Slaan oor na inhoud

Nou vergeet ons sommer mekaar!

Oktober 22, 2012

Ons nege broers en susters het die naweek in Durbanville saamgetrek vir suster Johanna se 70ste verjaarsdag. Die meeste van ons is al aan die verkeerde kant van 60 en het almal vir die naweek by Sakkie en Maria uitgespan.

Die kamera’s het kort-kort gekliek en dit was ‘n saak om almal bymekaar te kry. Die kamera-operateurs moes maar ver staan om almal in te kry, want ons lyfies is nie meer wat dit was nie. Tydens die neem van die groepfoto, toe almal klaar reggestel is, ontdek ons dat sus Annie makeer. Dit was die eerste vergeet van die naweek, maar nie die laaste nie.

Saterdagoggend het ons hele lot by die DROS gaan brunch. Langs pad het ons ontdek dat die eregas nie by is nie – sy het op die stoep agtergebly! Ons moes in ons spore omdraai om suster Johanna te gaan haal. Met die stopslaag het al wat ‘n swarte is ons voertuig bestorm op soek na ‘n Saterdagjoppie.  Om van hulle ontslae te raak, was erger as die paar kilometers se omdraai.

Na ete is ons almal eers Cape Gate toe, maar die ander is vroeg huis toe. Ek het ‘n afspraak met iemand gehad en Hestelle wou die geleentheid gebruik om haar laaste inkopies te doen. Na my afspraak spreek ons af dat ek by House of Coffees vir haar sal wag en ek gaan sit op die hoek by ‘n koffietafel. Die tyd stap aan en na ‘n uur raak ek onrustig.

Skuins langs my kom parkeer ‘n tannie haar opgehoopte trollie. Haar kop draai al in die rondte en haar oë soek iemand. Ek meet om vir haar te sê: “Ek sit al meer as ‘n uur hier.”  Ek bestudeer later almal wat verbystap. Dis dikkes en dunnetjies, langes en kortetjies, gryskoppe met boepmagies met hul metgeselle ‘n halwe treeetjie agter hulle.

Die jongspan klou aanmekaar vas en deel ‘n soentjie uit. Ek dink ver terug: so het ek en my wederhelf ook meer as 40 jaar gelede handjies vasgehou as ons die roltrappe van OK Bazaars  klim en dan mekaar styf vasgehou, terwyl ons opgaan na die volgende vloer. Ons het ook diep in mekaar se oë gekyk, want ons kon nie genoeg van mekaar kry nie.

Ek hou die jong gesinne dop. Die pa met die opgeskote kindjie op die nek en die kleintjie voor op die trollie. Dit laat my terugdink toe ons met ons 5 kinders Desembervakansies ons inkopies in die Kaap kom doen het. Elkeen het met sy sakgeldjie vir hom iets gesoek om te koop.  My grootste werk was om hulle bymekaar te hou. Later het Hestelle en die 4 meisiekinders hul eie koers gekies en ek moes die woelige Nelis in toom hou – wat ‘n moeilike job!

Ek kyk weer op my horlosie, want nou raak ek kriewelrig. Dis reeds 2-uur en die waiter druk kort-kort die spyskaart voor my. Moedeloos skud ek my kop, terwyl ek beduie dat ek vir my vrou wag. Ek skrik toe die selfoon skielik in my sak afgaan – dis Hestelle se bekommerde stem aan die ander kant:  “Bokkie, ek is verskriklik jammer, maar ek is al by die huis – ek het ongelukkig van jou vergeet!”   “Vergeet?!” roep ek verontwaardig uit. “Jy het my vergeet?” herhaal ek die vraag. “Ek is vreeslik jammer, Pa, maar ek kom jou dadelik haal.”

Ek druk die foon ergerlik dood en kyk weer na ‘n jong paartjie wat handjie-handjie verbystap.  Hulle glimlag liefies vir mekaar.  Ek dink by myselwers:  so was ons ook jonk en tot ons ore verlief. Ons wou mekaar opvreet, want die liefde was in volle blom.

This slideshow requires JavaScript.

Vandag, na soveel gelukkige jare saam, vergeet ons sommer mekaar in ‘n winkel!

Garies Geselsnaweek 2012

Mei 18, 2012

Die naweek by Groenrivier het te stadig nadergekom, want ons was opgewonde om weer ons Gariesfamilie te sien. In jou agterkop het jy gewonder wie daar sou wees en of dit weer so lekker sou wees soos laasjaar. Gelukkig het ek lankal verlof ingesit en my besigheid so gestelstoot, want in my dagboek was daar ‘n groot kring getrek om die laaste naweek in April.

Dit was ‘n snaakse gevoel om net in jou voertuig te klim en die pad aan te vat, sonder die alewige rompslomp van kos inpak, rooster en hout te laai, want ons gasheer sou vir alles sorg.

Dit was stil in die kamp toe ons Vrydagmiddag met ons karavaan daar stilhou. Groot was my verrassing toe ek my ou skoolmaat uit Wallekraal se dae, Lettie van Zyl, eerste raakloop. Toe ek haar weer sien, was dit asof die episode in die klaskamer, amper 60 jaar gelede, weer voor my afspeel. Ant Kowa, die matrone van die koshuis, het my die môre met die meelvel geslaan en ek was nie bewus daarvan dat my rug wit van die meel was nie. Ek moes die eerste môre vir die klas op die bord ‘n som verduidelik (ek het somme gehaat!). toe ek vorentoe stap, het almal begin lag. Ek het omgedraai en skaam na Lettie geloer, want ek was verlief op haar. (Sy het dit nie eens geweet nie!)

Meneer van Aarde was ‘n aaklige mens en het na my velskoene gekyk en begin om my sleg te sê. My maer ou kieriebeentjies het begin bewe en ek het na my velskoentjies gekyk wat oorle’ Pa ‘n bietjie te haastig gemaak het. Hulle was half vierkantig en hopeloos te groot vir my, maar ek het lekker die manne se maermerries met hulle bygekom as ons agtermiddae langs die koshuis sokker gespeel het. My een skoenriem het die vorige dag gebreek en ek het vir elke skoen ‘n lang, blou baaltou ingeryg en twee hardekwas strikke het oor my vellies gehang.

Van Aarde het sy gesig getrek soos een wat vrot vleis ruik en snedig gesê: “Jy’s ‘n skande vir die klas …. skaam jy jou nie dat jy jou skoene met baaltou vasmaak nie? Gaan trek hulle buite uit, want ek wil nie op hulle kyk nie.” Dit het gevoel of die aarde my maar liewer kan insluk, want hy het my afgebreek dat daar niks van my oorgebly het nie. Terwyl ek my twee esels op die stoep uitspan, het daar ‘n wrok in my binneste kom nesmaak wat ek vir baie jare met my saamgedra het. Toe ek weer die klas instap, het daar ‘n lastige traan van bitterheid oor my wang gerol. Ek het weer onderlangs na Lettie geloer en haastig die nattigheid met die agterkant van my hand afgevee. Dit was die grootste vernedering wat ek as kind moes ervaar. Toe ek daar in die bank sit, het ek wraak gesweer, maar hy is gelukkig dood lank voor ek volwasse geword het. Na soveel jare kon ek en Lettie saam daaroor lag.

