Slaan oor na inhoud

Garies Geselsnaweek 2012

Mei 18, 2012

Die naweek by Groenrivier het te stadig nadergekom, want ons was opgewonde om weer ons Gariesfamilie te sien. In jou agterkop het jy gewonder wie daar sou wees en of dit weer so lekker sou wees soos laasjaar. Gelukkig het ek lankal verlof ingesit en my besigheid so gestelstoot, want in my dagboek was daar ‘n groot kring getrek om die laaste naweek in April.

Dit was ‘n snaakse gevoel om net in jou voertuig te klim en die pad aan te vat, sonder die alewige rompslomp van kos inpak, rooster en hout te laai, want ons gasheer sou vir alles sorg.

Dit was stil in die kamp toe ons Vrydagmiddag met ons karavaan daar stilhou. Groot was my verrassing toe ek my ou skoolmaat uit Wallekraal se dae, Lettie van Zyl, eerste raakloop. Toe ek haar weer sien, was dit asof die episode in die klaskamer, amper 60 jaar gelede, weer voor my afspeel. Ant Kowa, die matrone van die koshuis, het my die môre met die meelvel geslaan en ek was nie bewus daarvan dat my rug wit van die meel was nie. Ek moes die eerste môre vir die klas op die bord ‘n som verduidelik (ek het somme gehaat!). toe ek vorentoe stap, het almal begin lag. Ek het omgedraai en skaam na Lettie geloer, want ek was verlief op haar. (Sy het dit nie eens geweet nie!)

Meneer van Aarde was ‘n aaklige mens en het na my velskoene gekyk en begin om my sleg te sê. My maer ou kieriebeentjies het begin bewe en ek het na my velskoentjies gekyk wat oorle’ Pa ‘n bietjie te haastig gemaak het. Hulle was half vierkantig en hopeloos te groot vir my, maar ek het lekker die manne se maermerries met hulle bygekom as ons agtermiddae langs die koshuis sokker gespeel het. My een skoenriem het die vorige dag gebreek en ek het vir elke skoen ‘n lang, blou baaltou ingeryg en twee hardekwas strikke het oor my vellies gehang.

Van Aarde het sy gesig getrek soos een wat vrot vleis ruik en snedig gesê: “Jy’s ‘n skande vir die klas …. skaam jy jou nie dat jy jou skoene met baaltou vasmaak nie? Gaan trek hulle buite uit, want ek wil nie op hulle kyk nie.” Dit het gevoel of die aarde my maar liewer kan insluk, want hy het my afgebreek dat daar niks van my oorgebly het nie. Terwyl ek my twee esels op die stoep uitspan, het daar ‘n wrok in my binneste kom nesmaak wat ek vir baie jare met my saamgedra het. Toe ek weer die klas instap, het daar ‘n lastige traan van bitterheid oor my wang gerol. Ek het weer onderlangs na Lettie geloer en haastig die nattigheid met die agterkant van my hand afgevee. Dit was die grootste vernedering wat ek as kind moes ervaar. Toe ek daar in die bank sit, het ek wraak gesweer, maar hy is gelukkig dood lank voor ek volwasse geword het. Na soveel jare kon ek en Lettie saam daaroor lag.

Na die middag het die span vinnig aangegroei en ons kon bladskud met ou bekendes wat verlede jaar ook daar was. Ene Haasbroek het hom aan my bekendgestel en langs hom het sy vrou en seun met sy meisie ook gesit. Later sou ek hoor dis mnr. Leon Haasbroek wat meer as dertig jaar gelede op Garies skoolgehou het. As hy aan die begin gesê het hy is Rabbit Pantie, sou ek dadelik geweet het, want dit was die bynaam wat die kinders hom destyds gegee het.

Later het die kring binne die saal al wyer geword en ‘n Orosmannetjie het by ons aangesluit. Andries Colyn was nog nie eens gebore toe ek, Adriaan en Arno Garies skool verlaat het nie. Hy was ‘n tonic, want sy mond was nooit stil nie. Ook Henk du Toit van oom Kassiejan, het vir ons ‘n paar stories saamgebring. Toe ons die Vrydagaand aan die heerlike skaaptjops smul, was ons klaar ‘n hegte band, want Piet Esel en sy suster het ook hulle kinders saamgebring. As my oë oor die pragtige jongmense dwaal, het ek na my eie kinders verlang. Arno en Marietjie het darem vir Christoffel by hulle gehad en hy moes die prys kry vir die beste luisteraar.

Ons het die aand tot laat gegai-gai en Len Schreuder en Adriaan het ons vermaak met Mikke Stone se stories. Onder die sterrehemel langs die karavaan het Lettie en haar man, Piet, saam met ons ‘n koffietjie gedrink en oor die ou dae gesels. Langs ons het die jongspan van Piet Esel en Lona soos voëls gekwetter. Laatnag, toe ons gaan inkruip, het die sooibrand my opgekeil, want ek kon nie die lekker vars potbrood wat Tinus en Fanie vir ons voorgesit het, weerstaan nie.

Saterdagoggend het ons ‘n stewige brunch gekry en later die Stormers gaan help om die Force te klop. Saterdagmiddag was die meeste van ons se tyres aan die papperige kant en ons het ‘n bietjie gaan skuins staan om ons in te suur vir die aand se gesels.

Bennie het vroegaand al vir ons kole ingedra en die geselskap het stoom gekry toe Isak en Wikus ook by ons aangesluit het. Ek was ook bly om my kleinniggie, Jeanie Gagiano, weer te sien. Die musiek en die reuk van die afvalpot het teen skemeraand alle gaste ingebring. Kalfie se ouboet, Fanie, het later die dansbaan geopen, maar Kalfie het soet in sy hok agtergebly. Dit was weer goed om vir Isak oor die dansbaan te sien gly – sy 76 somers ten spyt. Hy is goed ondersteun deur Andries Colyn, wat kaalvoet die vrouens een na die ander ge-pick het.

Die warm potbrood, kookvleis en kerrie-afval het later vir ‘n lang pouse gesorg en toe almal se mae vol was, het die dansbaan ook lyf gekry. Selfs ek was so simpel om vir Mamma nader te trek! Die aand het omgevlieg en toe die musiek afgaan, toe vat eers Wikus en toe Andries Colyn die mike en maak soos Tolla ‘n ge-oliede spiets. Andries moes baie by sir De Villiers Graaf geleer het toe hy destyds voor elke verkiesing by oom Bertie-hulle oornag het.

Sondagoggend het ons traag die tentpenne uitgetrek en die karavaan gehaak, want in ons agterkop het ons geweet dit word tyd om te groet. Na die oggenddiens is oor-en-weer dankie gesê en daar’s manne wat met gawe pryse bekroon is….. selfs Arno en Kalfie het ‘n prys gedeel. Ek het egter vir myself gesê oor 10 jaar sal die kompetisie so straf wees, dat ek nie in die beoordelaar se skoene wil staan nie.

Voor almal sou aansit vir die laaste ete, het ek almal saamgevat op reis Kaap toe om vir Sarel te gaan kuier. Na 50 jaar het ek weer my en Niek se eerste treinreis herleef – hoe ek die nag op die trein moes planne maak om die rib vleis, wat ek moes saampiekel vir my tannie, lug te gee, terwyl ou Niek eenkant aan sy kromrietjiepyp sit en suig met sy Tomicks-hoed stewig op sy kop. By die busstop het ons nie geweet hoe om die bus te stop sodat ons kan saamry nie. Ek het gesien dat ‘n man sy opgevoude koerant in die lug hou en hoe die bus hom oplaai. Toe weet ek nie waar om ‘n koerant te kry nie! Ek het onthou van  ons wedervaring op die parade waar ons eers elkeen 10 piesangs opgeëet het voor ons gaan luister het na die ou wat staan en preek. Ons het later besluit om maar die kerk te bank, want daar was te veel ander goed om te sien. Dis ook toe dat Niek die koffiemeul gekoop het en soos ons stap almal raakgehaak het. Ek onthou ook Sarel se verbasing toe ons so ongenooid en onverwags daar by hom opdaag en ons was glad nie welkom nie.

Toe ons skuins voor 12 begin groet, het dit gevoel soos ‘n groot familie wat uitmekaar gaan. Toe ons stadig by die hek uitry, het die vierhoring-damaras nuuskierig deur die draad na ons gekyk, terwyl die emo’s nog ‘n entjie teen die draad saam met ons gestap het. In my het ‘n rustigheid en vrede kom lê, want ek het weer my batteries gelaai tot ons weer mekaar sien.

Ek was dankbaar vir die klompie mense wat die gom geword het wat alles reël, die span bymekaar hou en sorg dat alles glad verloop. Mag ons gespaar bly om volgende jaar weer te gaan uitspan en ons moet noual begin om ons stories in te sout vir volgende jaar se saamwees by Groenrivier.

Aan Adriaan en Vlos ons grootste waardering dat ons by hulle kon uitspan en vir alles wat ons kon geniet. Ook aan Kolieman en sy Bokkie wat alles vir ons in gereedheid gebring het. Ons sê dankie aan ons twee sjefs, Tinus en Fanie. Ek het julle name reeds aan Pasella deurgestuur! Ons vergeet ook nie vir ou Bennie wat in die stilligheid die donkiewerk gedoen het nie – elkeen se bydrae word waardeer!

6 Kommentaar leave one →
  1. Mei 18, 2012 20:28

    Dis Isak Jakkals en Dina wat so ligvoet dans!

  2. marna permalink
    Mei 19, 2012 08:14

    Tannie ek het hulle dadelik herkenen ‘n groot glimlag op my gesig gekry. Want so onthou en sal ek hulle twee altyd onthou.

    • Mei 19, 2012 23:40

      Ek wens ek kon die TRAP ook insit! Hoop dit gaan goed met jou. Mooi foto op fb – het jy gewig verloor? Groete vir Marcel.xx

  3. Andre permalink
    Mei 20, 2012 16:26

    Hei, Gert, op watter een van die Gariesiet-meisiekinners was jy nie verlief nie. Lyk my jyt kleintyd hart soos n KT gehad. Gelukkig het jy dit ontgroei toe jy vir Hestelle ontmoet het, anders was jou kop kaal, mater.

    • Mei 24, 2012 21:09

      Ai, Andre, dit sal net jy wees! Hy was so ‘n skaam ou seuntjie – op laerskool was dit Lettie en hoërskool Dina, maar daarna was dit maar droogte vir hom. Gelukkig is sy kop ook nog nie kaal nie! Hoop dit gaan goed met julle en dat ons julle twee volgende jaar DV weer hier sien. Groetnis,

  4. Wynand du Plessis permalink
    Mei 21, 2012 21:18

    Dit is lekker om te lees van die naweek, duidelik ‘n naweek wat nie gemis moet word nie. Hoop ek gaan binne kort een maak. Daar is meer bekende name as wat ek gedink het.Hestelle, Andre, Len, Mikke. Dit bring baie heimweë. Soos die tyd aangaan en jy meer plekke sien, hoe meer waardeer ek die dae in Namakwaland, Kamiekroon & Garies!

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: