Kan jy dit glo?
Ons wat hier in die Sandveld bly, is gelukkig dat, as ons ‘n gat wil grawe, dit nie ‘n probleem is nie. So bou ek destyds ‘n woonstel weg van die huis, maar die probleem is toe dat die drein gemaak moes word waar ons parkeerarea deesdae is.
Ons grawe toe die drein diep en groot, bou dit uit en bedek dit met ‘n konkreetdeksel. Bo-oor word dit met sand en klei toegegooi sodat niemand eens weet dat daar ‘n drein is nie. Ekself het ook later van die drein vergeet. Oor die jare het baie voertuie en selfs lorries by ons kom stilhou, sonder ‘n probleem. My drein is mos vir almal mooi veilig weggesteek …. tot op ‘n dag.
Na my heupvervanging ‘n paar jaar gelede, moes ek na ‘n maand weer Kaap toe ry vir ‘n opvolgondersoek. Soos dit maar gaan, vat jy mos altyd vir jou kinders en familie ‘n vleisie saam, want hoe anders? Pa boer mos met skaap. Ek het nog met die armstutte geloop, maar moes die slagding opsaag – dit was al die jare nog my werk. Ek het vir John Pampoen opdrag gegee om my groter trekker op te bring huis toe sodat ons dit kan skoonspuit.
Terwyl ek besig was om vleis op te saag, loer ek deur die venster en die volgende oomblik toe raak die trekker net voor my oë weg. Ek huppel vorentoe om beter te sien en daar sien ek net die trekker se voorwiele bo die grond uitsteek. Ek het my armstutte gegryp is is vinnig uit na die ongelukstoneel. Wat sou ek sien? John Pampoen sit daar onder in die drein, bleek en asvaal van die stof, met die stuurwiel nog stewig in sy hande.
“En nou, John?” vra ek oorbodig. “ Baas, ek sit nog so en ry en toe v’loor die trekker net hier in die gaat.” Ek merk dat hy soos ‘n riet bewe en gaan maak vir hom ‘n bietjie brandewynwater aan, want ek kan sien hy het hom disnis geskrik. Hy het so groot geskrik, dat hy roerloos sit en sy hande nog styf om die stuurwiel geklem is – so asof dit ‘n reddingsboei is. Daar stoot ook ‘n klankie tussen die stof op.
Ek bekyk toe die besigheid. Hy het netjies tussen die drein se mure deur gery en die gewig van die trekker was net te veel vir die ou konkreetdeksel. By nadere ondersoek sou ek sien dat die staal en stutte met die jare verweer en die konkreet verbrokkel het.
Die volgende oggend, toe ek die pad Kaap toe moes vat, besef ek dat ek mos nie my trekker hier in die str-ntgat kan los en Kaap toe ry nie. Ek het die nag gelê en planne maak, want hoe kry ons weer die sware trekker bo die grond? Die son het skaars sy kop uitgesteek, toe stel ons ‘n driepoot bo-oor hom op en begin die Massey Ferguson met ‘n 5-ton kettingkatrol ophys. Ons hou duim vas en dit gaan goed, maar toe vou driepoot se bene inmekaar. Die Massey sak terug en ‘n vars klankie hang nou in die oggendlug. Ek huppel op my stutte en my wit kouse om die toneel en rits ‘n klomp orders af, want die bakkie is klaar gepak en Hestelle loer kort-kort op haar horlosie – sy het elfuur ‘n haarbestelling op Vredendal!
Nelis het gou die driepoot se bene met die sweismasjien gaan versterk en ‘n vrag stene ook saamgebring. Dit was nou weer Aubrey Fielding se beurt om die ketting onder aan die trekker se draw bar vas te haak. Ek het gesien hy trek sy neus weg, maar hoe anders gemaak? Die ketting kraak en ons hou asem op. Die driepoot buig soos ‘n hoepel, maar dit hou. Ons lig die Massey skakel vir skakel en Aubrey moet na elke ses duim ‘n laag stene pak. Hy gee nie om nie, want Oubaas het hom destyds, toe hy op parool uit was, werk gegee en sorg mooi vir hom. So lig ons die trekker bietjie-vir-bietjie en pak dan ‘n laag stene onder die wiele. Aubrey glimlag van oor tot oor toe die trekker veilig op die grond staan.
Toe ons elfuur die trekker van die gat af wegry, kyk ek op my horlosie en sê verlig: “Ouvrou, dis nou elfuur … net mooi tyd vir jou haarbestelling!”
My dag is gemaak … ek het nou al my stres uitgelag. Dankie Gert.
Groete
Andri van den heever.
Hallo Andri, ek lag ook agterna, maar het my simpel geskrik! Toe die een werker so skree, dog ek ons kleindogter is onder die trekker, want ek sien haar toe nêrens buite nie en sy was net voor die ongeluk daar. Al die tyd by Nelis op die bakkie geklim en kraal toe gery, maar ek weet mos nie. Ek moes suikerwater drink!
Dis nou ‘n storie wat lekker kan inpas by “‘n boer maak ‘n plan” ..
Hoe is die gesegde? “Al is dit ook ‘n anderster plan!”
Ek het nou lekker hier gelees.
Ek wens ons het meer tyd om nog op te sit! Groetnis.
Ek hoor sommer weer hoe “Vreeedendal” deur die Namakwalanders uitgespreek word. Soeter as soet onthou vir my. Ai, ek lief daai plek en sy ruim-hart-mense. En terloops; julle kan en mag maar stories vertel, ek sal nooit moeg raak om te luister nie.
Baie dankie, Mefri! Goed om te hoor julle geniet dit. Lekker bly.