Na die middag het die span vinnig aangegroei en ons kon bladskud met ou bekendes wat verlede jaar ook daar was. Ene Haasbroek het hom aan my bekendgestel en langs hom het sy vrou en seun met sy meisie ook gesit. Later sou ek hoor dis mnr. Leon Haasbroek wat meer as dertig jaar gelede op Garies skoolgehou het. As hy aan die begin gesê het hy is Rabbit Pantie, sou ek dadelik geweet het, want dit was die bynaam wat die kinders hom destyds gegee het.

Later het die kring binne die saal al wyer geword en ‘n Orosmannetjie het by ons aangesluit. Andries Colyn was nog nie eens gebore toe ek, Adriaan en Arno Garies skool verlaat het nie. Hy was ‘n tonic, want sy mond was nooit stil nie. Ook Henk du Toit van oom Kassiejan, het vir ons ‘n paar stories saamgebring. Toe ons die Vrydagaand aan die heerlike skaaptjops smul, was ons klaar ‘n hegte band, want Piet Esel en sy suster het ook hulle kinders saamgebring. As my oë oor die pragtige jongmense dwaal, het ek na my eie kinders verlang. Arno en Marietjie het darem vir Christoffel by hulle gehad en hy moes die prys kry vir die beste luisteraar.

Ons het die aand tot laat gegai-gai en Len Schreuder en Adriaan het ons vermaak met Mikke Stone se stories. Onder die sterrehemel langs die karavaan het Lettie en haar man, Piet, saam met ons ‘n koffietjie gedrink en oor die ou dae gesels. Langs ons het die jongspan van Piet Esel en Lona soos voëls gekwetter. Laatnag, toe ons gaan inkruip, het die sooibrand my opgekeil, want ek kon nie die lekker vars potbrood wat Tinus en Fanie vir ons voorgesit het, weerstaan nie.

Saterdagoggend het ons ‘n stewige brunch gekry en later die Stormers gaan help om die Force te klop. Saterdagmiddag was die meeste van ons se tyres aan die papperige kant en ons het ‘n bietjie gaan skuins staan om ons in te suur vir die aand se gesels.

Bennie het vroegaand al vir ons kole ingedra en die geselskap het stoom gekry toe Isak en Wikus ook by ons aangesluit het. Ek was ook bly om my kleinniggie, Jeanie Gagiano, weer te sien. Die musiek en die reuk van die afvalpot het teen skemeraand alle gaste ingebring. Kalfie se ouboet, Fanie, het later die dansbaan geopen, maar Kalfie het soet in sy hok agtergebly. Dit was weer goed om vir Isak oor die dansbaan te sien gly – sy 76 somers ten spyt. Hy is goed ondersteun deur Andries Colyn, wat kaalvoet die vrouens een na die ander ge-pick het.

Die warm potbrood, kookvleis en kerrie-afval het later vir ‘n lang pouse gesorg en toe almal se mae vol was, het die dansbaan ook lyf gekry. Selfs ek was so simpel om vir Mamma nader te trek! Die aand het omgevlieg en toe die musiek afgaan, toe vat eers Wikus en toe Andries Colyn die mike en maak soos Tolla ‘n ge-oliede spiets. Andries moes baie by sir De Villiers Graaf geleer het toe hy destyds voor elke verkiesing by oom Bertie-hulle oornag het.

Sondagoggend het ons traag die tentpenne uitgetrek en die karavaan gehaak, want in ons agterkop het ons geweet dit word tyd om te groet. Na die oggenddiens is oor-en-weer dankie gesê en daar’s manne wat met gawe pryse bekroon is….. selfs Arno en Kalfie het ‘n prys gedeel. Ek het egter vir myself gesê oor 10 jaar sal die kompetisie so straf wees, dat ek nie in die beoordelaar se skoene wil staan nie.

Voor almal sou aansit vir die laaste ete, het ek almal saamgevat op reis Kaap toe om vir Sarel te gaan kuier. Na 50 jaar het ek weer my en Niek se eerste treinreis herleef – hoe ek die nag op die trein moes planne maak om die rib vleis, wat ek moes saampiekel vir my tannie, lug te gee, terwyl ou Niek eenkant aan sy kromrietjiepyp sit en suig met sy Tomicks-hoed stewig op sy kop. By die busstop het ons nie geweet hoe om die bus te stop sodat ons kan saamry nie. Ek het gesien dat ‘n man sy opgevoude koerant in die lug hou en hoe die bus hom oplaai. Toe weet ek nie waar om ‘n koerant te kry nie! Ek het onthou van  ons wedervaring op die parade waar ons eers elkeen 10 piesangs opgeëet het voor ons gaan luister het na die ou wat staan en preek. Ons het later besluit om maar die kerk te bank, want daar was te veel ander goed om te sien. Dis ook toe dat Niek die koffiemeul gekoop het en soos ons stap almal raakgehaak het. Ek onthou ook Sarel se verbasing toe ons so ongenooid en onverwags daar by hom opdaag en ons was glad nie welkom nie.

Toe ons skuins voor 12 begin groet, het dit gevoel soos ‘n groot familie wat uitmekaar gaan. Toe ons stadig by die hek uitry, het die vierhoring-damaras nuuskierig deur die draad na ons gekyk, terwyl die emo’s nog ‘n entjie teen die draad saam met ons gestap het. In my het ‘n rustigheid en vrede kom lê, want ek het weer my batteries gelaai tot ons weer mekaar sien.

Ek was dankbaar vir die klompie mense wat die gom geword het wat alles reël, die span bymekaar hou en sorg dat alles glad verloop. Mag ons gespaar bly om volgende jaar weer te gaan uitspan en ons moet noual begin om ons stories in te sout vir volgende jaar se saamwees by Groenrivier.

Aan Adriaan en Vlos ons grootste waardering dat ons by hulle kon uitspan en vir alles wat ons kon geniet. Ook aan Kolieman en sy Bokkie wat alles vir ons in gereedheid gebring het. Ons sê dankie aan ons twee sjefs, Tinus en Fanie. Ek het julle name reeds aan Pasella deurgestuur! Ons vergeet ook nie vir ou Bennie wat in die stilligheid die donkiewerk gedoen het nie – elkeen se bydrae word waardeer!

Die skiet van die verkeerde vark

April 4, 2012

Ons het al die jare ‘n paar vetgevoerde varke op hok gehad. Ons gesin was groot en Pa het aan sy varkspek in die wildsvleis geglo. Varkvet was deel van die smeergoed wat op tafel was, om nie te praat van die winddroë gevlekte vleis en wors wat skelmpies deur ons kinders gegaps was nie. Ma het die mote varkspek in die houtbalie ingesout, want wintertyd moes daar ook ‘n varkspekkie vir die boontjiesop wees.

My broers en susters was al amper almal uit die huis en die groot varke was skadelik om te slag. So het Pa met die slagter op Bitterfontein gereël om die ou groot vark die einde van die maand lewendig teen ‘n sekere bedrag per kilogram aan sy slaghuis te lewer. Pa het orders gegee dat die groot vark die laaste maand ekstra garsmeel moes kry, sodat hy goed kon weeg. Die oumense het geglo dat as ‘n vark eers op sy agterkant kan sit, hy gereed is om geslag te word.

Daar was ook ‘n kleinerige varkie wat saam met die groot vark in die hok was wat ons vir onsself wou slag. So het ons die dag gereed gemaak om die jong varkie te slag.  Ek was teen hierdie tyd al ‘n erkende varkskut en het hierdie takie verrig, want Pa het begin kla van ‘n sawwe kol op sy maag as hy moes skiet.

Die gat was die middag  reeds gegrawe en met strooi bedek en die seeppot al stomend toe Ma sê:  “My kind, ons is nou gereed – jy kan maar die geweertjie gaan haal en die varkie skiet.” Pa het nog ‘n bietjie gelê, omdat hy nie lekker gevoel het nie. Ek het ‘n paar .22-patroontjies in die Remmington gesit en varkhok toe gestap, terwyl die slagters my vanuit die kookskerm dopgehou het.  Jakob was besig om die messe te slyp.

Ek het stadig om die varkhok gestap op soek na my teiken. Toe ek om die hok stap, het die ou groot vark hom moeisaam opgelig, op sy stert gaan sit en my nuuskierig tussen sy lang wit ooghare deur beloer. Die jong varkie, wat ek veronderstel was om te skiet, het rustig gelê en slaap, terwyl die slagter se vark hom na my rigting gedraai het. Ek het al gehoor dat jagters bokkoors kry en later net blindelings skote aftrek. Daardie dag het varkkoors my seker oorval, want toe ek my kom kry, lig ek die geweer en soek die denkbeeldige kruis tussen die oë en ore. Toe ek my kom kry, toe trek ek die sneller. Toe die skoot klap, toe skrik die klein varkie wakker en kyk wantrouig na my.  Ek het koud geword en versteen bly staan. Met ‘n skok het ek besef dat dit mos die verkeerde vark was wat ek geskiet het … dis dan die slagter se vark!

Verslae het ek die geweer stadig laat sak en na die kookskerm geloer. Almal het afwagtend in die rigting van die varkhok gekyk. Daar het ook nou beweging in die kookskerm gekom en Jakob het met ‘n lang slagmes aangekom, terwyl die ander manne met die osrieme nadergekom het om die varkie na die gat te dra. Ek het steeds verwese gestaan en kyk na die dooie vark wat nog af en toe met sy agterpote teen die sinkplaat skop. Dit was asof die geluid van die sinkplaat my aankla oor my onbesonne daad.

Jakob was die eerste wat oor die hok geloer en gesien het hoe die groot vark sy laaste skop gee.  “Jeeston, Gert, jy moes mos die klein varkie geskiet het!” het hy onnodig gesê. “Ek weet, man!” het ek skaars hoorbaar gefluister, terwyl ek stadig met hangskouers kombuis toe gestap het om die slegte tyding te gaan oordra.  Toe ek daar kom, toe staan Ma al met die skraaplepels in haar hand. “Jy het vemôre gou die varkie geskiet?” het Ma gesê-vra, terwyl ek die geweer stadig in sy sak teruggesit en woorde bymekaargemaak het om die tyding so sag as moontlik te laat klink. “Ma, Ma … ek ..ek weet nie wat gebeur het nie,” het ek gestotter. “Toe ek my kom kry, toe skiet ek die groot vark.” Sy het na haar mond gegryp en ontsteld gevra:  “Die groot vark wat jou pa einde van die maand Bitterfontein toe moet vat?!”  “Ja, Ma, dit was eerlik ‘n ongeluk,” het ek berouvol gesê. “Ag jene, my kind,” en sy het haar voorskoot senuagtig  gebondel. “Wat sal jou pa sê as hy dit moet hoor? Hy voel al nie lekker nie en nou nog die varkbesigheid ook.”  Met Ma se verwyt nog in my ore, het ek by die kombuisdeur uitgestap en probeer dink hoe dit gebeur het dat ek die verkeerde vark geskiet het, maar ek kan dit tot vandag toe nog nie verklaar nie

Toe Pa die tyding kry, het hy ontsteld Boontoe geroep en sy kop moedeloos geskud. Van ontsteltenis het hy vir amper ‘n week in die bed gebly, terwyl ek  met myself geworstel het oor hoe dit kon gebeur het.  Deur te sê dat ek per ongeluk die verkeerde vark geskiet het, was beslis nie vir Pa of Ma aanvaarbaar nie.  Het hulle nie dalk gedink ek was moedswillig nie? 

Onnodig om te sê dat die groot vark met gemengde gevoelens geslag is, want kort-kort het ek gesien hoe oorle’ Ma haar kop moedeloos skud terwyl ons met die skraapwerk besig was. Terwyl my ouers nog gelewe het, het die skuldgevoel nog vir baie jare by my gespook.

Kan jy dit glo?

Maart 15, 2012

Trekker in drein

Ons wat hier in die Sandveld bly, is gelukkig dat, as ons ‘n gat wil grawe, dit nie ‘n probleem is nie.  So bou ek destyds ‘n woonstel weg van die huis, maar die probleem is toe dat die drein gemaak moes word waar ons parkeerarea deesdae is.

Ons grawe toe die drein diep en groot, bou dit uit en bedek dit met ‘n konkreetdeksel.  Bo-oor word dit met sand en klei toegegooi sodat niemand eens weet dat daar ‘n drein is nie.  Ekself het ook later van die drein vergeet.  Oor die jare het baie voertuie en selfs lorries by ons kom stilhou, sonder ‘n probleem.  My drein is mos vir almal mooi veilig weggesteek …. tot op ‘n dag.

Na my heupvervanging ‘n paar jaar gelede, moes ek na ‘n maand weer Kaap toe ry vir ‘n opvolgondersoek.  Soos dit maar gaan, vat jy mos altyd vir jou kinders en familie ‘n vleisie saam, want hoe anders?  Pa boer mos met skaap.  Ek het nog met die armstutte geloop, maar moes die slagding opsaag – dit was al die jare nog my werk.  Ek het vir  John Pampoen opdrag gegee om my groter trekker op te bring huis toe sodat ons dit kan skoonspuit.

Terwyl ek besig was om vleis op te saag, loer ek deur die venster en die volgende oomblik toe raak die trekker net voor my oë weg.  Ek huppel vorentoe om beter te sien en daar sien ek net die trekker se voorwiele bo die grond uitsteek.  Ek het my armstutte gegryp is is vinnig uit na die ongelukstoneel.  Wat sou ek sien?  John Pampoen sit daar onder in die drein, bleek en asvaal van die stof,  met die stuurwiel nog stewig in sy hande.

“En nou, John?” vra ek oorbodig.  “ Baas, ek sit nog so en ry en toe v’loor die trekker net hier in die gaat.”   Ek merk dat hy soos ‘n riet bewe en gaan maak vir hom ‘n bietjie brandewynwater aan, want ek kan sien hy het hom disnis geskrik.  Hy het so groot geskrik, dat hy roerloos sit en sy hande nog styf om die stuurwiel geklem is – so asof dit ‘n reddingsboei is. Daar stoot ook ‘n klankie tussen die stof op.

Ek bekyk toe die besigheid. Hy het netjies tussen die drein se mure deur gery en die gewig van die trekker was net te veel vir die ou konkreetdeksel.  By nadere ondersoek sou ek sien dat die staal en stutte met die jare verweer en die konkreet verbrokkel het.

Die volgende oggend, toe ek die pad Kaap toe moes vat, besef ek dat ek mos nie my trekker hier in die str-ntgat kan los en Kaap toe ry nie.  Ek het die nag gelê en planne maak, want hoe kry ons weer die sware trekker bo die grond?  Die son het skaars sy kop uitgesteek, toe stel ons ‘n driepoot bo-oor hom op en begin die Massey Ferguson met ‘n 5-ton kettingkatrol ophys.  Ons hou duim vas en dit gaan goed, maar toe vou driepoot se bene inmekaar.  Die Massey sak terug en ‘n vars klankie hang nou in die oggendlug. Ek huppel op my stutte en my wit kouse om die toneel en rits ‘n klomp orders af, want die bakkie is klaar gepak en Hestelle loer kort-kort op haar horlosie – sy het elfuur ‘n haarbestelling op Vredendal!

Nelis het gou die driepoot se bene met die sweismasjien gaan versterk en ‘n vrag stene ook saamgebring. Dit was nou weer Aubrey Fielding se beurt om die ketting onder aan die trekker se  draw bar  vas te haak.  Ek het gesien hy trek sy neus weg, maar hoe anders gemaak?  Die ketting kraak en ons hou asem op. Die driepoot buig soos ‘n hoepel, maar dit hou.  Ons lig die Massey skakel vir skakel en Aubrey moet na elke ses duim ‘n laag stene pak.  Hy gee nie om nie, want Oubaas het hom destyds, toe hy op parool uit was, werk gegee en sorg mooi vir hom.  So lig ons die trekker bietjie-vir-bietjie en pak dan ‘n laag stene onder die wiele. Aubrey glimlag van oor tot oor toe die trekker veilig op die grond staan.

 Toe ons elfuur die trekker van die gat af wegry, kyk ek op my horlosie en sê verlig:  “Ouvrou, dis nou elfuur … net mooi tyd vir jou haarbestelling!”

Lekker tydjie by die see

Februarie 6, 2012

This slideshow requires JavaScript.

Verby Ja-toe-se-gat na kuskamp – in die Buite Burger 31 Mei 2011 – deur Eben Human

Junie 10, 2011

Buite BurgerIn Dinsdag, 31 Mei 2011, was daar ‘n artikel oor die nuwe kamp hier naby ons…

Ek het vir julle die hele artikel ingeskandeer & laai dit op sodat julle meer kan lees oor ons mooi wêreld.

Geniet dit! Kliek hieronder om die hele berig te lees. Jy benodig Adobe Reader om dit oop te maak. Laai dit verniet hier af indien jy dit nie het nie!

Buite Burger 31 Mei 2011

Sarrisam-spore

Mei 28, 2011

Sarrisam-spore

Luister na die Engelbrecht-stemme

deur Gert Sarrisam en medewerkers

Engelbrecht Familie Geskiedenis

1717-2011

Sarrisam-spore

VOORWOORD

Hierdie boek oor die Engelbrecht’s van Sarrisam het daartoe gelei dat ons die spore van ons voorvaders ver terug moes gaan vat. Ons wou graag weet wie ons werklik is en waar ons vandaan kom. Met my heupvervanging meer as ses jaar gelede, was ek gekniehalter. Ek het besluit om ‘n bietjie oor ons herkoms te skryf, asook oor die latere geslagte wat op Sarrisam grootgeword het.

Die kern van hierdie boek handel hoofsaaklik oor die vier geslagte van Sarrisam se mense en hul nasate. Die bronne van inligting was uiters beperk, omdat twee geslagte van die Sarrisam-familie reeds oorlede is. Ek en Sarel het in ons geheue gedelf en probeer om soveel as moontlik te onthou en oor te vertel. As ek foute gemaak het, vra ek nederig om verskoning.

Die leser moet besef dat ons gepoog het om die “onthou” van die verlede op skrif te stel en vir die nageslag te bewaar. U moet ook nie ‘n taalkundig korrekte geskrif met enige literêre waarde verwag nie. Die hoofkarakter in hierdie boek is oupa Joos, wat as skaapwagter deur swaarkry gesukkel het om vir Sarrisam as standplaas vir sy familie te bekom. Die meeste vertellings is insidente wat op Sarrisam afspeel – ‘n mengsel van drama en glorietye!

As gesin het ons ook die hartseertye beleef toe ons ouers op betreklik jong ouderdom oorlede is. Hul voorbeeld en nalatenskap bly vir ons kosbaar. Ek glo dis hoekom ons nageslag soveel seën en God se guns geniet. Ons eer hulle daarvoor.

Ek wil dankie sê aan al die broers en susters vir hul onderskeie bydraes tot hierdie boek. Ook aan al die neefs en niggies wat vir ons bydraes gestuur het. Ons het probeer om almal die geleentheid te gee om hul grootwordjare en die rol van hul ouers in herinnering te roep.

My broers en susters, dankie vir wat ons nog elke dag vir mekaar beteken. Die liefde en harmonie wat ons deur ‘n onsigbare band so saambind, maak dat ons die behoefte het om jaarliks bymekaar te kom.

Dankie aan my geliefde vrou, Hestelle, wat in haar druk program tyd ingeruim het om alles op rekenaar te sit. Ek waardeer dit uit my hart. My kinders, dankie vir jul ondersteuning en ou Nelis, dankie vir al die foto’s wat jy geneem het.

Ons erken met dank die navorsing wat Faansie Engelbrecht gedoen het in verband met die Engelbrecht-voorgeslagte. Dankie aan Maria Liebenberg, broer Koos en Hestelle wat saam met Terina gehelp het met die afronding van “Sarrisam-spore”. ‘n Spesiale dankie aan Terina le Roux vir die finale bladuitleg.

Gert Sarrisam

Leer ken die herkoms van die Sarrisam Engelbrecht familie.
Hoe het Sarrisam in Joos Engelbrecht se besit gekom?
Wat het van Gert Cornelis se broers en susters geword?
Waar bevind die vierde geslag van Joos Engelbrecht hulle?
Gert Sarrisam se broers en susters deel hul lewensverhale.

Hartseerverhale, familie-intriges, swaarkry dae word oorvertel soos net Gert Sarrisam kan.

Sagteband
A4-grootte
220 volkleurbladsye
450+ foto’s
R310

Navra: Hestelle Engelbrecht
sarrisam@telkomsa.net / 027 581 1021

Blye weersiens van Garisiete by Groenrivier

Mei 18, 2011

Ons ou Garisiete het baie daarna uitgesien om mekaar na vele jare weer die naweek op Groenrivier te sien. Ons het die afgelope tyd die draad geslaan om ons ou maters uit ons skooljare op te spoor en uit te nooi. Die laaste paar weke is op facebook getwitter en gekwetter met Garies Kaalvoetkind in die voorste linie. Kinderfoto’s van ons skooljare en gesinsfoto’s is afgelaai en ons het met verbasing gestaar na die oupa’s en ouma’s met hulle gryskoppe, wat meer as vyftig jaar gelede saam met ons op die skoolbanke gesit het.

Koos Koek, my klasmaat vanaf 1959, het al ‘n week voor die naweek uit Kaapfontein by my kom kuier. Sondae, as ou ds. Van der Merwe oor die tweedegrootste gebod van die liefde praat en dat jy jou vyande moet liefhê, het ek aan die nare Koos Koek gedink en vir myself gesê: “Not ‘n dem!” Hy het op skool soos ‘n wafferse werfhond begin blaf as ek in die nabyheid was (my bynaam was Spotty) en die haat jeens hom het by die dag gegroei.

Vandag is ek en hierdie aartsvyand van skooljare boesemvriende en ons het saans om die vuur bespiegel wie almal van ver af daar sal wees. Ons was verseker van Hannelien Vermeulen (nou Strydom) op wie ons seuns almal verlief was, asook Olé Pedersen van Denemarke.

Broer Sarel-hulle het al die Donderdag gekom en Sally het haar ou skoolmaat, Mieta, saamgebring. Die aand het ons die naweek ingesuur en met Mieta gespot en gevra of sy haar voorbehoedpille saamgebring het. “Gaan dit só rof wees?” het sy saamgeskerts. Sarel en ek het die Vrydagoggend opgewonde ons karavane gehaak en koers gekies Groenrivier toe. Koos Koek het kort op Sarel se hakke vir ons vooruit gery. Toe ons die kampterrein binnery, val my oë op ‘n groen Land Rover en ‘n gryskopman wat besig is om kamp op te slaan. “Ek wonder wie is die ‘ou’ man?” vra ek vir my vrou. “Wat meen jy? Ons is almal oumense!” choke sy my. Toe ek agter Sarel se karavaan stilhou, kom ‘n brunet by hulle uitgestap en ek wonder wie die vriendelike vrou is. Koos Koek stel haar aan my voor: “Elsabe Coetzee.” Ons oë ontmoet mekaar..”Hannelien?” sê ek onseker. Sy knik. Vyftig jaar val weg tussen ons en ons omhels mekaar. ‘n Rukkie later ontmoet ek die gryskopman, Andre Strydom. “Jy sal hierdie naweek haar met ons moet deel,” spot ek. “Natuurlik,” sê hy vriendelik. “Ek het haar vir julle gebring,” spot hy saam. Stuk-stuk kom hou hulle stil – ou Kalfie, Koeloe, Gert Pit en Malinda uit Hentiesbaai, Arno met gesin en ou Jasper Hamel en Annatjie daag op. Ook Renier Koeëlblad en Marlene kom sluit by ons aan. ‘n Wit Mercedes kom hou regoor ons stil. “Ek wonder wanneer kom ou Olé?” vra ek toe die passasier in die kar onbekend lyk. ‘n Gryskopvrou loer vir ons deur die venster, terwyl die man ook stip na ons staar. “Lyk my die man ken ons nie,” sê een. Toe klim hy uit en kom na ons aangestap. “Dis wragtag ou Olé!” sê ek en almal staan op. Na 51 jaar groet ek die ou grote en almal omhels hom. Die verlange en blydskap om ons almal weer te sien, word weerspieël in die warm drukkie wat hy elkeen gee. Die gryskopvrou kom aangestap en dis niemand anders as Noekie Dreyer nie.

Die agtermiddag sit ons in ‘n kring en kort-kort verskuif ons, want die kring raak al wyer. Dit gesels en dit jil oor-en-weer. Arno verwelkom al die ou Garisiete en vertel ons onder andere van Johan Dreyer se mislukte selfmoordpoging oor ‘n girl wat hom afgesê het en later is Sarel op die been. Hy vat vir ons terug na die dag by oom Bertie Colyn toe die koshuiskinders moes gaan help om jakkals te jag en hy gebruik oom Bertie se “groot” woorde: “Manne, voor ons begin, moet ons eers organiseer.” In daardie stadium het ons nog nie geweet wat “organiseer” beteken nie! Hy bedank vir Adriaan en Arno vir die “organiseer” van hierdie naweek. Adriaan haal sy rooi kabouter-kitaartjie uit en sing een van Kaffertjie Rooiwal se songs. Ek vat hulle as seuntjie agterop Pa se Fordbakkie ‘n bietjie na Bitterfontein se sirkus toe en ou Jasper vertel ons van Blikvoet se sub. A-storie. Blikvoet moes ‘n storie vertel en sê later: “Juffrou, toe raak Wolf so kwaad vir Jakkals, hy hardloop hom van agter af in en hy byt ou Jakkals se valve morsaf!”

Arno kondig aan dat ons eers die skoollied moet sing voor ons uitmekaar gaan. Terwyl ons uit volle bors sing, staan ons weer in rye in die vierkant. Ek sien ou mnr. Kallie op die verhoog met die Bybel in sy hand. Ek sien weer vir ou For, Piet Koek en Herman Kotze op aandag staan wanneer die laaste akkoorde uit die skoollied weerklink: “Bruin, groen, oranje roep jou werk en oorwin!”

Later maak ons vuur en Bennie en sy maat dra vir ons kole aan. Gou hang die geur van Namakwalandse vleis tussen ons en ons klink ‘n glasie op ‘n blye weersiens. Daar daag nog ‘n klomp van die jonger garde op. Die kamera’s van Nelis, Stella, Marna en die ander flits aaneen en ‘n onvergeetlike aand wat te vinnig omvlieg, word op film vasgevang.

Die aand toe ons gaan inkruip, wou die slaap nie kom nie. Ek was opgewonde soos ‘n seuntjie wat destyds op Wallekraal se kersboom sy eerste present gekry het en wat die aand kort-kort onder die kussing aan die karretjie gevoel het of dit regtig waar was.

Saterdagoggend het Adriaan se trekker en sleepwa gereed gestaan om ons almal see toe te vat. Met ‘n leertjie het ons almal opgeklim en toe die ou knieë so klap, sê ek: “Ai, waar is ons dae toe ons as kinders uitgelate agter op oom Petrie se lorrie geklouter het vir die Sondagskoolpiekniek by Groenriviersmond.”

Toe ons afstap, sê ou Kalfie ewe droog: “Liewe genade, as my skaduwee so sleg lyk, hoe lyk ék dan?” Op die strand het nog twee van ons klasmaats, Johny Pool en Johan Rossouw, ons ingewag. Van die 52 st.-sesse van 1959 was ons nou 8 bymekaar en die tyd het gaan stilstaan. Ons was weer op die hasieveldjie waar ons tol en albaster gespeel het. Ons was weer langs die tennisbaan waar ons klein mannetjies die groot meisiekinders met die kort tennisrokkies dopgehou het as hulle spring vir die hoë balle. Ons het agter ons hande gefluister en gestry wie die mooiste panty aanhet. Ons was weer terug agterop oom Petrie se lorrie as ons saans van ‘n foot ball game af gekom het, waar ons onder die komberse die meisiekinders bevoel het, om gou uit te vind ‘n ander man se hand is alreeds daar.

Ons neem vir oulaas foto’s op die strand en ons loer na die duine waaroor die grootmanne toendertyd met hulle girls op piekniekdag afgedwaal het. Ons groet hulle wat terugry, want die tyd het net te vinnig verbygespoed. Terwyl ons stadig die bult klim, voel ek ‘n feetjie stoot my van agter af. Ek herken Marietjie se lag. “Jy’t seker gesien ek sukkel,” skerts ek.

Terwyl ons terugry, vertel Olé my die hartseerverhaal van sy geliefde vrou se siekte en dat sy verlede jaar oorlede is. Hy vertel ook van sy verlange na Suid-Afrika.

Terug by die kamp het ons weer die foto’s wat Adriaan teen die muur opgehang het een-vir-een deurgeloop en na ons onskuldige kindergesiggies gekyk. Eenkant het ons vrouens en André ons geduldig op ‘n afstand dopgehou waar ons die naweek die bietjie kind wat in ons oorgebly het, losgelaat het.

Toe dit aand word, het Adriaan vir ons elkeen ‘n braaipakkie uitgedeel en die vure is aangesteek. Ons het die aand as ‘n groot familie almal saam geëet met musiek in die agtergrond. Die mense het begin dans en ek en my vrou het ook glad ‘n paar passies gemaak. Ons het gesels en gekuier en toe ons op ons horlosie kyk, was dit middernag. Ek en Hannelien het vir Olé en Noekie gaan afsien. “Ek kom terug na julle!” is sy laaste woorde. Toe ons terugstap, sê ons vir mekaar: dit was wonderlik om mekaar na al die jare weer te sien en ou Olé het elke oomblik ingedrink.

Sondagoggend kom ons bymekaar vir die oggenddiens. Ons sing die ou Halleluja-liedere van kindsbeen en Arno bring ‘n kort, maar kragtige boodskap. Hy lees ‘n paar verse uit die Bybel en sê elkeen van ons het ‘n pad geloop. Langs hierdie pad was voorspoed, maar van ons was minder gelukkig en daar het ook slegte dinge met ons gebeur. Ons het egter nie die reg om vrae te vra oor hoekom hierdie dinge met ons langs die pad gebeur het nie. Hy bring hulde aan hulle wat ons reeds vooruitgegaan het en doen die nodige bedankings aan ons gasheer en sy vrou en kinders wat ons die naweek bederf het.

Die aaklige deel was om te pak en die besef dat so ‘n wonderlike naweek besig was om uit te loop. Ons haak die karavaan en begin te groet. By Adriaan se hoekie sit almal nog rustig met ‘n glas in die hand, besig om aan die naweek te herkou. Eenkant is die stille Vlos besig by die roerpan om die middag se kos gereed te kry. Ons word hartlik uitgenooi om saam te eet en ek vat nogal “twee skeppies”! Dis tyd om afskeid te neem, maar dis of ons die tyd nog ‘n bietjie wil rek. Ek vat nog ‘n skeppie en vertel hulle van toe ek en Niek in 1962 met die trein Kaap toe is om vir Sarel te gaan kuier. Kort-kort weerklink Marna se helder laggie en Marcell, ons gas uit Nederland, luister aandagtig na die oom se storie en wonder oor die bokrib op die trein. Die stille Piet Esel sit eenkant met sy breë smile wat sy trade mark is.

Toe ons eindelik by die kamp uitry, kom lê daar ‘n leë gevoel in my binneste, maar ek dink aan die liedjie wat ons vanoggend gesing het: Wat ‘n vriend het ons in Jesus. Die woorde kom oor-en-oor in my agterkop en ek sê vir myself, ja, wat ‘n Vriend het ons nie regtig nie – ‘n Vriend wat oor al die jare rondom ons was en ons die voorreg gegee het om nog so ‘n onvergeetlike naweek te kon beleef.

Garies Hoërskool geselsnaweek 29 April tot 1 Mei 2011 te Groenriviersmond soos gesien deur die oë van ‘n “Aangenaaide Lap”

Mei 18, 2011

My kennis van Namakwaland en sy mense sou deur Namakwalanders bestempel kon word as “Nul”; behalwe dat hulle te ordentlik is om dit ooit te sou kon sê.

Soos meeste ander Kaapse kinders van daai tyd het ek met ʼn vak genaamd “Sosiale Studies” gewroeg en daarin sou ek – as ek in die klas opgelet het – geleer het van die bestaan van Namakwaland met die hoofdorp Springbok. Daar het bokke en skape en diamante – en skynbaar hier en daar mense – voorgekom. Simon van der Stel het ook daar getoer; ja, daar is self ʼn plek genaamd O’okiep. My ma, wat ook in haar jeug eens in Bitterfontein verwyl het, het aan my bevestig dat Namakwaland bestaan. Ook Juf. Naudė, ons Engels-literatuur onderwyseres het bevestig dat dit nie ʼn plek vir gewone, normale mense is nie, deur aan te beveel na aanleiding van ʼn voorgeskrewe boek “Karroo”: “If you want to write a book about the end of the world, Garies would be a good place to start.” Garies? (Dis háár kort hokkierok en die feit dat sy op die reg voorste skoolbank se skryfvlak gaan sit het met ʼn swaai van die been, wat veroorsaak het dat ek nie in háár klas opgelet het nie.)

My oorlede Pa, ʼn “bloubaadjie”, het my eenkeer in 1958 Springbok toe geneem en ons het in die Springbok Hotel oorgebly en by Jan “Clutch” Visser aangedoen. Ek was soos ʼn regte “gawie” en het aanhou klokkie lui vir diens. 2/6 het baie koeldrank gekoop en die kelners met swart broeke, wit baadjies en ʼn vuil vaddoek oor die arm, moes bontstaan.

In die bank in Parow waar ek so 1966/67 gewerk het, het daar Namakwalanders gewerk. (Klein)Jan en Christine (Nieuwoudt) Hanekom; Willem (Battery) en Ita (Pooltjie) Dippenaar; Hermie Nieuwoudt; en Johnny Vosloo. Hermie het Cointreau en Fanta Orange gedrink. Dit sê vir mens alles wat jy oor Namakwalanders wil weet, het ek geweet.

Dit behels my kennis van Namakwaland en sy mense tot September 1970 toe my wêreld eensklaps op sy kop staangemaak word deur ʼn onderwyseressie met ʼn ewe kort rokkie, wat ek in Parow ontmoet het. Hannelien Vermeulen. Nadat sy die nodige speurwerk oor ʼn tydperk van drie weke afgehandel het en my as geskikte materiaal bevind het (om na haar Namakwaladse norme hervorm te kon word, het ek later eers besef), het sy ewe hofvaardig ingestem om met my uit te gaan, by wyse van ʼn oefenrondte. Bietjie later toe ek agterkom sy verskil van Hermie, het ek die groot vraag gevra: “Waar kom jy vandaan?”. Dis mos belangriker vir jou ouers se gemoedsrus as die latere, heel groot vraag. “Alexanderbaai.” (Huh?) “En waar het jy dan skool gegaan? (as jy skoolgegaan het, wonder ek)”; “Laerskool Binnekamp en toe Garies Hoërskool.” Mmmm! Ek onthou toe dat ʼn rugbytoer deur my JGMeiring Hoërskool se span in ʼn verlies uitgeloop het agv sekere onderduimshede gepleeg deur GHS waaroor ek liewers nie wil praat nie.

Ek het Alexanderbaai (die eerste trippie soontoe is ʼn nagmerrie verhaal op sy eie) besoek en kennis gemaak met Oom Jan en Tant Hannie Vermeulen en nog 4 ander klein Vermeulenpies, (nog ʼn verhaal op sy eie) waaronder Jan Vermeulen, Jnr, later HUB van Alexkor die opvolger van die SAD. ʼn Namakwalander waarvoor ek ʼn baie groot bewondering het.

Ons is in 1972 getroud en vandaar het my visie begin verbreed en my kennismaking met Namakwaland en sy mense het begin met ʼn foto van ʼn besoek deur GHS se kinders aan die Burger Strandhuis in 1960. Dit het gevorder tot rugby-, netbal en ander skoolfotos en so ʼn boekie waarin Hannelien die “geboortes, verlowings, vordering en sterfgevalle” van Garisiete ge-rekordeer het. Mooi woord, hè Sarel?

Die jong gesigte op die fotos het vir my mos nou nooit ouer geword soos ons twee nie. Daar was selfs fotos waarvan die wat daarin verskyn het nie eers geweet het nie.

En so het ek die veelbewoeë byname leer ken. Dis ook ʼn storie op sy eie. Party mense het ek net op hul byname op die fotos leer ken. Die honde: Spotty, Lemmetjie; en muise,…. Wag kom ons los dit daar. Groot manne wou mekaar al daaroor te lyf gaan en ander het mekaar jare lank verpes.

ʼn Bynaam moet mos voldoen aan 4 vereistes: Dit moet darem beskrywend van een of ander karaktertrek, gewoonte of voorkoms wees; dit moenie persoonlik (liggaamlik of sielkundig) kwetsend wees nie; die benoemde moet daarmee kan saamleef; en dit moet (ook vir die benoemde) humoristies wees. Net in Namakwaland geld hierdie reëls nie. Jy kan jouself maklik met enige dier, plant, insek, hemelruimdeel, geografiese-, natuurlike of wat ookal aanmekaargeflansde afferring vereenselwig vind en daarmee maar moet saamleef. Perd, hond, kalf, koeëlblad!?

So het ek deur die jare die jong gesigte van Namakwaland leer ken – daar was ook ʼn paar wat ek meer te hore van gekom het toe hulle al ouer geword het – noemenswaardig Adriaan Niewoudt en ook so op TV Arno van Zyl en Kleinjan en Christine Nieuwoudt met wie ons deur die jare vriende geword en gebly het. Hier en daar het ek nog onrmoet, maar ek het maar altyd half-en-half bevooroordeeld gebly teenoor hierdie mense wat so effe uniek is. Ek het ook vir Jasper Nieuwoudt ontmoet op Van Rhynsdorp. Byname het mense geword. Koos Koek, Kalfie, Beursiebek en what-hef-u. Ole Pederson wat al die pad van Denemarke af gekom het vir die gesels (en so iets anders ook!). En dit bring my by mense soos Noekie Dreyer – altwee mensies wat onlangs groot smart verduur het. En nou kon mens met hulle daaroor praat.

Toe bespring facebook my eendag in November 2010. Dis mos soort van verderflik en ek moet dit dus ervaar! Mens, hoe kan die sonde onder my neus plaasvind en ek loop dit mis!

Dit was ook nie lank André Strydom se fb nie, maar word vinnig via Jan Vermeulen ʼn ontdekkingsreis vir Hannelien. En so word die mense vir my ook lewendig; mense wat lekker praat, lekker fotos uit die ou dae deel en vir Hannelien skielik twee wêrelde bymekaar bring. Haar ou plek en die nuwe Sodom en Gomorra waar sy noual tydelik vir 31 jaar in stille bannelingskap vertoef.

Ek self het ʼn heel nuwe Namakwalander begin ervaar. Mense wat nie omgee om te deel nie; mense wat kan lag en veral vir hulself kan lag; mense met lief en leed; mense wat in hul jong jare harde en ongenaakbare tye ervaar het; mense wat ʼn deel van die aarde bewoon het en nou nog bewoon waar ʼn geween en ʼn gekners van tande nie dikwels in die openbaar gehoor word nie, maar wel heel gereeld daar is; mense wat met min van die materiële moes leer klaarkom en dit gemoedlik aanvaar het; mense dus wat nie ʼn keuse gehad het as om ʼn sin vir humor te hê nie, want ek glo dis wat hulle siele kop-bo-water gehou het; mense wat deur alles trou aan hulle herkoms, hulle landsdeel en hul mense gebly het; mense wat na aan hulle Here is en nie skaam is om hulle afhanklikheid van Hom te besing nie – so tussen die lag en trane deur.

Maar een ding het vir my bly ontbreek: die gesig (alhoewel ek die fotos gesien het op fb) and veral die stem en die MENS agter die foto.

Ek het die uitnodiging op fb gesien en besluit dat ek dit saam met Hannelien – wat meeste van die jong gesiggies 50jaar laas gesien het en die 50-jarige herdenking van GHS in 1988 nie kon bywoon nie – sal gaan ly. Sy het haar opgewondenheid wonderbaarlik weggesteek, maar dit was daar en ek vermoed ek sou haar nie met stokke en swaarde kon weghou nie.

Gert Sarrisam het die byeenkoms goed en innig namens die GHS’sers en ons ander ook beskryf, ek gaan dit nie herhaal nie.

