Nou vergeet ons sommer mekaar!
Ons nege broers en susters het die naweek in Durbanville saamgetrek vir suster Johanna se 70ste verjaarsdag. Die meeste van ons is al aan die verkeerde kant van 60 en het almal vir die naweek by Sakkie en Maria uitgespan.
Die kamera’s het kort-kort gekliek en dit was ‘n saak om almal bymekaar te kry. Die kamera-operateurs moes maar ver staan om almal in te kry, want ons lyfies is nie meer wat dit was nie. Tydens die neem van die groepfoto, toe almal klaar reggestel is, ontdek ons dat sus Annie makeer. Dit was die eerste vergeet van die naweek, maar nie die laaste nie.
Saterdagoggend het ons hele lot by die DROS gaan brunch. Langs pad het ons ontdek dat die eregas nie by is nie – sy het op die stoep agtergebly! Ons moes in ons spore omdraai om suster Johanna te gaan haal. Met die stopslaag het al wat ‘n swarte is ons voertuig bestorm op soek na ‘n Saterdagjoppie. Om van hulle ontslae te raak, was erger as die paar kilometers se omdraai.
Na ete is ons almal eers Cape Gate toe, maar die ander is vroeg huis toe. Ek het ‘n afspraak met iemand gehad en Hestelle wou die geleentheid gebruik om haar laaste inkopies te doen. Na my afspraak spreek ons af dat ek by House of Coffees vir haar sal wag en ek gaan sit op die hoek by ‘n koffietafel. Die tyd stap aan en na ‘n uur raak ek onrustig.
Skuins langs my kom parkeer ‘n tannie haar opgehoopte trollie. Haar kop draai al in die rondte en haar oë soek iemand. Ek meet om vir haar te sê: “Ek sit al meer as ‘n uur hier.” Ek bestudeer later almal wat verbystap. Dis dikkes en dunnetjies, langes en kortetjies, gryskoppe met boepmagies met hul metgeselle ‘n halwe treeetjie agter hulle.
Die jongspan klou aanmekaar vas en deel ‘n soentjie uit. Ek dink ver terug: so het ek en my wederhelf ook meer as 40 jaar gelede handjies vasgehou as ons die roltrappe van OK Bazaars klim en dan mekaar styf vasgehou, terwyl ons opgaan na die volgende vloer. Ons het ook diep in mekaar se oë gekyk, want ons kon nie genoeg van mekaar kry nie.
Ek hou die jong gesinne dop. Die pa met die opgeskote kindjie op die nek en die kleintjie voor op die trollie. Dit laat my terugdink toe ons met ons 5 kinders Desembervakansies ons inkopies in die Kaap kom doen het. Elkeen het met sy sakgeldjie vir hom iets gesoek om te koop. My grootste werk was om hulle bymekaar te hou. Later het Hestelle en die 4 meisiekinders hul eie koers gekies en ek moes die woelige Nelis in toom hou – wat ‘n moeilike job!
Ek kyk weer op my horlosie, want nou raak ek kriewelrig. Dis reeds 2-uur en die waiter druk kort-kort die spyskaart voor my. Moedeloos skud ek my kop, terwyl ek beduie dat ek vir my vrou wag. Ek skrik toe die selfoon skielik in my sak afgaan – dis Hestelle se bekommerde stem aan die ander kant: “Bokkie, ek is verskriklik jammer, maar ek is al by die huis – ek het ongelukkig van jou vergeet!” “Vergeet?!” roep ek verontwaardig uit. “Jy het my vergeet?” herhaal ek die vraag. “Ek is vreeslik jammer, Pa, maar ek kom jou dadelik haal.”
Ek druk die foon ergerlik dood en kyk weer na ‘n jong paartjie wat handjie-handjie verbystap. Hulle glimlag liefies vir mekaar. Ek dink by myselwers: so was ons ook jonk en tot ons ore verlief. Ons wou mekaar opvreet, want die liefde was in volle blom.
Vandag, na soveel gelukkige jare saam, vergeet ons sommer mekaar in ‘n winkel!
Lag ek nou lekker weer vir die vergeet – storie!