagtig aan vanoggend se rowwe trippie.   “My bakkie is vol gif en ek is bang vir die kinders,” gee hy die finale deurslag.  So versigtig moontlik ry ek tussen die doringbosse deur, maar kort-kort gril my vrou en druk haar naels diep in my skouer in.  Dis later deur spoelslote en oor kaiingklippe en haar naels kerf al dieper.  Ek sit maar die radio aan en hoor hoe ons kolwers sukkel teen Indië.

“Hou stil, Pa!” sê Flippie skielik en maak die radio dood.  Hy gooi die loop oor die bakkie se neus en lê aan.  Ek fluister:  “Dis te ver, Flippie,” want in die laagte is net ‘n dowwe geel dingetjie.  Hy laat sak die geweer effe.  “Ek moet toegee vir die wind wat dwars waai.” Ons hou asem op.  Eindelik knyp hy af en die knaldemper laat die skoot soos ‘n windbuks klink.  Flippie loer nog steeds deur die teleskoop.  “Daar val hy!”.  Ek kyk op die meter en kruie met die Hilux oor die klippe en tussen die driedoringbosse nader, terwyl ek met die een oor hoor dat SA nog 120 lopies kort van 87 balle.  My teleurstelling word onderbreek deur Tianna se opgewonde uitroep.  “Daar lê hy, Oupa!  Pappa het hom doodgeskiet.”

Ek hou langs die bok stil en kyk op die meter terwyl ek ongelowig my kop skud – dit het oorgerol tot op 500 meter.  Ek wens die skut geluk toe ons die uitgegroeide ram agter in die bak gooi. Die son is besig om water te trek toe ons langs die huis stilhou.   Groot is my verbasing toe Chris Swanepoel sê:  “Suid-Afrika kan nog hierdie kragmeting wen, maar dan kort ons ‘n paar grenshoue.”

Ons slag die bok af en die ligte wind dra Chris se opgewonde stem wat sê:  “Dis Johan Botha wat ‘n sierlike ses oor middebaan moker.” Hy vra verlof by die nuusateljee om die spannende wedstryd te voltooi. Ek steek die vuurtjie aan, maar my moed gaan lê in my skoene toe hy sê:  “Daar stap Johan Botha, maar hy het sy kant gebring.”  Ek sit met my kop tussen my hande en sien nie die knetterende vuur raak nie.  “Dis die laaste boulbeurt – ses balle en dertien lopies word benodig.  Ons hou vir Petersen dop wat die eerste bal inwag.  Dis ‘n ses!” Die skare van 50,000 is tjoepstil.  Ek lig my kop weer op toe Chris uitroep:  “Suid-Afrika wen hierdie naelbyt-kragmeting teen Indië!”

Dis of sy opgewonde woorde ‘n seël plaas op ‘n onvergeetlike naweek – ‘n naweek wat ek weer my grootwordjare as kind op ons wintersplaas beleef het.  Dis asof hierdie eenvoud waarmee jy grootgeword het jou agtervolg en laat terugverlang na die sorgelose vreugde van kindwees.

No comments yet

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: