Slaan oor na inhoud

Ons naweek in die Boesmanland

Mei 18, 2011

Ons skoonseun en dogter  bly op Aasvoëlkop, Loeriesfontein se kant van Kliprand, maar het ook grond in die Boesmanland.  Oor die afgelope jare is my baie vertel van Boesmanland en sy uitgerekte droogtes.  Ons was nog nooit daar nie, maar ek het hulle belowe dat ons sal gaan kuier as hulle daar goed reën kry.  Die afgelope weke het algemene reëns daar geval en dit was tyd om ons belofte na te kom.

Ons het laat die Vrydagaand op Aasvoëlkop stilgehou. Ons opgewonde twee kleindogters het dadelik deurmekaar vertel van die sprinkane wat hulle veld opvreet …. en môre moet Oupa kom kyk hoe Pappa hulle vrekspuit. Ek het vir Tersia gekomplimenteer met haar mooi nuwe kombuis en verbeteringe wat hulle intussen aangebring het.  Sy het glimlaggend haar kop geknik en onnodig verskoning gemaak:  “Pa, julle moet net onthou, in die Boesmanland is daar niks.  Daar’s nie ‘n telefoon of TV nie en die badwater word nog op die stoof warmgemaak. Saans as die krag uitgaan, is dit kerse opsteek.”  “Toemaar, my kind, gelukkig ken ek nog slegter – trouens, ek ken alles en ons kan op enige plek aanpas,”  het ek haar gerusgestel.  “Flippie en ‘n span manne is die hele week besig om sprinkane te spuit, so Pa sal maar moet saamry as hulle veld toe gaan,” het sy verskonend gesê.

Die volgende oggend toe ons op pad is Boesmanland toe, dink ek selfsugtig oor my naweek se sport wat ek gaan mis.  Dis die Protea wêreldbeker-game teen hulle aartsvyand, Indië, en die Super 15 rugby.  Ons kleinkinders, Kyla en Tianna, se gebabbel op die agterkussing onderbreek my gedagtes.  Ek kan mos aanpas, hoor ek my eie woorde.  My oë dwaal oor die menigte kaiingklip en die uitgestrekte lowergroen grasvlaktes.  Dis ‘n ander wêreld dié, sê ek vir myself en ek moet vinnig spoed verminder, want baie water het onlangs oor die pad gestroom.

Na byna 80km draai ons op ‘n smal paadjie af na hulle plaas.  Dis net kaiingklip waar jy kyk.  Dis ‘n droomplek vir die klipgooiers in die Kaap, dink ek by myself.  Toe ons voor die outydse huisie stilhou, waarsku Tersia:  “Oppas, hier’s baie duwweltjies.”  Vier vriendelike skaaphonde verwelkom ons stertswaaiend.  “Ons moet gaan sprinkane doodslaan,” sê ek later vir die kinders nadat ons afgepak het.  Ons vat elkeen ‘n stok en vat koers veld toe met die honde agter ons aan.  “Wat is hul name?” vra ek.  “Vossie, Blessie, Kierie en Tara,”  sê Kyla, die oudste. Ons loop by die kraal verby en die melkbokke skrik vir die honde.  “Oupa, daardie voorste bok is Oortjies en die ene met die groot uier is Spene,” word ek aan die bokke voorgestel.  Ons stap ‘n draai op soek na ‘n swerm sprinkane.  Skielik wemel dit voor ons.  “Dis rooibaadjies!” sê die vyfjarige Tianna.  “Issie, dis nog bontbaadjies,” sê die agtjarige ousus ewe slim. Ons slaan hulle met stokke tot ons moeg is, toe sê Kyla:  “Oupa, ons sal hulle nooit almal vrek kry nie, hulle is te vinnig vir ons.  Pappa moet hulle kom doodspuit.”   Ek gaan sit op ‘n groot klip en sê:  “Vang hulle – Oupa wil hulle saamvat.” Terwyl ek die kriewelrige goed uit hul handjies vat en in my hempsakke steek, sê ek:  “Oupa wil gaan boer met hulle.” Kyla kyk my verbaas aan en sê:  “Hulle sal Oupa se veld alles opvreet!”

Ons stap later huis toe, want Flippie het intussen gekom.  Voor die huis staan twee bakkies met hulle gifpompe op.  Ons groet en Flippie waarsku my:  “Pa moenie aan die bakkie vat nie, want oral is gifspatsels.”  “Dit brand vreeslik, Oom” vertel sy buurman my. Voor middagete sê Flippie:  “Pa, kom ons gaan sny spoor,” en hy laai sy geweer in.  Ek vra nie vrae nie en dink aan die jakkalse wat hulle so baie skade aandoen.  Na ongeveer ‘n kilometer sê hy:  “Hier is nou ‘n swerm verby, maar dis ‘n klein swermpie.” Ek kyk verbaas na hom en vra:  “Waaraan sien jy dit?”  Hy wys na die grond voor ons.  “Kyk, dit lyk of die pad gevee is.” Ek skud my kop en ons ry verder.

Nou is my oë ook voor in die pad en ons sien later dat sy wielspore van die oggend vir meer as 100m doodgevee is.  “Hierdie swerm moet ons soek en spuit,” sê Flippie langs my.  Hy kyk regs.  “Daar trek hulle!” en hy draai sy bakkie tussen die driedoringbosse in.  Ek kyk ook, maar sien niks.  “Waar?” vra ek.  “Sien Pa daardie bruin streep?  Dis hulle.” Ek verbaas my vir hulle spoed en doelgerigtheid.  Dit lyk of hulle met ‘n sesperde-sweep aangejaag word.  Hy ry om die swerm en start die pomp.  Kort-kort kyk hy op die GPS om die rigting te behou. Dit gaan rof, want dis oor kaiingklippe en driedoringbosse wat ons ry.  “Ek moet versigtig wees vir ‘n papwiel, want al my spaarwiele is al pap,” sê hy terwyl hy vir ‘n groot driedoring weglê.  Ek gril as die groot bos die bakkie van voor tot agter skraap.  Ek dink terug aan my kinderjare toe oorle’ Pa ons eerste bakkie gekoop het en ons die deur net effe te hard toegeslaan het.  Dan het hy altyd gesê:  “Liebe jirre, jy slaan deur my siel!” Ek glimlag by die gedagte en skree:  “Flippie, oppas vir die klip!”  Hy glimlag en sê:  “Pa, hierdie klippie is mos niks.   Pa moes nou-die-dag by gewees het toe die jakkals voor my opgespring het.”  “En toe?” vra ek nuuskierig.  “Ek het hom met die bakkie ingejaag en vrekgetrap.”  Ek skud my kop toe hy verder vertel:  “Ek is deur twee kampdrade en my een wiel was later pap, maar ‘n jakkals los jy nie voor hy vrek is nie.”

Ons ry later huis toe en ek wonder wat van die krieket geword het en of Tendulkar nog staan.  Skelmpies luister ek in my bakkie en hoor hy slaan ons aan flarde … dis 260 vir 1 en nog 10 boulbeurte oor.  Ek sidder en sê vir myself:  “Hulle kan 350 kry.”

Na middagete kom staan klein Tianna voor my en sê:  “Oupa, ek wil haasbek wees.  Sal Oupa my tandjie trek, asseblief?”  Ek voel-voel haar ondertandjie en sit versigtig met my ou groot hande die garedraad met ‘n maswerk om. Kort-kort glip dit los, maar sy staan ewe braaf met ‘n breë glimlag voor my.  Met my laaste poging voel ek die garedraad het ‘n stewige knoop gemaak.  Ek gee ‘n vinnig plukkie en siedaar – die tandjie is uit.  Die vreugde is groot toe sy die klein melktandjie in haar palm hou.  “Nou moet jy vir Mamma vra om ‘n SMS na al die tandmuise van die Boesmaland te stuur, sodat jy ‘n geldjie van hulle kan kry!  Of jy kom kuier vir ons, want ons muise is vol geld.”

Later die middag sê Flippie:  “Kom ons vat Pa se bakkie en ons ry almal veld toe en kyk vir ‘n springbok.”  Ek en vroulief kyk bekommerd na mekaar, want sy is heilig op haar bakkie.  “Ek gee nie om om agterop te staan nie,” probeer ek skerm, gedagtig aan vanoggend se rowwe trippie.   “My bakkie is vol gif en ek is bang vir die kinders,” gee hy die finale deurslag.  So versigtig moontlik ry ek tussen die doringbosse deur, maar kort-kort gril my vrou en druk haar naels diep in my skouer in.  Dis later deur spoelslote en oor kaiingklippe en haar naels kerf al dieper.  Ek sit maar die radio aan en hoor hoe ons kolwers sukkel teen Indië.

