Die skiet van die verkeerde vark
Ons het al die jare ‘n paar vetgevoerde varke op hok gehad. Ons gesin was groot en Pa het aan sy varkspek in die wildsvleis geglo. Varkvet was deel van die smeergoed wat op tafel was, om nie te praat van die winddroë gevlekte vleis en wors wat skelmpies deur ons kinders gegaps was nie. Ma het die mote varkspek in die houtbalie ingesout, want wintertyd moes daar ook ‘n varkspekkie vir die boontjiesop wees.
My broers en susters was al amper almal uit die huis en die groot varke was skadelik om te slag. So het Pa met die slagter op Bitterfontein gereël om die ou groot vark die einde van die maand lewendig teen ‘n sekere bedrag per kilogram aan sy slaghuis te lewer. Pa het orders gegee dat die groot vark die laaste maand ekstra garsmeel moes kry, sodat hy goed kon weeg. Die oumense het geglo dat as ‘n vark eers op sy agterkant kan sit, hy gereed is om geslag te word.
Daar was ook ‘n kleinerige varkie wat saam met die groot vark in die hok was wat ons vir onsself wou slag. So het ons die dag gereed gemaak om die jong varkie te slag. Ek was teen hierdie tyd al ‘n erkende varkskut en het hierdie takie verrig, want Pa het begin kla van ‘n sawwe kol op sy maag as hy moes skiet.
Die gat was die middag reeds gegrawe en met strooi bedek en die seeppot al stomend toe Ma sê: “My kind, ons is nou gereed – jy kan maar die geweertjie gaan haal en die varkie skiet.” Pa het nog ‘n bietjie gelê, omdat hy nie lekker gevoel het nie. Ek het ‘n paar .22-patroontjies in die Remmington gesit en varkhok toe gestap, terwyl die slagters my vanuit die kookskerm dopgehou het. Jakob was besig om die messe te slyp.
Ek het stadig om die varkhok gestap op soek na my teiken. Toe ek om die hok stap, het die ou groot vark hom moeisaam opgelig, op sy stert gaan sit en my nuuskierig tussen sy lang wit ooghare deur beloer. Die jong varkie, wat ek veronderstel was om te skiet, het rustig gelê en slaap, terwyl die slagter se vark hom na my rigting gedraai het. Ek het al gehoor dat jagters bokkoors kry en later net blindelings skote aftrek. Daardie dag het varkkoors my seker oorval, want toe ek my kom kry, lig ek die geweer en soek die denkbeeldige kruis tussen die oë en ore. Toe ek my kom kry, toe trek ek die sneller. Toe die skoot klap, toe skrik die klein varkie wakker en kyk wantrouig na my. Ek het koud geword en versteen bly staan. Met ‘n skok het ek besef dat dit mos die verkeerde vark was wat ek geskiet het … dis dan die slagter se vark!
Verslae het ek die geweer stadig laat sak en na die kookskerm geloer. Almal het afwagtend in die rigting van die varkhok gekyk. Daar het ook nou beweging in die kookskerm gekom en Jakob het met ‘n lang slagmes aangekom, terwyl die ander manne met die osrieme nadergekom het om die varkie na die gat te dra. Ek het steeds verwese gestaan en kyk na die dooie vark wat nog af en toe met sy agterpote teen die sinkplaat skop. Dit was asof die geluid van die sinkplaat my aankla oor my onbesonne daad.
Jakob was die eerste wat oor die hok geloer en gesien het hoe die groot vark sy laaste skop gee. “Jeeston, Gert, jy moes mos die klein varkie geskiet het!” het hy onnodig gesê. “Ek weet, man!” het ek skaars hoorbaar gefluister, terwyl ek stadig met hangskouers kombuis toe gestap het om die slegte tyding te gaan oordra. Toe ek daar kom, toe staan Ma al met die skraaplepels in haar hand. “Jy het vemôre gou die varkie geskiet?” het Ma gesê-vra, terwyl ek die geweer stadig in sy sak teruggesit en woorde bymekaargemaak het om die tyding so sag as moontlik te laat klink. “Ma, Ma … ek ..ek weet nie wat gebeur het nie,” het ek gestotter. “Toe ek my kom kry, toe skiet ek die groot vark.” Sy het na haar mond gegryp en ontsteld gevra: “Die groot vark wat jou pa einde van die maand Bitterfontein toe moet vat?!” “Ja, Ma, dit was eerlik ‘n ongeluk,” het ek berouvol gesê. “Ag jene, my kind,” en sy het haar voorskoot senuagtig gebondel. “Wat sal jou pa sê as hy dit moet hoor? Hy voel al nie lekker nie en nou nog die varkbesigheid ook.” Met Ma se verwyt nog in my ore, het ek by die kombuisdeur uitgestap en probeer dink hoe dit gebeur het dat ek die verkeerde vark geskiet het, maar ek kan dit tot vandag toe nog nie verklaar nie
Toe Pa die tyding kry, het hy ontsteld Boontoe geroep en sy kop moedeloos geskud. Van ontsteltenis het hy vir amper ‘n week in die bed gebly, terwyl ek met myself geworstel het oor hoe dit kon gebeur het. Deur te sê dat ek per ongeluk die verkeerde vark geskiet het, was beslis nie vir Pa of Ma aanvaarbaar nie. Het hulle nie dalk gedink ek was moedswillig nie?
Onnodig om te sê dat die groot vark met gemengde gevoelens geslag is, want kort-kort het ek gesien hoe oorle’ Ma haar kop moedeloos skud terwyl ons met die skraapwerk besig was. Terwyl my ouers nog gelewe het, het die skuldgevoel nog vir baie jare by my gespook.
Ek, plaaskind, het lanklaas ‘n skrywe so geniet! Baie dankie.
Varkvet met sout en peper op vars gebakte plaasbrood…mens tjank ek amper !!
Baie dankie vir die positiewe kommentaar! Ons waardeer dit.
Dit is nou lekker lees!
Daar sal hopelik nog kom! Groete