Ons reis met die MSC Sinfonia
Ons Namakwalandse boere breek maar min weg vir ‘n vakansie, want jou voortbestaan wentel om jou boerdery. My vrou en familie weet ook dat hul timing reg moet wees as hulle my wil oorhaal vir ‘n “wegbreek”. Soms konkel hulle agteraf ‘n vakansie en wag net vir die regte oomblik met die hoop dat ek in die yster sal trap.
Terwyl ons tee drink, sê my skoonsuster, Sally, uit die bloute: “Het julle die advertensie in die nuutste Huisgenoot gesien?” Ons koppe draai na haar en my vrou sê: “Vertel – jy maak ons nou nuuskierig.” “Hulle adverteer ‘n bootreis vanaf Durban na die Portugese eilande.” Ek drink rustig my tee, want ek het klaar belangstelling verloor. Sy borduur verder: “As een couple betaal jy die volle bedrag, maar as ‘n tweede couple die kajuit deel, betaal hulle niks. Is dit nie wonderlik nie? Dan deel julle die bedrag – dis ‘n goedkoop vakansie.” Sy draai haar kop in my rigting. “Gert, kom ons gaan almal…..wat sê jy?” Ek verstik amper in my tee. My vriend, Renier, en sy vrou, Marlene, kuier by ons en terwyl ek sukkel om te sluk, sê hy: “Met my en Marlene is dit okay.” Almal se oë is nou op my gerig en ek sien my vrou se opgewonde gesig en ek raak week. “Dis net vir ‘n jollie naweek saam met Kurt Darren,” sê een en in ‘n onbewaakte oomblik knik ek my kop. “Hierop moet ons drink,” sê een en lig sy koppie. Ek besef dadelik hulle het my met ‘n slap riem gevang, maar die gedagte dat ek en my vrou daardie week 41 jaar saam is, regverdig die roekelose besluit. Dis asof my besluit deurslaggewend was en ‘n paar minute later word my ander broer en susters almal gebel en opgekommandeer vir die seevaart, want ons moet almal saamgaan.
Die volgende paar maande word daar opgewonde oor en weer oor die bootreis gesels, want van ons nege broers en susters kan net twee nie gaan nie. Saam met Renier en Marlene is ons twaalf stuks. Ek sluit my af, maar ek kan nie help om terug te dink aan my laaste bootreis meer as dertig jaar gelede nie. Ek het saam met wyle oom Erasmus van Wyk gaan snoek vang by Hondeklipbaai. Ons het vroeg die oggend met een van die kreefskuite uitgevaar en daardie dag het ek so seesiek geword, dat daar pal ‘n paar hans seevoëls om my gedraai het met die hoop ek gooi vir hulle nog kossies uit. Skielik het die skipper geskree: “Lyne!” Ek het my snoek se nek gebreek en verbaas vir die man langs my gevra: “Wat gaan aan? “ “Kan Meneer nie sien die see tel op nie?”
Teleurgesteld het ek my lyn opgerol en gevoel hoe die boot begin rol. “Die mis is besig om toe te trek en kyk daardie ‘wit perde’ op die horison,” het oom Erasmus opgemerk. Ek kon nie help om die kommer in die ouer visserman se stem waar te neem nie. Ons twee buurmanne het bekommerd na mekaar gekyk toe die sleepmis soos ‘n groot kombers om ons toevou. Skielik was die vangs nie meer belangrik nie. “Die wind raak al sterker”, het ‘n ou visserman geskree, terwyl hy sukkel om op die wiegende boot sy snoek te vlek. Ons het later almal soos verlore skaap op die dek saamgedrom, want die mis was nou so dik, dat ons niks om ons kon sien nie. Onder elkeen se neus het ‘n paar lastige druppels water gehang, terwyl die klein dieselmasjien sukkel om vir Diana voort te dryf.
“Hoe weet Jackman ons is op koers?” het ek later bekommerd gevra. Ek het aan my vrou en klein kindertjies by die huis gedink wat nog vanoggend in droomland was toe ek vieruur daar weg is. “Hy’s ‘n ou skipper en hy kyk op sy kompas,” het oom Erasmus my probeer kalmeer. Dit was asof my skietgebede beantwoord word toe die mis effe lig en iemand skree: “Ek sien die ligtoring!” Toe ek vaste aarde onder my voel, het ek myself belowe: blou water, op jou vaar ek nie gou weer nie.
Gedagtig aan hierdie nare ondervinding het ek myself verwyt dat ek my so maklik laat vang het. Terwyl ons die “groot dae” langs die see uitgespan het, is daar rondom die vuur by Koringkorrel bespiegel wat daar op die boot vir ons wag. Bedags het die vrouens sommer na Boetiebaas-hulle toe gery en by hulle gaan kers opsteek, want hulle was die vorige jaar ook saam op die boot.
Een aand, terwyl ek ‘n kreef plunder, hoor ek een sê: “Ons moet vir ons baaibroeke kry, want daar’s glo twee swembaddens op die boot. Ons gaan met klein bootjies na die eiland toe ook.” Ek sluk amper ‘n kreefpoot heel in soos ek lag, want hoe gaan ons almal in baaikostuums lyk? Almal is al aan die verkeerde kant van 60.
Een oggend staan ek met ‘n slegte verkoue op en hoes die hele kamp wakker. “Jy moes nie gisteraand in die koue uitgegaan het nie,” verwyt my vrou my. Almal is bekommerd, want dis nog net drie weke voor ons vaar. Ek word gesmeer en gesalf met Herbaheat dat ek na toor ruik. Die verkoue is later beter, maar ek hoes sonder ophou. Saans as ek te lui is om hout te gaan haal, gee ek net so ‘n paar diep hoese, dan hoor ek een sê: “Hoor daardie bors! Jy staan nie vanaand op om te gaan hout haal nie, want die wind is te koud op jou bors.” Ek is soos ‘n seuntjie bederf, want by ons crew moes nie ‘n fout kom nie.
Die aand voor ons vertrek, sê my vrou: “Jy moet môre op Vredendal vir jou ‘n swembroek koop.” “’n Swembroek?! Wat het van my swembroek geword wat ek op honeymoon gedra het?” vra ek stout. “Is jy laf?” en haar oë rus op my boepie. “Bring dat ek hom aanpas,” treiter ek haar. Sy grawe in my kas en kom met die verbleikte blou dingetjie te voorskyn. Ek skud myself moeisaam in paaiemente in. Toe ek die laaste entjie na my naeltjie inbeur, is ek skoon kortasem. My oë dop om en my vrou giggel. “Kyk na my fris knoppie,” sê ek verspot. “Newwermaaind jou knoppie, waar’s die broek se toutjies? Hulle sal nooit bymekaar uitkom nie,” en sy begin hardop lag. “Lag jy vir my of met my?” vra ek knorrig in my eer gekrenk. “Pak hom in, ek gaan nie ‘n nuwe een koop nie.” “Jy gaan ‘n bespotting wees …. ek sê maar net.” “’n Bespotting? Hoe dink jy gaan julle spul ou vrouens in baaikostuums lyk?” kap ek terug.
Vyfuur die oggend val ons in die pad. Terwyl my vrou die hekke oopmaak, kyk ek in die motorligte na haar mooi lyf vir haar jare. Hoe gaan sy na al die jare in ‘n baaikostuum lyk? Half agt laai ek haar op Vredendal by Christine se haarsalon af. Terwyl ek vir haar wag, dink ek aan ons gereelde besoeke by Christine as ons Kaap toe ry. Hoe belangrik is dit nie vir ‘n vrou om goed te voel nie! Ek gun gaan deesdae alles, want desjare, toe ons kinders grootgemaak het, was hulle die belangrikste en het die boervrouens hulself afgeskeep.
Sy kom met ‘n skewe koppie uitgestap – elke haartjie op sy plek. “Nou’s jy reg vir die Sinfonia,” spot ek. “Ek moet nog by Truworths gaan kyk vir ‘n baaikostuum,” sê sy. “Is jy ernstig?” vra ek. “Wil jy hê ek moet kaal swem?” vra sy sinies. “Ok, kry vir jou die mooiste, beste – ek sal betaal,” sê ek braaf. “Jy moet kom kyk as ek aanpas,” vra sy dankbaar vir my buigsaamheid. “Meneer kan maar ingaan,” sê die jong dametjie ‘n rukkie later. Ek bekyk haar op en af en dink onwillekeurig terug aan haar jong, ferm lyf van ons jongdae. “Hoe lyk dit?” vra sy bekommerd toe ek effe te lank huiwer. “Ek wil jou bene ook sien.” “Moenie laf wees nie, ek gaan nie my bene wys nie. Ek draai ‘n sarong om my middellyf.” “Vat dit maar, Ma, ek dink nie ‘n tweestuk sal jou meer pas nie.” By die betaalpunt rek my oë, want byna ‘n halwe dorperlam word ge-offer.
“Het jy al ons naarwordpilletjies gekoop?” Sy knik. Toe ons in die bakkie klim, sê sy: “Ons moet noual begin drink.” Die sonnetjie het sy laaste strale teen Tafelberg gegooi toe ons Kaapfontein binnery. Die aand voor die groot reis trek ons almal opgewonde saam om ‘n vleisie te braai. Ons vier mans kry elkeen ‘n grys seevaarderskep met ‘n rooi anker, asook sokkies met ‘n ankertjie op. Aan tafel kyk ek die vrouens deur. Hulle is almal opgedollie en daar’s ‘n paar brunette, ‘n swartkop, een met highlights in die hare, maar nie ‘n enkele gryskop te bespeur nie.
Vrydagoggend vroeg, toe die Kaapse hoenders nog op hul steiers sit, spoed ons op die R300 na die internasionale lughawe. Op die lughawe drom ons saam. Oral word groot reistasse op wieletjies gesleep. My oë dwaal .. ek soek die manne met die keppe. Ons crew kry later mekaar. Die opgewondenheid kook. Ons boek in. Buite op die aanloopbaan staan British Airways vir ons en wag. Oral merk ons passasiers met Huisgenootsakke op. Ons gooi ‘n warm glimlag vir mekaar.
Terwyl ons deurstap, fluister ek: “Dis almal bootmanne.” Buite waai ‘n paar koue miswolkies verby. Sus Marie stap vanoggend met ‘n nuwe tred. Die linkerbeen swik so effe soos ‘n senter wat ‘n binnegaping wil vat en daar word net so liggies op die kierie gedruk. Byna laaste stap ons span tussen sittende passasiers deur. “Ek is Piet Retief en ek sal hierdie boerevolk na Umgungunglovo lei”, sê ek hard. Almal lag.
Ons gespe ons vas, die Engelse ystervoël gaan maak ‘n draai en toe trek die kaptein die kontrole oop. Ek sit by die venster en terwyl die enjin brul en ons spoed optel, vat my gedagtes my ver terug na my kinderjare. My oë rus op die vinnigbewegende vlerk en ek dink onwillekeurig hoe ons kinders nog ‘n entjie agter Pa se eselkar vasgehou en saamgedraf het tot ons beentjies moeg geraak het.
Ek skrik uit my mymering toe die vliegtuig se neus lig en daar kom lê ‘n hol kol op my maag. Onder flits die wingerdboorde verby. Die groot damme water blink onder ons. Ek wens net vir een dam vars water in ons dorre wêreld waar my Bolandse vrou al die jare moet bly. Hoe sal ek haar nie bederf nie? Maar hulle is met so min tevrede.
Dit word stil rondom my. Sus Marie is lankal in droomland. Haar valstande het vorentoe geskuif. Die ander vrouens sit kiertsregop soos hase en slaap, want die haartjies moet tog nie aanstoot kry nie. Ek skrik uit my drome wakker toe die miswolke soos ‘n groot wit kombers oor die landskap getrek word. Dit lyk soos ‘n feetjiewêreld. Almal raak nugter wakker toe die kaptein ons landing naby Durban aankondig. Die groen landskap en wuiwende suikerplantasies is duidelik sigbaar, maar dis die nuwe Kingsmead Stadion wat my oog vang.
Op die lughawe groet ons vir broer Koos en sy vrou uit Bobbejaansberg. Elkeen swaai sy Huisgenootsakkie oor skouer en klim die bussie wat ons hawe toe vat. Ons jil en gesels soos opgewonde skoolkinders, want ons kan nie wag om die boot te klim nie. Toe ons weer sien, toe lê die MSC Sinfonia in al haar majesteit voor ons. Ons bagasie word gelaai en my vrou se tas lyk verdag. Sy word gevra om dit oop te maak. “Wat soek julle?” vra sy met ‘n frons tussen die oë. “Dame, dit lyk of daar drank in u bagasie is.” Sally lag. “Jy wat nie eers drink nie, word vir drank deursoek!” Dit blyk toe dat ‘n boek bo in die tas op die skerm na ‘n boks wyn lyk.
In die grote saal bondel ons bootvriende saam. Sus Betta breek weg en soek ‘n eetding. Oorkant ons sit twee swaargewigte met ‘n sak biltong en droë wors op hul skoot en hul kakebene roer aanmekaar. Terwyl almal wag, glip ek uit en gaan besigtig ons vaartuig. Ek tree haar af en na 350 meter is ek al kortasem … glo net so lank soos die Titanic. By die sykant van die romp is hulle druk besig om tonne kosvoorraad in te skeep. Julle sal nog moet gaan haal, want ons eet soos Mopaniewurms, praat ek met myself.
Ons wag, want daar het reeds ‘n lang tou gevorm. Die koppe draai toe Kurt Darren en kleine Dunay by ons verbystap. “Ek wonder wat hy vir my handtekening sal betaal,” fluister ek stuitig vir my vrou. Eindelik, na wat soos ‘n ewigheid gevoel het, is dit ons beurt. Sus Marie het haar eie ry langs ons, want sy skuif van stoel tot stoel vorentoe. Ons paspoorte word ge-scan en ons gaan aan boord.
Ons koffers staan reeds voor ons kajuite. Elkeen ondersoek sy nessie en dit lyk heel gerieflik. Ons gaan soek die eetplek. In die hysbak sien jy jouself lewensgroot, want die spieëls weerkaats ‘n paar gesigte van jouself. Op die elfde dek is die grootste kuierplek. Dis warm en bedompig. Voor die kroeg staan reeds ‘n paar dors manne. Ons ondersoek alle eetplekke. Terwyl ons in ‘n lange tou staan, dink ek weer aan my koshuisdae op Garies meer as vyftig jaar gelede.
Rondom half drie blaas daar skielik ‘n moerse toeter. Ek skrik my gat af toe my bord amper uit my hande val. Dit klink soos iemand wat op ‘n reuse bamboes blaas. Die masjiene onder ons grom en stadig begin die Sinfonia beweeg. “Hier gaat ons!”, skree een. Ons laai ons borde vol en ek verwonder my aan die swartkop mannetjies met hul netjiese wit baadjies en swart broeke wat met die hoë stapels borde bokant hul skouers loop. Ons eet rustig en min het ek geweet dat dit die laaste goeie bord kos was wat my vrou op die boot sou eet.
Ons ontspan op die boonste dek en nou wieg ons heen-en-weer. “Kyk, dis klein wit vissies wat vlieg!” skree ek. “Dis voëltjies, man.” Ek stry. “Jy ken nie ‘n voël nie, man,” sê broer Koos. “Al voël wat jy ken, is ‘n hoender.” “Vat julle maar die wen,” sê ek afgehaal. By die kroeg staan die bittereinders……hulle kuier en gesels, want hierdie naweek op die Sinfonia moenie vergeet word nie.
In die swembaddens baljaar die jongspan. Op die kant van die dek lê ronde oompies en tannies uitgestrek op hul dekstoele in die son en baai. Die manne voor die kroeg lig hulle glasies vrolik. Die vakansie tel nou stoom op. Ons gesels en jil onder mekaar. Broer Koos se kamera is nie ‘n oomblik stil nie. So ‘n vakansie sal ons broers en susters nie gou weer meemaak nie.
Ek kyk nou na die windbranders in die verte en sê: “Dis hoekom die boot so tekere gaan .. die see is omge-ellie.” My vrou word al stiller. “Ons moet tog ons pille gereeld drink,” sê Sally en gooi vir ons elkeen ‘n paar in die mond. “Moet hulle nie kou nie,” word ons vermaan. “Lyk nie hulle help vir my nie,” sê my vrou en staan op. “Is jy naar?” vra ek bekommerd. Sy knik haar kop en stap onvas badkamer toe. ‘n Frons kom sit tussen my oë. “Dis nou jammer .. ek het so gehoop sy geniet die vakansie,” sê ek teleurgesteld.
Oor die luidspreker kom ‘n aankondiging: alle passasiers moet op die dek aantree vir ‘n dril. Reddingsgordels word aan almal uitgedeel en ons word geleer wat om te doen sou die boot in die moeilikheid raak. “Hy moenie neuk nie,” sê ek terwyl ons die oranje besigheid vasgespe. Ek toets die fluitjie en wens ek het dit gehad toe ek as kind skaap opgepas het.
Die aand trek ons ons kisklere aan om in die restaurant te gaan eet. Hestelle trek nie eens aan nie en bly net in ‘n bondeltjie lê. Die nag, terwyl die boot voortstoom, is sy kort-kort badkamer toe. Sy voel goor en ek kry haar innig jammer. Saterdag-oggend is die Portugese eiland in sig. Kort-kort vertrek ‘n bootjie met passasiers na die eiland. Ons besluit om eers middag te gaan, want dis glo baie warm op die eiland. Toe dit ons beurt is, gaan groet ek my vrou in die kajuit. “Hoe voel jy nou?” vra ek bekommerd. “Hulle kan my maar oorboord gooi,” prewel sy floutjies. Gelukkig het broer Sarel vir haar setpille by die hospitaal gaan haal voor ons met die bootjie vertrek. Ek haas my om in die vertrekkende ry in te val. Ons los drie van ons siek maats agter – broer Koos sal na hulle omsien. Jongmanne help ons op en ek skree: “Captain, maak die voorperde los!” Hy kyk my met skaapoë aan en sy wenkbroue lig – ek sweer hy het nog nooit ‘n perd gesien nie. Ons twintig passasiers klou verbete vas, want dit gaan rof. Sus Marie druk haar wit hoed van oumagrootjie vas. Dis voor opgeslaan en langs die kant pryk ‘n groot pienk roos.
Ek loer na die swaargewig oorkant my en wonder of die reddingsbaadjie hom sal bo hou sou hier ‘n foutjie kom. Die eiland kom al nader. Die vrouens gil toe die bootjie se neus die sandbank tref. ‘n Paar jong gespierde manne help eers die vrouens af. “Dan’s dit ‘n paar mooi mans,” fluister sus Marie kwylend. Twee gryp haar met kierie en al en dra haar tot op droë grond. Opgewonde gooi sy sommer haar kierie weg en sê: “Dit was nou lekker!”
Ons dwaal tussen die stalletjies rond. Dis bedompig en koue biere word uit koelhouers gehaal. Ons drie mans knak elkeen ons eerste bier, want hier sal ons seker nie weer kom nie. Terwyl ons later onder ‘n afdak sit en eet, ons moet ons die vriendelike Bennie Masinga. Hulle is maar arm en werk is skaars, vertel hy ons. Gulsig eet hy aan die kos wat ons hom gee. Toe ons hom ‘n geldjie gee, ontvang hy dit met bakhande en sê: “Dankie, my oubaas!” Verbaas kyk ons na mekaar. Ons groet en sê: “Mag jy die volgende president van Mosambiek word!” Hy glimlag met wit tande.
Almal koop goedjies en wag vir die eerste boot wat vertrek. Ek draai om en gaan snuffel nog rond. Ek soek vir my vrou en kleinkinders presentjies en laat hulle mooi toedraai, want op die bootjie gaan dit rof. Ek besef later ek is die enigste van ons span wat agtergebly het. Ek loer na die son en kyk na die honderde mense wat in die tou staan en wag. As ek agter moet inval, sal dit baie laat word.
Met die presentjies in ‘n sakkie stap ek onverstoord strandlangs en sê vir myself, ‘n boer maak ‘n plan. Regoor die vertrekkende bootjie gryp ek ‘n reddingsbaadjie en iemand skree: “Spring, omie!” Ek was tot onlangs ‘n perderuiter en wip my oor, terwyl twee pare sterk arms my vang. Ek beland tussen die bene van ‘n jong dame. “Oppas, oom!” sê sy vriendelik. Sy sit oorkant my, maar sy is breed geheup. Ek staan op met die reddingsbaadjie in die een hand en die presentjies in die ander. Hulle stoot die bootjie die water in, terwyl ‘n dwarsgolf ons tref. Ek verloor my balans en val op haar breë boesem. Sy vang my vas en amper versmoor sy my. “Jammer,” sê ek verleë. “Jy sal nie gou weer so ‘n man in jou arms hou nie!” probeer ek ‘n grappie maak. Sy bloos, terwyl ‘n paar sandkorrels in die poortjie verdwyn. “Dis all right, oom,” sê sy skamerig.
Die kaptein trek die refs oop, maar ons word deur die ander bote verbygesteek. “Ons is oorlaai,” sê hy later moedeloos toe ons die Sinfonia nader. Hy gooi ‘n wye draai en pyl op die aflaaipunt af. Hy misgis hom en tref die kant met ‘n harde slag. My maatjie gil en val twee van ons plat. Gesmoord skree ek van onder haar: “Kaptein, wat de hel maak jy?” Die boot het baie water geskep. “Sorry for the landing,” sê hy verskonend. Ons word met ywerige hande afgehelp en bondel die laaste hysbak in. Laaste glip ‘n jongman met ‘n deurmekaar kuif in. “Kom, Kurt, ek wil saam met jou sing!” sê ek onder gelag. “Dis reg so, my omie,” sê Kurt Darren met ‘n glimlag. Toe die hysbak op die agste vloer oopskuif, sê ek: “Voorspoed vir die aand, Kurt!” “Dankie, my omie! Kom sing vanaand saam.”
Ek soek my maats op en vroulief is ook beter. Sy is bly oor die geskenkies. Ons eet vanaand vroeg, want Pieter Koen en Kurt Darren tree op. Toe ons terugkom, sit die mense reeds bankvas en geen stoel is beskikbaar nie. Die meeste van ons gaan sit op die muurtjie langs die swembad. Terwyl die musiek oorverdowend bler, soek ek en Renier vir ons stoele. Tussen hordes van mense kry ons later twee stoele. Dis nog vier ure voor die show, maar niemand verlaat sy stoel nie. Ek stap rond en slaan liggies op my sak en sê: “Tien dollar vir ‘n stoel!” Hulle kyk my vyandig aan. “Twintig dollar?” Geen raksie. “Hoe lyk dit met vyftig dollar?” Die wenkbroue lig. ‘n Man staan op en vra: “Wanneer betaal jy?” “Tagtig dollar vir twee stoele!” en ek kyk na sy vrou. Hy druk haar aan. “Jy’s laf, ek gaan nie heelaand staan nie.” Almal lag en ek en Renier gaan sit op die twaalfde dek. Sy vrou, Marlene, kry by ‘n vriendin nog ‘n stoel. In die skemerte sluip iemand agter op die verhoog rond. Ek herken die keppie en stamp vir Renier aan toe ek sien Sarel gaps twee stoele. Alle aandag is egter voor op die verhoog waar ‘n lot jongmense in flikkerende ligte dans.
Die aand is besig om stoom op te tel. Voor die kroeg dans die jongmanne, ander hang aan mekaar, ander hou hul glasies in die lug. Die vrolikheid is aansteeklik. Onder die harde gedoef-doef beur ek my pad deur die menigte om vir vroulief in die cabin te gaan haal. Sy’s nog bleek, maar musiek is in haar bloed en ons almal maak ons tuis reg onder die verhoog. Ek gaan soek vir Renier en Marlene en met stoele in ons hand beur ons deur die lot mense wat bankvas sit. Toe ons tussen ons maats gaan sit, skud ek my kop, want die musiek is oorverdowend vir my gevoelige oor.
My oë val op drie tantes voor ons. Al drie is breed om die heupe. “Bliksem,” sê Renier. “As die Stormers hulle vir ‘n voorry kan kry!” Skielik word die musiek gedemp. Die seremoniemeester, Stephan Cloete, verwelkom almal en stel vir Kurt Darren aan die gehoor voor. Die skare raak mal toe Kurt die mike vat en lostrek. Voor die tantes spring ‘n vrou op en sing met haar hande in die lug. Sy word deur die middelste tante afgepluk. “Jy staan reg voor ons!” Hulle gluur mekaar aan. Die vrou reageer briesend: “Luister dame, ek sit al van vieruur vanmiddag en wag. Ek het gekom om my aand te geniet.” Die ligte op die verhoog flikker, terwyl Kurt almal meevoer. Onder die verhoog staan ‘n vrou ook op ‘n stoel. Sy het wit klere aan, maar haar onderklere skyn helder deur. Die hele lot onder die verhoog staan en wieg terwyl hulle met glasies in die hand uit volle bors sing. Die kroegmane is moedeloos, want van alle kante word bestellings geskree, terwyl daar ongeduldig op die toonbank geslaan word. My bek hang oop, want voor my speel ‘n fliek af wat al meer interessant raak.
Skielik verskyn die kaptein op die verhoog met ‘n papiersak in sy hand. Die musiek word uitgedoof. “Dankie tog,” sug ek. “In die sak is my kapteinspet, Kurt. Ek leen dit vir jou vir vyf minute!” Kurt sit die wit kep op en trek weg met “Kaptein, span die seile!”. Pandemonium bars los en ‘n meisie in swart dans met haar wilgerlatlyfie skuins langs ons. Sy wieg haar lyfie op die maat van die musiek en sing uit volle bors met haar bekkie wawyd oop soos ‘n ma-eend wat haar kleintjies roep. Agter haar sit haar maatjie en voetjie klop – die een voet in gips. Selfs sus Dina staan teen die pilaar en wikkel haar lyfie. Verbaas sien ek dat die voorry van die Stormers ook op hul voete is en hande klap. Hulle blok ons af. Ons frons, maar ek skree vir my maats: “Toemaar, hulle kan nie lank staan nie.” Hulle probeer hard om ook te wikkel, maar elke tien sekondes is daar ‘n klein beweginkie te bespeur tussen die walle van die vaskopstut. As sy haar arms laat sak, is daar ‘n diep kuiltjie in haar elmboog …. lyk jy’t ‘n aartappel daar uitgesuig. Soos een man sak die voorry moeg op hulle stoele neer. Hulle bring ‘n papiersak te voorskyn en die kakebene roer. ‘n Vrou skuins langs my gee haar slapende kind vir haar man aan, spring op haar stoel en gaan soos ‘n uitgelate kind tekere. Ons skud ons kop in ongeloof. Ek beleef vir die eerste in my lewe massahisterie. Skuins na twaalf is die show verby en tot na drie-uur kon ek nog die doef-doef hoor soos die bittereinders partytjie hou. Die kroegbaas se geldlaai kla nie.
Die volgende oggend stap ek by ‘n paar jongmanne verby. Elkeen het ‘n donkerbril op. “Manne, die son is vanoggend ‘n bietjie skerp, né?” spot ek. Hulle lag. “Omie, moenie so hard praat nie!” Ek glimlag. “Die musiek was net te hard vir ons oumense,” kla ek. “Van watse musiek praat oom?” “Maar die musiek van Kurt Darren,” sê ek verbaas. “Was hy dan daar, oom?” Ek lag en skud my kop – hulle was op ‘n nog beter plek.
Later die oggend gaan ek by ‘n openbare toilet langs die kroeg in. Ek hoor ‘n paar jongmanne gesels en een sê: “Op hierdie boot drink ek al my geld uit.” “Dis niks, ou pel, leen by my, want ons sal nie weer gou boot ry nie.” Die ander lag. “Dis vandag ons laaste dag … vandag maak ons alle honde los wat nog vas staan.” Ek stap later by hulle verby en sê: “Geniet dit, boys, maar onthou, agter hierdie lekker is daar nóg ‘n lekker.” Hulle kyk my verbaas aan, maar ek verduidelik nie wat ek bedoel nie.
Dis ons laaste dag en my vrou voel nog steeds ellendig. Ek gaan soek die skeepsdokter. Ek is ‘n bol senuwees, want ek sukkel om my beste Engels bymekaar te maak. Skielik staan ek voor hom. Ek stotter ….kan nie ‘n Engelse woord uitkry nie. Ek wys na my borste soos ‘n dowe mens ‘n vrou beskryf. Hy knik begrypend. Ek probeer verder verduidelik, maar ons Namakwalanders se hande is gewoonlik te vinnig en jou sukkelende bek ver vooruit. Ek haak vas en demonstreer deur te maak of ek braak. Hy spring eenkant toe, want hy dink dis rerig so. Hy knik weer en sê: “Your wife must come for the injection.” Ek stap natgesweet die gang af om haar te gaan haal en kry vir Oubaas van Sewende Laan wat ook met sy vrou op pad dokter toe is.
Sondagaand gaan kyk ons ‘n show en later is daar ‘n towenaar wat ons met sy toertjies vermaak. Hy boei ‘n jong meisie, sit haar in ‘n staalhok en sluit haar met kettings toe. Hy steek staalpenne kruis en dwars deur en waai ‘n geel doekie. Hy spring op die hok en skud homself in ‘n geel sloop en siedaar – die meisie staan buite en hy sit geboei in die hok. Almal klap hande.
Ons beweeg uit na ‘n ander lokaal waar Getroud met Rugby aan die gang is. ‘n Paar manne word na die verhogie gelei, waarvan broer Sarel een is. Daar word vrae aan hulle gevra en so word hulle uitgedun tot net drie finaliste oorbly en Sarel is een van hulle. Die seremoniemeester sê later: “Die een wat die meeste bra’s uit die gehoor kry, is vanaand Mnr.Sinfonia!” Vrouens maak ywerig hul straps los en gooi. Die gehoor raak mal, want die gryskop man wen met die meeste bra’s voor sy voete! Terwyl die kamera’s flits, word broer Sarel as Mnr. Sinfonia gekroon, tot groot vermaak van veral sy familie.
Dis al laatnag en die vrouens moet pak, want ons word oor die mikrofoon gewaarsku dat die tasse môre-oggend twee-uur in die gang moet staan om gelaai te word. Moeg, maar tevrede kruip ons in.
Kort na brekfis vaar ons Durban se hawe in. Die meeste passasiers is bo-op die elfde dek. Ons monde hang oop toe die kolos van ‘n passasiersboot ook die hawe binnevaar – die Queen Mary 2 vaar stadig by ons verby met haar vyfduisend passasiers aan boord. Sy is seker twee keer so groot soos die Sinfonia. Ons stap later die hysbak binne en besef ons vakansie het tot ‘n einde gekom. Ek loer na my bleek vrou en ek fluister vir haar: “Toemaar, ons is netnou op land.”
Op die lughawe eet ons vir oulaas saam. Dit word tyd om te groet, want broer Koos-hulle vat ‘n ander vlug. Hulle vlug word aangekondig en ons neem afskeid. “Ek sal die foto van ons almal met die Sinfonia op die agtergrond vir julle aanstuur,” is sy laaste woorde aan ons.
Toe ons loop om te gaan inboek, kom sus Liesbet vir oulaas met twee hande vol draairoomyse aangestap. Alles is besig om te smelt van die warmte en tap teen haar arms af, terwyl sy aan almal gelyktydig probeer lek. Toe sy myne probeer aangee, val die roomys voor my voete op die grond, terwyl Liesbet met haar bene gekruis staan en lag dat die personeel saamlag.
Wat ‘n herinnering! Ons sal eendag op die ouetehuis se stoep daaraan herkou.
Oom Gert, ek het hierdie vertelling vreeslik geniet – en kan nie ophou lag nie! Dit is wonderlik.
Hi Retha! Dit gaan bietjie besig hier en hy kry nie kans om goed op te sit nie. Ons is bly jy het dit geniet. Liefdexx
Oom Gert dit was ‘n goeie vertelling! Ons kon alles saam beleef en het dit geniet hier in die hospitaal! Dit het die lag weer ‘n bietjie aangewakker!m Jammer vir tannie Hestelle… Dankie. Groete en liefde Marinda en sus Johanna
Wonderlik dat jy dit in die hospitaal kon lees! Ons dink so baie aan julle en hoop jy word elke dag beter. Hoe gaan dit nou?
Lief vir julle! t Hxx
Dankie Gert vir die moeite om ons ondervindinge op die skuit te boekstaaf. Het die storie baie geniet en alles weer herleef. Voel nog steeds jammer vir Hestelle wat so onder die weer was met seesiek. Naas bankrotskap is naarwees die ergste.
Al was ek so siek, was dit steeds lekker! Ek sou baie graag na die eiland wou gaan, maar net die gedagte aan die vaart soontoe, maar my weer siek!
Lag ek nou uit my maag uit. Ons was ook op die skip en toevallig op dieselfde rubberboot as julle. Miskien is dit ons wat so geskreeu het, maar ek kan onthou julle het vertel van die broers en susters wat op die skip gegaan het. Volgende jaar gaan ek saam met my boetie en sussie, want ek het besef die lewe is so kort. Ons gaan op die huisgenoot musiekboot en vir hulle wat dit die eerste keer doen, gaan dit n belewenis wees
Hoe lyk dit, gaan julle weer? Betsie Kruger
Jammer dat ek nou eers kommentaar, maar ek maak nooit tyd om op die blog te kyk nie – skande! Is so besig met Gert se ander 2 boeke wat al klaar geskryf is, maar ek moet dit tik. Elke dag is so vol ander dinge, dat ek nie gou genoeg daarby uitkom nie. En vandag gaan my huishulp/regterhand/linkerhand ook hospitaal toe, so nou sal ek nog minder tyd kry.
Betsie, teen hierdie tyd is julle seker alweer op die boot – geniet dit! Ek was laas so siek, dat ek nie eers daaraan dink om weer te gaan nie!
Ek sal probeer om meer getrou te kyk en vra dat Gert weer iets opsit. Groetnis