“Hou stil, Pa!” sê Flippie skielik en maak die radio dood.  Hy gooi die loop oor die bakkie se neus en lê aan.  Ek fluister:  “Dis te ver, Flippie,” want in die laagte is net ‘n dowwe geel dingetjie.  Hy laat sak die geweer effe.  “Ek moet toegee vir die wind wat dwars waai.” Ons hou asem op.  Eindelik knyp hy af en die knaldemper laat die skoot soos ‘n windbuks klink.  Flippie loer nog steeds deur die teleskoop.  “Daar val hy!”.  Ek kyk op die meter en kruie met die Hilux oor die klippe en tussen die driedoringbosse nader, terwyl ek met die een oor hoor dat SA nog 120 lopies kort van 87 balle.  My teleurstelling word onderbreek deur Tianna se opgewonde uitroep.  “Daar lê hy, Oupa!  Pappa het hom doodgeskiet.”

Ek hou langs die bok stil en kyk op die meter terwyl ek ongelowig my kop skud – dit het oorgerol tot op 500 meter.  Ek wens die skut geluk toe ons die uitgegroeide ram agter in die bak gooi. Die son is besig om water te trek toe ons langs die huis stilhou.   Groot is my verbasing toe Chris Swanepoel sê:  “Suid-Afrika kan nog hierdie kragmeting wen, maar dan kort ons ‘n paar grenshoue.”

Ons slag die bok af en die ligte wind dra Chris se opgewonde stem wat sê:  “Dis Johan Botha wat ‘n sierlike ses oor middebaan moker.” Hy vra verlof by die nuusateljee om die spannende wedstryd te voltooi. Ek steek die vuurtjie aan, maar my moed gaan lê in my skoene toe hy sê:  “Daar stap Johan Botha, maar hy het sy kant gebring.”  Ek sit met my kop tussen my hande en sien nie die knetterende vuur raak nie.  “Dis die laaste boulbeurt – ses balle en dertien lopies word benodig.  Ons hou vir Petersen dop wat die eerste bal inwag.  Dis ‘n ses!” Die skare van 50,000 is tjoepstil.  Ek lig my kop weer op toe Chris uitroep:  “Suid-Afrika wen hierdie naelbyt-kragmeting teen Indië!”

Dis of sy opgewonde woorde ‘n seël plaas op ‘n onvergeetlike naweek – ‘n naweek wat ek weer my grootwordjare as kind op ons wintersplaas beleef het.  Dis asof hierdie eenvoud waarmee jy grootgeword het jou agtervolg en laat terugverlang na die sorgelose vreugde van kindwees.

Die wonder van die liefde

Desember 15, 2010

Toe ons die huweliksuitnodiging na die troue van Abrie van Niekerk en Chantelle kry, toe trek ons ‘n duidelike kring om die datum op die almanak.  Eindelik breek Saterdag, 13 Augustus, aan en ons maak onsself aan die kant om in die pad te val.  “Wat trek ‘n mens na ‘n plaastroue toe aan?”  is my vrou se vraag.  “So gemaklik moontlik,”  is my antwoord, want buite waai ‘n warm oostewind.

Toe ons oor Folleminksberg ry, lê Naries se berg dofweg in die verte.  Dis nog ‘n stywe stoot, want die troue is anderkant die berg.  Ons draai slap links en vat Kamieskroon se pad.  Toe ons Rooiberg-se-steilte klim, roer die oostewind die fluitjiesbos se blare.  Ek sien dit skaars raak, want my gedagtes het die pad ver terug gevat.

Dis stil in die bakkie en ek herkou weer aan die verlede van meer as veertig jaar.  Ek skrik uit my mymering toe my vrou skielik langs my praat.   “Waaraan dink jy?”  vra sy met ‘n vonkel in die oog.  Ek stotter effe, want sy het my onkant betrap.  “Ek het mos ook eens op ‘n tyd na dieselfde plaas gery om vir Ivan se suster te gaan kuier,”  is my antwoord aan haar.  “En toe?”   treiter sy my stout.   “Dit het nie uitgewerk nie,”  is my koel antwoord.  Ons oë ontmoet en ons weet óns was vir mekaar bedoel.

Toe ons die afdraaipad na Brakputs nader, val my oë op die nuwe naambordjie:  “Betel”.  Ek herkou die betekenis daarvan:  “God het daar aan hom verskyn”. (Gen. 35:7).  Wat ‘n pragtige naam.  Toe ons die werf nader, sien ons die groot gestreepte tent.  Ons bespiegel waar die troue gaan wees, want ‘n bordjie met ‘n vet pyltjie wys dan in ‘n suidelike rigting weg van die opstal af.

Daar staan baie voertuie en daar word oor-en-weer gegroet. Ons word hartlik verwelkom.  Ek kyk op my horlosie …. dis amper twaalfuur.  Ons vra nie vrae nie en sit rustig in die skaduwee, terwyl die oostewind die boomtoppe roer.  Ons  sien oral jongmense rondbeweeg…..  hulle is bedrywig soos miere, want die horlosie tik die tyd af. ‘n Fris jongman in ‘n donker broek en wit hemp vang my oog.  “Dis seker Abrie, die bruidegom”,  fluister my vrou.  “Ek weet nie,” sê ek onseker.  “Hy was nóg kind nóg grootmens toe ek hom laas gesien het”,  sê ek, terwyl my oë hom volg.   Ek soek die sterk familietrekke van die Swart Isakke, maar besluit, hierdie generasie is al taamlik uitgebaster – ek sal weldra weet.

Die voertuie begin beweeg en ons klim die bult, terwyl ons wonder, waarheen nou?   ‘n Afdraaipad lei ons op ‘n smal paadjie deur die veld na ‘n hoë rots wat hoog bo alles uittroon.  Ons parkeer tussen die klippe en stap nader.  Toe ons almal ons plekke op die wit stoele inneem, is die oorhangende rots nog meer indrukwekkend en ek sien ‘n klein verhogie voor ons.  Links van ons beweeg die bye in en uit.  Hulle is hard besig, want hulle voel aan dat die winter kort is en die oostewind is besig om hul kosvoorraad te bedreig.  Heel voor sit vier jong manne eenders in hulle donker broeke en regoor hulle drie mooi jong meisies uitgevat in hulle  strooimeisierokkies.  Ek sê vir myself:  “Mooi bly maar mooi.”

Die gaste loer op hulle horlosies …. dis al na 12, maar dit maak nie saak nie… tyd speel nie vandag ‘n rol nie.  Almal gesels gedemp dat dit klink soos ‘n bynes wat goed rook gegee is.  Ons wonder wanneer die bruidskar kom.  Ek hou die veldpaadjie waarmee ons gekom het, dop.  Skielik raak dit stil.  Almal se koppe draai na regs.   Sagte, verbaasde uitroepe word gehoor.  Wat ek in ‘n oogwenk waarneem, ruk aan my binneste!    “Sprokies-agtig – ons is in kabouterland!” fluister ek vir my vrou.

‘n Donkie word gelei en die leier stap tydsaam asof hy nog tyd wil wen.  Die warm oostelug pla hom nie, want hierdie is vir hom ‘n kosbare oomblik.  Nou is hulle skaars vyftig meter van die gehoor af.   Almal staan eerbiedig op.  Dis asof daar ‘n toneel uit ‘n feëverhaal voor ons afspeel.  Soos ‘n prinses sit sy op die karretjie in haar wit bruidsgewaad.  Dit herinner my aan die Bybelse prente van ouds.

Versigtig help haar vader haar af.  Die blou skokbreker sak effe dieper toe sy haar wit skoentjie op die trappie neersit. Sy kom stadig, ingehaak aan haar trotse pa se arm, aangestap.  Dirk Koperdraad, wat nou fier en regop voor die karretjie staan, se oë is vasgenael op die bruid wat hy moes bring.  Op sy gesig is ‘n trotse glimlag van genoegdoening.  Hy hou die stang styf vas en ek lees sy gedagtes:  “My kleinbasie, ek het jou mooi nonnie vir jou gebring.”  Tevrede draai hy vir Vaaltyn om en hulle kies koers af huis se kant toe.  Hy het sy taak afgehandel.

Nou is ek doodseker wie’s die bruidegom toe hy by haar inhaak en haar pa ‘n handdruk gee.   Hulle stap vorentoe met die gevolg wat weerskante van hulle plekke inneem.  Die oomblik is gewyd.  Kortliks verwelkom die baas van die plaas en vader van die bruidegom alle gaste wat die oostewind getrotseer en gekom het om die gelukkige oomblikke met hulle as familie te deel.  Ivan slaan die Bybel oop en haal enkele verse aan uit Hooglied, wat digterlik en liries opklink in die gewyde atmosfeer.

Satan probeer die mooi oomblik bederf toe ‘n paar bye skielik ‘n seuntjie, wat daar naby op ‘n klip sit, takel.  Sy pa, een van die strooijonkers, kom vinnig tot sy redding.  So onverwags soos die aanval, is dit asof ‘n onsigbare Stem hulle bestraf en die seremonie ongesteurd voortgaan.  Ons hou asem op, want ek ken ‘n kwaai bynes, maar niks gebeur verder nie.

Dis asof die woorde van Hooglied ons almal weer herinner aan die dae van ons jeug.  Terwyl ek my beminde se hand styf vashou, kom die Pastoor nader en hy gaan oor tot die huweliksbevestiging.   Ek buig oor na my vrou en fluister stout:  “Hoekom is jy nie meer so gehoorsaam en onderdanig soos jy beloof het nie.”  Sy sein vir my ‘n warm glimlag.   Die ringe word ingesteek en die pasgetroude paartjie kyk diep in mekaar se oë.   Ek drink elke oomblik in.  Die geluk en vreugde staan vol in die blom toe die bruidegom sy mooi vroutjie op haar mond soen. Dis asof jy die teenwoordigheid van die Almagtige aanvoel.   Ons as gaste verheug ons in hul vreugde.  Mnr. en mev. Van Niekerk se huweliksboot is pas te water gelaat.

Ons ry stadig af huis toe vir die huweliksonthaal.  Ek en my vrou bespreek die gebeure voor die groot rots.   Ek skud my kop in ongeloof en sê:  “Ek kan nie glo dat die bye so skielik opgehou het nie.”  Voor ons alles kon oordink, is ons voor die groot tent.  Onder ‘n boom hang die gastelys.  Ons stap nader en steek blad vir hulle wat ons nog nie raakgeloop het nie.

By  elke tafel is die gaste se sitplekke aangedui.  Die bekers vrugtesap word omgestuur, want dis warm en kort-kort moet ons die lastige sweet afvee.  Ons wag vir die bruidspaar, maar die fotograaf hou hulle besig.  Nou gesels ons dat die byle huil!   In die kostent word die maaltyd voorberei.  Die geur van braaivleis hang tussen ons en maak ons watertand, maar die fotograaf is nog nie tevrede nie.

Eindelik is daar ‘n roering.  Die twee verliefde jongmense stap rustig tussen die tafels deur, terwyl almal opstaan. Die bruidegom bedank sy ouers en in ‘n roerende toespraak seën hy hulle. Daar word ‘n traan of twee weggepink.   Ons lig ons glasies sap en  ek grinnik toe ‘n vrou uit die dwarste sê:  “Ek is gewoond ons drink altyd ‘n dop, maar vandag is dit net seëninge!”

Later kom die voorgereg en ons skuif reg vir die hoofmaal.  Soos koshuiskinders eet ons ons oor ‘n mik.   Dis asof die kuier nou eers stoom optel.  Niemand is haastig nie en dis asof ons die kuier in die tent nog ‘n bietjie wil uitrek, want die atmosfeer is hartlik  en jy kan die liefde aanvoel.

Die bome het al lang skaduwees gegooi toe ons almal groet en traag koers kry huis toe.  Langs pad herkou ons aan die dag se gebeure en ons besef ons was by ‘n huweliksfees wat ons nog lank sal bybly. “Ek dink dit was vir hulle as gesin ‘n wonderlike dag,”  som my vrou die feesdag op.  Ek knik instemmend en  die woorde van oom Kortpiet Voges kom by my op wat sê:   “Hulle is so gelukkig, hulle weet ok nie wat om met alle geluk te mááák nie

Witpiet, Ma se ou Hanskalkoen

November 28, 2010

Toe Pa-hulle op ‘n dag van hul kuiertrippie kom, was daar ‘n vaal boksie waarin ‘n paar gaatjies gesteek is agter op die bakkie.   “Wat se langbekgoed is dit die?”  het ek nuuskierig gevra. “Dis kalkoentjuikens”,  het Ma trots geantwoord.  “Ons moet hulle grootmaak, want hulle lê glo baie groter eiers as ‘n hoender”,  het Ma verder die inhoud van die boksie geprys en bygevoeg:  “Jou pa kan mos nie genoeg kry van eiers nie.”

Ek moes gou vir hulle ‘n hokkie prakseer, want daar moes tog nie skade kom by haar rooinekgeveertes nie.  Toe sy die agtermiddag die hok kom inspekteer, sê sy opgewonde:   “Ek het nog ‘n eier saamgebring …. ek wil hom nog lat uitbroei, want dis glo weer ‘n ander soort.”   ‘n Paar dae later later, toe sy weer haar hoenders die agtermiddag met “kiep-kiep!” naderroep om hulle kos te gee,  het daar ‘n opgerysde hoenderhen, wat aanmekaar kloek, uit die bosse agternagehol.  “Hy’s broeis,”  het Ma opgewonde gesê en die laaste bietjie dopkoring uit haar voorskoot geskud.

Ma het ‘n paar eiers onder die broeis hen gesit en sekergemaak dat die kalkoeneier in die middel is.  Na ‘n paar weke het die ou rooivlerkhen met die geel donserige kuikens by die agterstoep kom kos soek. Tussen hulle was ‘n maer langbeenkuiken nog effe lomp op sy beentjies.  Ma se oë het aaneen op die langbeenkuiken gebly en terwyl sy vir hulle broodkrummels strooi, sê sy:   “Nou sal ons die roofvoëls moet dophou, want hulle los nie ‘n tjuiken uit nie.” Toe hulle veertjies begin uitkom, was die kalkoenkuiken spierwit.   “Ek wonder of dit ‘n hennetjie of ‘n haantjie is … lyk my meer na ‘n haantjie,”  het Ma hom beoordeel.

Na ‘n paar weke was ons doodseker dis ‘n haan, want hy het die ander kuikens begin afknou as hulle te na aan sy koringkorrels pik.  “Sy naam is Witpiet,”  het Ma haar kalkoen gedoop en skelmpies eenkant vir hom nog ‘n paar ekstra pitte gegooi.

Witpiet het soos ‘n koolkop gegroei en later net die onderdeur dopgehou.  Behalwe Pa, is hy deur almal bederf en  soms, as Pa nie daar was nie, het hy skelmpies onder die tafel kom krummels soek, tot groot vermaak van die kinders.  Witpiet het egter ‘n foutjie gehad – hy het sy blerts voor die agterdeur se drumpel gelos.  Soos sy bel langer geword het, het sy blertse ook groter geword.  Ma het bly skoonmaak tot op ‘n dag toe Pa vol in die slagyster getrap het.  “Sies, jirre!” het Pa vies uitgeroep en sy velskoen op ‘n plat bossie probeer skoonskuur.   “Sies, magtag, dan stink sy stront!”  het Pa uit die verte gebrom, want niemand mag aan Ma se pluimvee raak nie….. hulle was kroonwild.

Witpiet was ‘n hanskalkoen en het tussen die hoenders gebly en nie met die ander kalkoene gemeng nie.  As ons egter hard praat of iemand roep, het Witpiet ons luidkeels van die agterdeur af gekoggel, tot groot misnoë van almal.  Pa het net sy wit kop vies geskud en ek het gesien sy hande jeuk, soos altyd wanneer hy sien ‘n ander man se kind is stout en moet op sy swernoot kry.

Op ‘n dag het een van die ander kalkoenmannetjies gewaag om Witpiet se weigrense binne tedring en Witpiet het hom getakel. Ons het die geveg oor die onderdeur dopgehou tot albei die ene bloed was.  Ma het met die besemstok gereedgestaan, sou haar witbroodjie aan die kortste end trek.  Later het die indringer die hasepad gekies, met Witpiet kort op sy hakke. “So ja, dit sal jou leer om sy kos te kom steel,” het Ma trots kommentaar gelewer.  Ons ander se lojaliteit het egter by die ander kalkoen gelê, want ons liefde vir Witpiet het opgedroog. Hy was lastig, sy geraas het ons geïrriteer  om nie van die slagysters wat hy gereeld by die agterdeur gelos het, te praat nie.  Elkeen van ons het met moordgedagtes rondgeloop en dit buite Ma se bereik ge-uiter.

Op ‘n dag, terwyl Ma besig was om afval te skraap, het Pa sy kans waargeneem en hom met die karwats bygedam.  Die voorslag het netjies om Witpiet se nek gekrul en Pa het hom wraaksugtig nadergepluk, maar Witpiet was vlugvoetig en het Pa se skop net-net ontduik.  “Lae drek!”  het Pa agter hom aan geskree, terwyl Witpiet met oopgesperde vlerke om die buitekombuis se hoek verdwyn.

Witpiet was nou ‘n uitgegroeide kalkoen en het ook die wyfies die hof begin maak, tot groot blydskap van Ma.  Sy wou so graag ‘n lot wit kalkoene hê, want Witpiet lyk tog al te spoggerig en mooi as hy soggens in die oggendson pronk asof die hele werf net aan hom behoort.

Kort voor die “groot dae” wou Ma ‘n kalkoen slag, maar dit moes een van die ou mannetjies wees.   “Moet tog nie tussen hulle rondhardloop en vang nie,” was haar vermaning.  “Skiet liewer een, maar moet hom tog nie kwes nie,”  het sy gewaarsku.  Ek het die Remmington .22 gelaai en die trop genader.  Eenkant was Witpiet op ‘n wyfie besig.   “Hier, vuilis!”  het ek met my arms beduie en sy plesierige gelukkie kortgeknip.  Witpiet het haastig die trop in gehardloop, terwyl die wyfie ontevrede haar vere regskud.

Ek het ‘n ou mannetjie gemerk en toe gewag tot Witpiet se nek ook in die visier is en toe afgeknyp.  Toe die skoot klap, het twee kalkoene gelê en spartel.   “Daar lê Witpiet ook!”,  het een luidkeels vanaf die kookskerm geskree.  Ma was, vir haar groot lyf,  amper te vinnig op die ongelukstoneel, net betyds om te sien hoe Witpiet se oë omdop.  Ek het nog half verdwaas op die geweer geleun en spyt het my oorval toe sy verwytend sê:  “Ai, jinne my kind, wat het jy tog nou weer aangevang?”  “Dis ‘n ongeluk, Ma,”  het ek blatant gelieg.

Toe sy die dag die kalkoenvleis opskep, het sy nie daaraan geëet nie, maar Pa het nie op hom laat wag nie.  Toe hy die kalkoenvet met die vadoek van sy mond afvee, sê hy so ewe:  “Tag, maar so ‘n jong kalkoen smaak agter die oor.”  En daar was ‘n grimmetjie op sy gesig.

Waar’s die vis?

November 9, 2010

Namakwaland is ‘n harde wêreld en kinders moes desjare van kleinsaf op die plaas help. Jy was net veilig in die abbavel, want as jy sterk kon loop, is jy rondgestuur.

My ouer broer was op skool toe die ploegreëns val en ek moes as sesjarige seuntjie die trekspan voor die ploeg lei. Die trekwa is die dag gelaai met saadkoring, beddegoed en voer vir die trekgoed. Agter op die wa het Pa-hulle die groen Rudsakpleog met osrieme vasgemaak. Toe ons die agtermiddag by die lande kom, is uitgespan en die span trekgoed voor die drievoorploeg ingespan. Agter het Pa se ses esels getrek en heel voor was Oupa en oom Gideon se twee ryperde ingespan. Oom Gidoen, Pa se jonger broer, het die twee perde met ‘n riem aanmekaargekoppel en vir my die leitou gegee.

Ek het bevrees opgekyk na die groot perde met die stange in hulle bekke. In die trens het Sieraad se twee wit oë wild rondgerol en kort-kort het hy hard op sy stang gebyt. Voor onder sy bolip het sy lang, geel, krom voortande uitgeloer. Ek het geknyp, maar in my kortbroekie het ‘n paar lastige druppeltjies gelek.

Oom Gideon het die riem vir my aangegee en vaderlik gesê: “Boesman, (sy karrienaam vir my) hou die tou styf en moenie lat die perde jou raaktrap nie.” Ek het bevrees na Sieraad en Piet se groot voorhoewe gekyk en dan na my kaal voetjies en die kraantjie in my broekie het nog ‘n druppeltjie of twee gelos. Ek het onder my vaal hoedjie na oom Gideon opgekyk, terwyl my maer kieriebeentjies met die groot knieknoppe soos ‘n wees volstruiskuiken s’n, liggies gebewe het. Oom Gideon moes my vrees gesien het, want hy het oor my koppie gevrywe en gesê: “As ons by die land se koppenent kom, sal ek die ploeg uithaal en dan sal ek vir jou skree om te draai. Dan draai jy haarom … nie te kort nie, want dan kan die esels oorstring trap, verstaan jy, Boesman?” het hy gevra en toe met die lang sweep agtertoe gestap. Hy het omgedraai en gesê: “Boesman, as ek sê ‘vat!’, dan moet jy begin loop – stap reguit na jou pa toe daar voorkant waar hy op die saaisak sit.” Ek het my koppie geknik en voor aan die tou gerem. Toe hy skree: “Vat!” en die sweep waai, het ek die span reguit na Pa toe gelei. Terwyl ek drafstap, wonder ek wat is ‘haarom’? Voor ek my kom kry, toe skree hy: “Koooooom!” Ek vlieg wild om en toe skree hy: “Nie hotom nie, haarom!” Ek vlieg haastig anderkant toe om en stap agter Pa aan wat, met die saaisak oor sy skouer, ritmies met die hand die koring heen-en-weer strooi. Toe ons by die volgende draai kom, skree oom Gideon: “Mooi so, nou hou my kind net die ploegvoor – ek sal die span warm klop.”

Nadat Pa ‘n paar akkers vir die nagskof gesaai het, het ons kort voor sononder uitgespan en Pa is terug huis toe. Weerskante van die wa se disselboom is ‘n seilkrippie vasgegespe en oom Gideon het vir elke esel en perd ‘n bietjie kaf en ‘n stroopblik rog afgemeet, terwyl hy met hulle gesels. “Maaifoelies, julle is darem te uitgelate. So ken ek vir ploegtrek – kyk hoe natgesweet is julle.”

Hy het vir ons ‘n groot vuur in die takskerm gemaak wat hy en Pa vroeër die dag haastig opgeslaan het. Toe dit donker word, het ek al nader aan oom Gideon geskuif, want ‘n uil het kort-kort uit die doringbome geroep en dan het sy maat in die verte ge-hoehoe. My kop het skielik geruk toe ‘n gammajakkals se skril getjank soos ‘n mes deur die aandstilte sny. Ek het nog ‘n tydjie in die donkerte ingetuur en toe my my broodjie stadig geëet. Nadat dit weer stilgeraak het, het ek my beentjies oopgevou om my vir oulaas warm te maak. Oom Gideon het oorkant op die kafsak gesit en sy pyp opgesteek. Hy het ‘n paar dik skywe getrek en toe afgekyk na my kortbroekie. Skielik was daar ‘n grimmetjie op sy gesig. Ek het vinnig my beentjies toegeklap soos ‘n hond wat na ‘n lastige vlieg hap. Ek het besef my dinges het seker by my broekspypie uitgeloer, want ek het nog nie ‘n onderbroek gedra nie.

Oom Gideon het opgestaan, hom uitgerek, na die ooste getuur en gesê: “Ons moet gaan inkruip, ou Boesman, want as die maan môre-oggend voordag opkom, moet ons weer inspan.” “Wanneer kom die maan op, Oompie?” het ek nuuskierig gevra. “As die driekoning daar kom hang,” het hy met sy krom voorvinger in die lug beduie.

Oom Gideon het die lantern opgesteek en toe met sy groot veldskoene die lekker warm vuur doodgetrap. “Boesman, ek het agter onder die wa op die duikerkleedjie vir jou kooi gemaak, maar kom ons gaan staan eers eenkant dat jy nie vannag jou kooi natmaak nie.” In die aandstilte kon ons hoor hoe die esels en perde die rog onder hul groot tande fyn maal en kort-kort het ‘n esel sy voet hard gestamp. “Hoekom stamp hulle hulle voete so, Oompie?” Hy het ‘n vet wind gelos, sy broek toegeknoop en geantwoord: “My kind, hulle se bene raak styf van die regop staan en dan kry hulle koud ook nog. Môre-oggend is die wêreld spierwit geryp …. dis hoekom hulle vir hierdie plek sê ‘Armbakkies’.”

Ek het nie verder gevra nie, want die koue het my van agter bekruip. Toe ek my koue lyfie met klere en al onder die harige velkombers inwikkel, het ek bang geword, want in die verte het ‘n jakkals geskree. Ek het omgedraai op my knietjies om my gebedjie, wat Ma my geleer het, op te sê. Ek het geruk soos ek skrik toe ‘n perd of esel my gebedjie met ‘n harde proes onderbreek. “Ag, Heretjie, help my tog vannag dat Sieraad my nie sal byt of my voetjies sal raaktrap nie. En as dit kan wees….’n onderbroekie. Lat Ma tog ‘n slag vir my ‘n onderbroekie by die smous koop …..assamblieftog. Amen.”

Ek het wakkergeskrik toe oom Gideon aan my skud. Ek het my ogies gevryf en in die donkerte na my hoedjie gesoek. Op die rand het ‘n halfmaan gehang en in die skerm het ‘n staanvuur gebrand. “Kom vat vir jou koffetjies, ou Boesman, solat ons kan inspan.” Ek het opgespring en vuur toe gehol en my soos ‘n wurm al in die rondte gedraai om my warm te maak. Oom Gideon het die swartgebrande koffieblik vinnig met sy groot kaalhande van die kole afgehaal en toe vir ons ingegooi. Terwyl hy my bekertjie roer, kyk hy na my kaal voetjies. “Kortendag moet jou pa vir jou ook ‘n paar velskoentjies maak, want ‘n man wat al kan ploeglei, moet skoene hê,” het hy my liggies geprys. Die kafsak langs die vuur was natgedou en ek het die lastige watertjie onder my neus met my baadjiemou afgevee en toe blaas-blaas my koffie gedrink.

Veels te gou na my sin het hy sy beker neergesit, opgestaan en die lantern gevat. “Sluk-sluk, ou Boesman, ons moet inspan.” Ek het vir oulaas my handjies warmgemaak en toe agter die lanternlig aangedraf. Toe ons naderkom, het die twee perde saggies gerunnik en in die dowwe lig het hul oë geblink. Hy het die lantern vir my gegee en gesê: “Lig jy vir my, ek sal inspan.” Bleekbok en Springbok was die agteresels …. getrou en sonder geite. Naasagter is die beneukte Steenbok, wat soms kopslaan, ingespan en langs hom Klouterbok, die kriewelgat, soos Pa hom altyd genoem het. Hotvoor het Donkerbok met sy spitsoortjies getrek en langs hom die op-en-wakker Glansbok. Voor het oom Gideon sy ryperd, Piet, ingespan en langs hom Oupa se haastige witskimmelperd, Sieraad.

Oom Gideon het voorom gekom, die lang sweepstok in die nat grond gedruk en gesê: “Boesman, hou die ploegvoor en ek sal vir jou roep wanneer jy moet draai.” Hy het sy pyp opgesteek, die sweepstok uit die grond getrek en vir oulaas gewaarsku: “My kind, oppas tog dat die perde jou nie raaktrap nie … hou die leiriem die heeltyd styf.”

“Vat!”, het hy oomblikke later geskree. Ek het vorentoe gespring en die span in die dowwe maanlig na die ploegvoor gelei. Agter het ek dofweg gehoor hoe knip hy die Rudsakploeg in en toe kraak die trekketting. Rondte vir rondte het die drieskaarploeg die aarde omgekeer en in die stil naglug het die geur van varsgeploegde grond gehang. Kort-kort het ‘n esel agter my gehoes wanneer sy keel toetrek teen die borsplaat. Voor het die twee perde se tande op hul stange geknars soos hulle dit vasbyt. Kort-kort het een van die trekdiere ‘n harde rogpoepie in die oggendstilte gelos as die ploeg deur die taai klei sy pad oopskeur. Agter my kon ek die perde se warm jagende asems ruik, want ploegtrek is nie speletjies nie. Die koue van die voordagmôre het stadig maar seker toegeslaan, want jy kon hoor hoe die grond kraak as die hoewe van die esels deur die kors trap. Ek het die leiriem al stywer vasgeklem, want ek was bang dat ek my greep sou verloor. Die vrees dat Sieraad my kan byt, het vlak in my binneste kom lê en ek het kort-kort in my verbeelding gesien hoe sy lang voortande my broekgat hap. Ek het my ruggie al krommer getrek, want hy kon my ou maer lyfie mos middeldeur byt, soos Lady nou-die-dag die muskeljaatkat wat Ma se hoenders gevang het. Ver agter my het oom Gideon ‘n deuntjie gefluit en kort-kort die agteresels aangepraat. Skielik het ‘n naguiltjie vlak voor my opgevlie en die voorperde het gesnork en hulle koppe opgeruk. Die volgende oomblik voel ek hoe Sieraad my voetjie vastrap en ek tussen die pote van die trekgoed beland. Ek het ‘n hengse bek opgesit en oom Gideon het gelukkig met ‘n lang, skril gefluit die trekspan gou tot stilstand gebring.

Die esels het elkeen ‘n harde snork gegee vir die rasende ding wat tussen hulle bene deurkruip. Oom Gideon het my soos ‘n lappop opgetel en die nat grond van my kleertjies afgeslaan. “Sierraad het my raakgetrap”, het ek aanmekaar gesnik, terwyl hy my bewende lyfie vashou. “Toemaar, as ons weer die koringmeul inspan, sal Oompie die vuiles se gat warm klop,” het hy my getroos. Hy het ‘n vuurhoutjie gestryk en na my voetjie gekyk. “Mastag, man, hy het mos jou hakskeen se vel afgetrap!” Toe ek die bloed sien, het ek harder gesnik. “Ek wil nie meer lei nie ….. my hoed is ook weg.” Oom Gideon het besef dat hy sy kaarte nou moes reg speel, anders is hy sonder ‘n touleier. Hy het weer ‘n vuurhoutjie gestryk en my hoedjie tussen die esels se pote uitgehaal, die sandjies afgeslaan en weer op my kop gesit. “Vat jy die sweep – Oompie sal hulle tot by die land se koppenent lei en dan maak ek eers vir ons ‘n lekker vuur.” Terwyl hy sukkel om die vuur aan die brand te kry, het my lyfie gebibber van die koue. Toe die taaibosvuur lekker hoog brand, het ons vir ons warm gemaak.

In die vuurlig het die span trekgoed gestaan en die wasem het uit hul natgeswete lywe getrek. Oom Gidoen het afgekyk na my geswelde voetjie en gesê: “Ou Boesman, die bleddie perd het mos jou voet lelik raakgetrap. Ek dink ons span hom met die volgende skof heel agter in – dan sal hy bars.” Hy het na die ooste gekyk. “Die dagster is al uit – netnoumaars breek die dag en as die son uitkom, span ons uit en dan eet ons brekvis.” Ek het my traantjies afgevee en met nuwe belangstelling na hom geluister. Hy het in sy baadjiesak gevroetel en sy troefkaart uitgehaal – ‘n halwe langlekker……effe bruin van die tabakstof, en dit vir my gegee. Terwyl ek sukkel om dit skoon te suig, het hy vaderlik oor my koppie gevryf en gesê: “Nou’s ons lekker warm, gaan vat maar weer vir ons die tou dat ons die skof kan klaarmaak.”

Toe ek effe huiwer, sê hy weer: “As ons uitspan, eet ons lekker brekvis.” Ek het maar weer gehoorsaam die tou gaan vat en terwyl ons ploeg, was my gedagtes kort-kort by die brekvis. Waar sou hy die vis vandaan kry? Later het dit begin lig raak en die akker het einde se kant toe gestaan. Toe die son oor Soutfontein se rand loer, het oom Gideon die ploeg regoor die wa uitgeknip en ‘n lang fluit gegee. Ons het uitgespan en die esels gaan voer gee.

Ek kon nie wag om die vis te gaan eet wat hy my belowe het nie. Toe die vuurtjie lekker brand, het hy vir ons elkeen ‘n beker koffie gegooi en toe vir my ‘n sny brood gegee. Terwyl my tande in die botter spoormaak, het ek by myself gewonder wanneer hy die vis uithaal waarmee hy voordagoggend gebrêk het. Ek het hom egter nie daarna uitgevra nie en my broodjie klaar geëet, maar sy belofte het in my koppie bly vassteek.

Laterjare in Wallekraal se laerskool, het ek egter by antie Visser, ons juffrou, geleer wat brekvis beteken.
(Gert Sarrisam)

Epos vanaf Andre Bekker van die SA Kamer van Onafhanklike Skrywers

Augustus 25, 2010

Jy is `n Rolmodel!

Ek glo elke onafhanklike skrywer deur die land het die beriggies oor jou prestasie met aandag gevolg. Daarom het ek die vrymoedigheid om, as Voorsitter van die nuut-gestigte SA Kamer van Onafhanklike Skrywers, jou geluk te wens met die prestasie.

Laat my asseblief weet of jy sal bereid wees om ons van raad te bedien wanneer nodig, want ons skrywers wat nie Uitgewers het nie, is soos `n trop skape sonder voorloper. Daarom het ons die organisasie gestig. Ons glo ons kan reken op die suksesvolle manne en vroue in ons geledere om die minder geslaagdes te help en te lei. Onthou en weet dat elke bietjie raad wat ons kry, werklik hoog gewaardeer word.

Andre Bekker.

Persverklaring

Vir meer inligting, kontak :

Werna Maritz. Sekretaresse.
042 292 0455
E-pos by:
werna@telkomsa.net

OF
Andre Bekker. Voorsitter.
Selfoon 079 180 7663
E-pos by:
andrebee@vodamail.co.za

Verlede naweek, die 2de, 3de, en 4de Julie 2010, het die FEES VAN DIE ONGEPUBLISEERDE BOEK op Jeffreysbaai plaasgevind. Dit was gereël deur `n groep self-gepubliseerde skrywers, maar dit was aangebied om alle voornemende skrywers in te sluit.

As gevolg van die wye reklame deur middel van onderhoude en aankondigings op verskeie radiostasies soos RSG, Radio Pretoria, Radio Laeveld, Uitsaaines Live, asook die ondersteuning van verskeie Afrikaanse bewegings wat ons op hulle Webwerwe bekend gestel het, was dit `n jubelende sukses.

Dr. Gert Coetzee, akademikus en voormalige medewerker van D.J.Opperman, was ons gasspreker. Almal het aan sy lippe gehang terwyl hy op sy boeiende beste ons gemesmeriseer het met sy kennis van die groot digter se werk, en die invloed daarvan op die moderne digkuns en skryftegnieke. Prof. Heilna du Plooy van Noordwes Universiteit op Potchefstroom, en aamhanger van Dr. Coetzee, het ons Fees as waarnemer bygewoon, en sy het ons bemoedig en haar volle ondersteuning belowe., en haar groot kennis tot ons beskikking gestel.

Daarna het Rose Dugmore ons weggevoer na haar studiejare in die minus 35 grade winters van die Noorde van die “States.” Peet Coetzee oud-soldaat met diep kennis van die RECCE`s en KOEVOET, se herinneringe aan die donker dae van die grensoorlog het ons gespanne laat regop sit. Hy is skrywer van die bekende “Jam Stealer.”  Werna Maritz, die lopende ensiklopedie oor die era van die trotse stoomtreine, het ons laat steier van genot met vertellings uit haar drie boeke in die “Ysterwiele” reeks

Die Supersterre finalis, Elsabé Rademeyer, het ons mat haar goue stem bekoor, en die CRYSTALS, `n kwartet vanaf Polokwane het ons aandure gesellig gemaak.

Op `n vergadering is die SA Huis van Onafhanklike Skrywers gestig, en `n loods komitee, onder voorstterskap van Andre Bekker, met Werna Maritz as sekretaresse, is verkies.

Hulle opdrag is : 1. Om riglyne vir `n alles omvattende grondwet te ondersoek en aan te beveel. 2. Om `n metode te formuleer waarvolgens lede van alle provinsies semi-outonome streeksliggame kan aktiveer. 3. Om maniere en kanale te ondersoek waardeur die druk en uitgee van lede se boeke vergemaklik en bespoedig en goedkoper gemaak kan word. 4. Om skakeling mat uitgewers te soek, en `n metodes te vind waarop ons lede se masiewe talent aan hulle beskikbaar gemaak kan word. 5. Om `n registrasie en klassifikasie stelsel te ontwerp waarvolgenselke onafhanklike skrywer se werk op rekord geplaas en bewaar kan word teen alle soorte afbrekende elemente. 6. Om te sorg dat elke lid `n gratis ISBN nommer vir sy werk kry. 7. Om te beding vir bekostigbare proeflesers, redakteurs, asook grafiese en voorblad kunstenaars om hulle werk persklaar te maak. 8. Om die integriteit en bekwaamheid van POD, en ander drukkerye, te bepaal, en slegs die wat bevredigende produkte lewer, en duursame materiaal gebruik, by ons lede aan te beveel.

Terugvoering moet so gou doenlik deur die Webwerf, http://www.boekfeesjbay.co.za gedra word, en dit sal ook na lede ge-E-pos word vir insae, waarna `n stemming gereël sal word.

Andre Bekker, Voorsitter.,
SA Kamer van Onafhanklike Skrywers
(Gaan lees meer op hulle webtuiste: www.boekfeesjbay.co.za

Na dertig jaar aan my dierbare lewensmaat

Augustus 19, 2010

Voor Marina Sales het ek en Annie stadig verby gery

Ek stop, bekyk haar en toe weet ek: sy is die vrou vir my

Wat ‘n welige haredos sy nie gehad

Mooi groot oë en lang wimpers, dit was my smaak

‘n Jaar lank het ek probeer om haar hart en guns te wen

Die ander kêrel koop lekkers en blomme, al lyk hy afgerem

Ek het klaar geweet ek is verlief, toe skryf ek vir haar ‘n langebrief

“Jammer Gert, ek hou van jou, maar ek het hom baie lief”

Die brief klaar gelees, toe het ek met myself gepraat

Hierdie rondte het ek verloor, maar na die tyd kom raad

Met die eerste nagmaal toe ons mekaar weer ontmoet

Was sy onseker, ek kon dit sien met ons eerste groet

Daardie aand het ek haar gevra om met my te kys

Ek het haar ordentlik gesoen dat haar lippe wys

Die volgende naweek het ek haar Sarrisam toe genooi

Die werf was deurmekaar, maar dit was niks – sy was my nooi

Dieselfde aand het ek haar gevra om met my te trou

“Ek wil jou hê, maar is dit nie ‘n bietjie gou?”

3 April 1970 het ons twee duifies toe verloof geraak

19 Desember 1970 het ons uiteindelik die knoop deur gehaak

Twee jaar later het ons ‘n blonde dogtertjie gekry

Gou het sy nog 3 sussies by gekry

Vier jaar later het my klong uiteindelik gearriveer

Dankie ma, dis nou genoeg, ons gaan nie weer probeer

Nou is almal groot en klaar met skool

Twee klein kinders is oppad, so by my kool

Ons is so bly en gaan hulle seker vreeslik bederf

Dis Oupa en Ouma se voorreg, al gaan hulle nie veel erf

Na dertig goue jare wil ons Hom loof en eer

Nou geniet ons die huwelik en kan ons mekaar waardeer

Baie liefde van my,

Ou man

Swaer, Gawie Cilliers, word 60 en ons hou partytjie!

Julie 30, 2010

Dowe Piet en Jan Kupedo

Julie 21, 2010

Vroeërjare, voordat die plase toegekamp is, het elke boer sy veewagter gehad. Toe ek my verstand kry, was outa Dowe Piet Oupa se skaapwagter. Hy en sy vrou, Lyla, en twee kinders het in ‘n matjieshuis gebly.

Ou Dowe Piet was ‘n lang, skraal man en het met ‘n fluisterstem gepraat, want hy was baie doof. Ons kinders was baie bang vir hom, want ons kon nie altyd verstaan wat hy sê nie. As daar ‘n sertifikaat vir skaap oppas verwerf kon word, sou hy beslis een verdien het.

Hy het altyd ‘n lang kierie met ‘n groot knop gedra waarmee hy bok se kind gou maniere geleer het. Sy selfgemaakte karwats was altyd netjies opgerol. In sy kossak was ‘n safgebreide duikervel waarvan hy vir hom ‘n voorslag gesny het. As hy soggens in die winter die veetrop van die werf af opstoot, het die honger gusskaap gou uitmekaar gewei en was hulle wyd versprei. Ou Piet het dan sy karwats losgewoel en in die oggendstilte ‘n paar harde klappe gee wat tussen die koppe soos veraf geweerskote weergalm het. Die voorskaap het dan skielik omgesit, asof ‘n mens hulle omgekeer het.

As kind het ek hom dopgehou as hy agtermiddae stadig en geduldig die kleinlammerooie werf toe bring. Ons moes hom altyd gaan help, want die vet Afrikaner- en Persielammers het dan teen die bult af begin speel met die skreeuende ooie agtgerna. Soms, as die gusskaap te wyd oopgesprei het, het ou Dowe Piet ‘n lang, skril veewagtersfluit gegee wat die voortrop in hul spore laat omsit het terug trop toe. Dan was daar ‘n glimlag van genoegdoening op sy verrimpelde bakkies. Ja, outa Dowe Piet kon met sy karwats en fluit enige skaaptrop stelstoot soos hy wou, want hy het hulle na sy hand geleer.

Toe Oupa van die plaas af weggetrek het, het outa Piet met sy gesin teruggetrek Klipfontein toe. Een oggend, terwyl ons brekfis eet, het hy uit die bloute by die agterdeur gestaan en met sy een hand op sy kierie geleun. Ek het teen die onderdeur opgeklouter om beter te sien. Op sy rug was ‘n sak met al sy besittings. Onder die sak was ‘n opgerolde kombers vasgemaak. Aan sy verslete belt was ‘n afgesplinte enemmelbeker vasgemaak. In sy hoed se sweetband het ‘n volstruisveer agteroor gestaan. Aan sy een hand het ‘n verwaarloosde kaalvoetkind vasgeklou. Met sy maer beentjies en groot kniekoppe het hy beangs sy oë rondgerol toe die groot gryskop oubaas die deur oopmaak.

Outa Piet het sy hoed eerbiedig afgehaal en met ‘n fluisterstem gegroet en gesê: “My duisman, outa Piet is vemôre leegaf. My vrou het besede maand afgesterf en ons het hom toe daar in Klipfontein gebêre. Ik hit my opgeskote klimmeidjie by my minse gelos en voetsaam Sarrisam toe gestap kom om vir ‘n broodjie te kom werk.” Hy het weer sy hoed opgesit en gesê: “My duisman, soos jy kan sien, is ons half nakend en tjyk hoe lyk my voetgoed. In Klipfontein kons ik nie langer bly nie, want ons kry honger. So Baas moet vemôre my hand vat, want op hierie werf was nog alle jare genog kos.”

Pa het omgedraai en vir Ma gesê: “Smeer daar vir outa Piet ‘n broodjie en gooi sy beker vol koffie. Gee vir sy kind ook ‘n eetding.” Toe Pa weer die onderdeur toestoot, het ou Piet byna onhoorbaar gefluister: “Dankie, baas Corneels. Jy het mos nou baas geword na ou Joos weg is. Ek sil van môre af die skaaptrop vat.”

Toe Ma vir hom die dik sny brood met vet in sy hand gee, het ou Piet afgekyk na die kind en gesê: “My noi, jy moet assemblief hierie klonkie vat en vir hom sôre, want hy kan nie bedags saam mit die vee loop nie.” Ma het instemmend geknik, terwyl sy ook vir hom sy kos gegee het. Sy hempie was op die een skouer met ‘n Springboktabaksakkie gelap en sy kortbroekie was met ‘n riempie om sy lyf vasgemaak.

Ma het die maer seuntjie met die dowwe wit kolle op sy gesig, wat duidelik tekens van ondervoeding was, van daardie oggend af onder haar vlerk geneem en versorg soos haar eie. Hy het deel van die gesin geword en sy naam was Jan Kupedo. Pa het vir hom ‘n paar bokoorleer velskoentjies gemaak en Jan Kupedo was ons kêrelkinders se mater. Ons het laterjare baie kattekwaad aangevang en het almal saam onder die plathand deurgeloop. Jan was, soos sy vader, ‘n diereliefhebber en het ‘n natuurlike aanleg gehad om met diere te werk. Toe hy groter word, het hy wintertyd die lammerbokke opgepas en saans werf toe gebring. Hy was bokwerktyd die belangrikste skakel, want saans het hy in die lammerhok gespring en elke bok se tweelinglammers uitgegee, sonder om ‘n fout te maak. Soms het Pa net sy kop in ongeloof geskud, want dan staan daar ‘n lot swartkameel lammers wat almal eenders lyk. Jan Kupedo het hulle twee-twee oor die kraalheining aangegee en as die twee lammers onder hulle moeder inhardloop, het sy hulle liefderyk geruik en met haar baard gekielie, asof sy wou sê: “Suip, julle biesgatte. My uier is seer en styf van die melk.”

Soos gebruiklik het Pa hom ook beloon met hanslammers en dit was nie lank nie of Jan het ‘n stewige boktroppie met sy eie merk op gehad – links winkelhaak van agter en stomp regteroor. Toe Jan Kupedo se stem begin kraak, het hy vir Pa laat verstaan dat hy wou teruggaan na sy mense toe. Pa was spyt oor Jan se besluit, want hy het geweet dat hy bokwerktyd “handaf” sou wees sonder hom. Toe hy die tyding aan Ma gaan oordra, het hy teleurgesteld gesê: “Jan wil loop – hy het nie rede gegee nie, maar hy wil nie langer bly nie.” Ma het haar kop laat sak en gesê: “Hy wil seker maar tussen sy mense wees, want niemand het hom tog hier aanstoot gegee nie.” Pa het gesug: “Ja, ou vrou, hy hit voor ons oë grootgeword ….. maar as hy weggaan, sil ik spyt wees. Hy is nou net mooi handig, so ons sil hom mis.”

Toe Jan die oggend sy paar bokke uitkeer, het hy later huis toe gekom om te kom groet. Ma was in die kookskerm besig om koffie te brand toe Jan eerbiedig met sy hoed in sy hand naderkom en sê: “Noi, ek – ek kom net groet.” Dit was asof die werklikheid nog nie tot haar deurgedring het nie. Sy het die koffie uitgegooi en dit stadig koudgeroer, terwyl die trane onbeheers oor haar wange geloop het. Jan het ongemaklik sy hoed in die rondte gedraai, terwyl Ma opgestaan en huis toe geloop het. Sy het teruggekom met ‘n slopie skoon klere en padkos vir die dag. Sy het haar trane met haar voorskoot afgevee en met ‘n onvaste stem gesê: “Jan, dis vir my ‘n swaar dag, want jy was vir ons soos ‘n eie kind. Ons hoop dit gaan goed met jou.” Met hierdie woorde het sy omgedraai en in die huis verdwyn. Sy was vir ‘n paar dae stil, want sy het oor Jan getreur.

Ek en Pa het saam met hom gestap en die draad agter Branderkop losgemaak en platgetrap, sodat hy sy bokke kon oorjaag en reguit Klipfontein toe kon trek. Jan het ‘n groot sak waarin al sy besittings was, op sy rug geabba. Pa het hom by die draad gegroet en sy hand ‘n bietjie langer vasgehou en aangedaan gesê: “Jan, ik wil dit nie so gehad het nie, maar keer kan ik jou ook nie vemôre nie.” Hy het omgedraai en met sy draadtang in die hand met geboë skouers huis toe gestap.

Ek het hom nog oor die volgende randjie gehelp en toe ons afskeid neem, toe vra ek nuuskierig vir hom: “Jan, hoekom loop jy?” Toe kyk hy ver op die volgende rand en sê: “Oorle’ Tata het vir my gesê: ‘As jou sin opraak, dan loop jy van die witmense af voor hille se kos bitter raak.”

My eerste langbroek

Mei 27, 2010

Vroeërjare het ons seuns maar almal ‘n ou kortbroekie gedra en het net van ‘n langbroek gedroom, want dit was eintlik net vir groot seuns beskore. Wintertyd het ons soggens om die vuur geboer en ons ou beentjies was later rooibont van die hitte, maar as jy gestuur was, moes jy maar die koue met jou maer kieriebeentjies en velskoene sonder sokkies trotseer.

Toe die smous voor die winter ‘n keer by ons gekom het, het Ma ‘n rol kakiemateriaal gekoop om tydens die drieweke vakansie vir my ‘n langbroek te maak. Ons kinders moes maar met die boerdery help en my werk was om soggens te help koeie melk en dan moes ek hulle veld toe jaag, sodat hulle nie naby die kalwers kon wei nie. Deur die dag moes ek die kalwers dophou en die boklammers oppas, sodat hulle nie ook in die rigting loop waar die bokke gewei het nie of by Ma se buite-oond kom nie. Ma het nie ‘n maatband of ‘n maatbroek gehad nie en het maar die rol kakiemateriaal op die kombuistafel oopgegooi en vir my bo-op die materiaal laat lê. Sy het haar hand wyd oopgemaak en my mate geneem soos ‘n mens ‘n span boertwak afmeet. Daarna het sy versigtig begin knip. Toe ek van die tafel afklim, het Ma die broek se materiaal met spelde aanmekaar vasgesteeek. Bedags as ek uit die veld uit kom, moes ek aanpas en my opgewondenheid het ál groter geword soos die broek sy voltooiing genader het. Ek het so gehoop Ma sit twéé sakke in, maar toe ek haar daarna vra, was haar sagte antwoord: “My kind, ek is bang jy loop hand-in-die-broeksak en dis tog alte lelik”. Ek moes dit maar gedweë aanvaar, solank ek net die langbroek kon kry. Alle kinders in my standerddrieklas het al ‘n langbroek gehad, behalwe ek.

Eindelik het die skool weer na die vakansie begin en die Maandagoggend het Ma ons vroeg geroep. Ek het groos my nuwe broek aangetrek en my velskoentjies vasgemaak. Toe ek regop staan, toe voel ek sommer groter as die vorige dag. Ek het my hand in my regtersak gesteek en gedink aan Ma se vermaning, maar my hand het so lekker warm gevoel, dat ek gewens het die ander hand het ook ‘n sak gehad. Ons moes eers die koeie gaan melk en is met die emmers en lantern kraal toe. Ons het altyd onder mekaar gewedywer wie sy koei die gouste kon klaar melk. Ons het die kalwers geleer om eers die koeie sak te suip en het hulle dan met ‘n vierkantige paaltjie op die kop getik. Dan het hulle ewe rustig by die koei se kop gestaan totdat ons klaar gemelk het.

Die koei wat ek gemelk het, se naam was Oppermeis. Sy was ‘n groot, geel koei wat, soos ons gesê het, los van melk was. Sy was ook ‘n kriewelgat van ‘n koei wat net nie wou stilstaan nie. Soms het sy jou met haar nat stert deur jou gesig geslaan. Ons het ‘n paar spanrieme gehad waarmee ons die koeie se agterbene gespan het sodat hulle nie in die melk kon trap nie. As dit moontlik was, het jy die koei se stert ook saam met haar agterbene vasgemaak, maar daarvan het sy niks gehou nie. Sy het altyd met mag en mening probeer om haar stert uit te wikkel.

Nadat ek haar klaar gespan en laat saksuip het, het ek op die Noorkapper-rugwerwel, wat ons as ‘n bankie gebruik het, ingeskuif en begin melk. Ek het met my linkerbeen by haar agterpote verby geskuif en toe so vinnig as moontlik begin melk, terwyl sy rustig gestaan en herkou het. In die flou lanternlig het ek na my ander helpers geloer om te sien hoe ver hulle al was en die volgende oomblik het ek net ‘n dowwe plofgeluid gehoor en gevoel hoe die pap beesmis op my linkerpyp val sodat dit teen die emmer spat! Die skrik en teleurstelling het plek gemaak vir ‘n ongekende woede jeens Oppermeis. Ek het vervaard opgespring, inderhaas die paaltjie gegryp en met al die krag in my vir Oppermeis tussen haar horings geslaan, sodat sy met ‘n hyggeluid op haar pote inmekaargesak het.

Ek het my lam geskrik, want ek het mos nou vir Oppermeis doodgeslaan! Skielik was die nuwe langbroek vergete en ek het gevrees dat, as Oppermeis dood was, Pa my soos ‘n gifding met die spanriem sou vrekslaan. Ek het die emmer neergesit, afgesak en haar aan haar stert gebyt, soos ou Petrus altyd gemaak het as daar ‘n maer bees bly lê en ons haar wou optel. Sy het doodstil bly lê. Later het ek benoud geroep: “Kêrels, kom help my! Oppermeis is dood!” Na so ‘n paar minute het sy saggies gekreun, haar kop heen-en-weer geskud, so ‘n paar proese gegee, waggel-waggel opgestaan en op haar pote gewieg. Al haar melk was weg, maar toe Oppermeis weer op haar voete staan, was ek so bly en verlig, dat ek net saggies: “Dankie, Here’tjie!” geprewel het.

Terwyl ek met die halwe emmer melk huis toe gestap het, het trane van teleurstelling oor my wange geloop. Ek moes maar weer die koue wintersoggend met my ou kortbroekie agter op die blou Ford-bakkie in die koue sit en bibber na Wallekraal se skool toe. Ek het so uitgesien om my nuwe langbroek aan almal te gaan wys, veral vir Lettie, vir wie ek toe al ge-“eye” het.

Kees maak amok

April 30, 2010

Op ‘n warm somersdag gaan maak ek ‘n draai by my veesuipings.  Groot was my verbasing toe ek ‘n klein verhongerde bobbejaantjie in ‘n ou sementdam ontdek.  Ek het hom huis toe gevat, ‘n paal in die koelte van ‘n groot bloekomboom geplant en bo-op die paal vir hom ‘n huisie van planke aanmekaar getimmer.

Die kinders het hom Bobbie gedoop en hy was gou deel van die gesin.  Almal het hom bederf en hy het soos ‘n koolkop gegroei.  Soggens het hy behendig met die ketting afgegly en al wat perkate is op die grond uitgehaal.  Dit was nie lank nie of hy het ons van sy manlikheid bewus gemaak.  In die begin het ek hom soos ‘n kind verbie, maar later het hy roekeloos geword as daar vreemde gaste kom, tot groot verleentheid  van ons, sy peetouers.

Ons jaarlikse wyksbasaar op Wallekraal is altyd ‘n groot geleentheid.  Ons vriende, Koos Koek en Bassie met hul vrouens het die naweek vir ons kom kuier.  Die Saterdagmiddag het ons almal opgetrek basaar toe en vir Bobby wees agtergelaat.   In die ou klipskooltjie is die tafels uitgepak en na ‘n halfuur het hulle gekreun onder die koek, vleis en poeding.

Na ds. Dokkie se opening het almal op die tafels toegesak op soek na kleinkoekies, melkterte en rosyntjiebrode.  Ek het die bedrywige vrouens agter die tafels elk met ‘n bakkie poeding bederf en self die orige twee bakkies ge-“polish”.  Ek het ook die pannekoektafel goed ondersteun en toe ek die kaneelsuiker met die agterkant van my hand van my mond afvee, kom Jan Auret met vier opgehoopte bakke poeding en sê:  “Kêrels, nou moet julle my help, want ek sien die vrouens het klaar poeding.”   Ek laat my nie twee keer nooi nie en vat twee bakkies.  So onderlangs loer ek na vroulief, want ek is al lelik in die moeilikheid by haar oor my klere wat die laaste tyd al kleiner raak.   My liefde vir jellie en kastert (custard) kom vanaf my koshuisjare en oudergewoonte speel ek eers ‘n bietjie met die jellie tussen my tande sodat die lekkerte nie so gou oorgaan nie.

Met die laaste paar slukke voel ek dat die ‘valve’ by my maag nie lekker sluit nie, want as ek sluk, kom dit terug op as dit moet af.  Ongemaklik staan ek op en verdwyn steun-steun om die klipgebou se hoek om my belt ‘n gaatjie of twee skiet te gee.  Terwyl ek gaan sit, baklei ek met myself oor my overdaad en verwyt die boodskap na my brein wat altyd net-net te laat opdaag om te sê:   “Jy het nou genoeg gehad!”

Na ‘n rukkie is die veiling aan die gang en ou Kolie veil een lekker ding na die ander op, terwyl ek uitdrukkingloos na die gehawende plankvloer staar.  My vrou pomp my in die ribbes en vra:  “Voel jy sleg?”  Ek beduie na my maag en voel weer ‘n gekneusde stukkie pannekoek en ‘n bietjie jellie in my mond.  Aan die einde van die veiling kom swaai Kolie die orige pakkies lekkers van die kindertafel voor my neus en ek raak wakker en roekeloos.  “Jy mag nie die goed eet nie,”  fluister Hestelle.  “Dis vir Bobbie,”  kap ek terug.

Later vertrek ons met die kombi wat volgelaai is met versoekings van terte en kartonne vol kleinkoekies. Toe ons opry na die huis, vra almal tegelyk:  “Waar’s Bobbie?” Ons oë soek op die werf rond en toe sien ons hom oor die huis se dak loer.  Almal roep en gooi vir hom eetgoed, maar dis asof Bobbie sy vryheid vier.  Hy hardloop ligvoets en spring van die een dak na die ander.  Hy haal sy bobbejaanperkate uit en kom loer soos ‘n stout kind kort-kort vir ons.  Hoe sou hy daar kom?, wonder ek.  Terwyl almal hom besig hou, sluip ek om die hoek van die huis.

Toe ons vyf kinders groter word, het ek ‘n groot gedeelte aangebou en met ‘n breë gang verbind.  Toe ek om die huis stap, raak alles vir my duidelik.  Hy het met die paal waaraan die TV-antenna gemonteer is, opgeklim en toe ‘n meter ver tot op die dak gespring.  Ons hou

kajuitraad.  Almal kom met slim-slim planne om Bobbie te vang, maar ons lot kruip almal na sestig se kant toe en die spoed ontbreek.  Ons huishulp kom met ‘n skitterende oplossing:  “Kom ons gooi vir hom slaappille!”

‘n Paar slaappille in toffiepapier toegedraai word op die dak gegooi.  Bobbie kry sy sit, maak die papier met sy seningrige vingertjies oop en vat die pille fyntjies.  Hy kou girts-girts en kyk later met sy bruin ogies vir nog.  Ons hou hom dop – sy bewegings is later nie meer so flink nie.  Later stut hy sy kop tussen sy handjies en knip-knip sy ogies stadig soos twee klein “blinds” wat jy op en af trek.  Toe ons dink dis tyd om toe te slaan, gaan haal ek die leer en staanmaak dit regoor waar hy sit.  “Klim een op en maak hom skrik,  dalk gaan hy weer by die paal af!”,  beveel ek soos ‘n sammajoor.  Met my dik maag beweeg ek om die hoek van die huis en ek voel hoe die sooibrand kook.    “Daar kom hy af!”,  skree Koos.

Op daardie oomblik kry ek en kees mekaar by die hoek van die huis en hy krink terug paal toe.  Ek sit alles in paal toe, maar met my kerkskoene en vol maag waarin die jellie skommel,  sien ek dat my opponent ook nie meer so vlugvoetig is nie.   Toe hy spring vir die paal, is ek net betyds om ta se stert bokant my kop te gryp.  Hy sit ‘n bek op, terwyl ‘n paar mieliepitte my rakelings mis, maar die stank word my nie gespaar nie.   Ek gryp hom agter die nekvel terwyl hy met ‘n oopgesperde bek in bobbejaantaal protesteer.  By die stoep oorhandig ek hom aan Bassie wat die vashouwerk moet doen sodat ek weer die halsband kan aansit.

Teësinnig vat Bassie die gevangene vas, terwyl Bobbie tekeregaan of hy vermoor word – die vaak skoon weggeskrik.  Koos Koek vou dubbeld soos hy lag, want hy het al gesien hier ‘klom kloot klak”.  Bobbie het hom nou begin teësit en met sy seningvingers aan Bassie ‘n vasklouplek gesoek, terwyl sy klein lyfie in die rondte draai en sy beste wapen byna in Bassie se gesig is.  Eers het hy ‘n paar bobbejaanwinde gelos, terwyl Bassie sy gesig so ver moontlik probeer wegdraai.  “Hou net vas, Bassie!”,  moedig ek hom aan, terwyl ek sukkel om die halsband oor sy kop te kry.  Bassie se oë fokus net tussen die twee eelte wat lyk of Bobbie bymekaar maak om te vuur.  “Gert, as hierie bobbejaan vandag op my dinges, los ek die vuiles net so.  En Koos, moenie daar lê en lag nie – pleks jy kom help vashou!”

“Bassie, jy moet nou vervat, want ek moet die beltjie aansit waar jou hande is”,  sê ek.   “Maar my goeie, Gert, waar vat ek dan?  Die vuiles se bek is oop en as darie tande my byt, skop ek hom vandag vrek… Bobbie of nie Bobbie nie!”.   Koos en die vrouens geniet ons dilemma sonder om ‘n vinger te verroer.  Ek loer weer na die lanseerbasis en sien dit haal asem soos wanneer ‘n hoender pas ‘n eier gelê het en ek weet hy haal oor, maar ek sê niks vir Bassie nie.   Ek sukkel om die gespe in die gaatjie te kry en dis of kees ‘n desperate poging aanwend om uit Bassie se greep te kom.  “Hy’s vas”,  sê ek verlig, maar dis of hierdie woorde vir kees sê hy kan maar laat loop, want toe vuur hy.  Bassie het soos ‘n gesoute soldaat laat los en weggerol sodat die skrapnel van die granaat hom met millimeters gemis het.

Alle geroei was pure verniet, want ‘n uur later lê Bobbie uitge-“pass” op sy rug onder die boom met ‘n stukkie pannekoek nog tussen sy vingers vasgeklem.  Hy lyk onskuldig en skadeloos en ‘n vreemdeling wat daar sou verloop, sou wonder of dit ‘n mannetjie- of ‘n wyfiebobbejaantjie  is.