Maar van my kant af, wat ʼn belewenis om die stemme te hoor, die ouer mense aan hul kinderfotos te koppel, gesigsuitdrukkings te ervaar, die gelag, geskerts en nou en dan ook ʼn traan; groot deernis tov die wat nie meer met hulle is nie, siekes en krankes; die duidelike gemis van afwesiges. En die handgebare, saampraat, uitdrukkings, aksente (dit was natuurlik nie ʼn halfuur nie toe praat almal weer met ʼn Namakwalandse aksent). Niemand het nog ooit, of besit selfs nou, ʼn motor nie, dis ʼn “mouter”.

Stories – min grappe, want Namakwalanders vertel mos ʼn storie met stories binne in en bakdraaie om seker te maak dat almal weet van wie daar gepraat word en wat van die persoon se ouers, broers, susters, niggies, neefs, plaas, tuinjong, voertuie deur die jare, onderwysers en hulle manewales, ou For en juf so-en-so wat met so-en-so al in matriek gevry het, selfs “Kaffertjie Rooiwal” en ʼn lied of twee wat Adriaan bygesleep het “Ek steek my sak vol sikkerrette..” ens, ens, geword het. Met ʼn kwinkslag aan die einde wat selfs ons “aangenaaide lappe” nevvermaaind die totaal oningeligdes, moeilik vind om in humor te vertolk – stories oor ervaringsvelde, plaaslike mense, politiek, mooiwees en lelik wees, onsuksesvolle selfmoordpogings, ertjies eet of nie eet nie en wat dies meer. ʼn Voorbeeld:

Arno het ʼn halfuur lank gestreef om tussendeur ʼn storie van so 50 woorde oor dié ertjie-etery te vertel. Ek erken ek verstaan dit nog nie, maar man, vrou en muis, selfs die totties buite in die droeë doringboom wat Elrien daar aangesleep het, het histeries verslap en gesit staan en lag. Nog ʼn uitdrukking waaraan jy beter gewoond moet raak. “Gesit staan en lê…”.

Maar; ek moet maar bybly en lag en lag, want hier sien ek in die vertellery die mense agter die prentjie. En dis in sulke mense se hande wat ek met groot plesier my vrou laat (ook maar net vir ʼn dag of wat, want ek was gelukkig gewaarsku deur my “spaai”, oor kasterolie in my drank om my te “confine to barracks”). Ek wil nie uitsonder nie, maar so ʼn verwysinkie of twee na Hannelien en haar maats wat in 1959 in st 6 in GHS saamgekom het, sal seker nie onvanpas wees nie:
Koos Koek – uiteindelik sien ek die jong, aantreklike rugbyspelertjie – wel min of meer, neem ʼn haar hier en ʼn paar pond daar;
Adriaan Niewoudt – ek sien ook die mens agter die ondernemende seun wat by koshuisvensters uitgeklim het om kwepers te “oes” en uit te deel;
Gert Sarrisam – die man van “As murasies kon praat” – seker die mooiste naam vir ʼn boek wat ek al teengekom het;
Beursiebek – darem nie so erg soos die kinders dit gemaak het nie. Gelukkig beteken dit net eenvoudig dat hy op die regte tyd ʼn “zip” kan insit;
Kalfie – die lang man met die mooi skaduwee en die gat in die grond om hom kort genoeg te maak om in die foto te pas;
Ole Bulow Pederson – die sagte man van Alexanderbaai en Garies en Denemarke wie se Afrikaans so wonderlik bewaar gebly het;
Johnny “Vetkoek” Pool – te verstane was daar seker ʼn besondere aanvoeling vir koeke van enige aard onder mense en koshuiskinners wat dit nie te gereeld gesmaak het nie en dus maklik daarmee kon vereenselwig en sulke byname kon aanvaar; Hannelien – wat na 40 jaar nogsteeds weier om my haar bynaam te gee, maar darem die mooiste (al) meisie van die 1959-inname by die re-unie was! Dankie manne!

En die vrouens, moenie die vrouens vergeet nie. Noudie dag, Moedersdag; en as onbevooroordeelde, objektiewe en onaf-hanklike waarnemer kan ek sien hoe die vrouens oor die jare heen – netsoos vir my – ook maar moeder moes wees vir hierdie stoere manne. “Mooie meisies, fraaie meisies…..”

Aan almal wat daar was – dankie dat julle die naweek vir ons ʼn groot affêre gemaak het; wat kan ek sê, behalwe om saam met almal weer te kon sing, net soos Gert herhaal het: “Wat ʼn vriend het ons in Jesus….” Julle het vir my op 67 ʼn nuwe wêredl gewys. ʼn Wêreld wat ek altyd sal bewaar en nooit vergeet nie.

Deur André Strydom, Roodepoort

Ons reis met die MSC Sinfonia

Mei 18, 2011


Ons Namakwalandse boere breek maar min weg vir ‘n vakansie, want jou voortbestaan wentel om jou boerdery.  My vrou en familie weet ook dat hul timing reg moet wees as hulle my wil oorhaal vir ‘n “wegbreek”.  Soms konkel hulle agteraf ‘n vakansie en wag net vir die regte oomblik met die hoop dat ek in die yster sal trap.

Terwyl ons tee drink, sê my skoonsuster, Sally, uit die bloute:  “Het julle die advertensie in die nuutste Huisgenoot gesien?” Ons koppe draai na haar en my vrou sê:  “Vertel – jy maak ons nou  nuuskierig.” “Hulle adverteer ‘n bootreis vanaf Durban na die Portugese eilande.” Ek drink rustig my tee, want ek het klaar belangstelling verloor.  Sy borduur verder: “As een couple betaal jy die volle bedrag, maar as ‘n tweede couple die kajuit deel, betaal hulle niks.  Is dit nie wonderlik nie?  Dan deel julle die bedrag – dis ‘n goedkoop vakansie.” Sy draai haar kop in my rigting.  “Gert, kom ons gaan almal…..wat sê jy?”  Ek verstik amper in my tee.  My vriend, Renier, en sy vrou, Marlene, kuier by ons en terwyl ek sukkel om te sluk, sê hy:  “Met my en Marlene is dit okay.”  Almal se oë is nou op my gerig en ek sien my vrou se opgewonde gesig en ek raak week.  “Dis net vir ‘n jollie naweek saam met Kurt Darren,” sê een en in ‘n onbewaakte oomblik knik ek my kop.  “Hierop moet ons drink,” sê een en lig sy koppie.  Ek besef dadelik hulle het my met ‘n slap riem gevang, maar die gedagte dat ek en my vrou daardie week 41 jaar saam is, regverdig die roekelose besluit.  Dis asof my besluit deurslaggewend was en ‘n paar minute later word my ander broer en susters almal gebel en opgekommandeer vir die seevaart, want ons moet almal saamgaan.

Die volgende paar maande word daar opgewonde oor en weer oor die bootreis gesels, want van ons nege broers en susters kan net twee nie gaan nie.  Saam met Renier en Marlene is ons twaalf stuks.  Ek sluit my af, maar ek kan nie help om terug te dink aan my laaste bootreis meer as dertig jaar gelede nie.  Ek het saam met wyle oom Erasmus van Wyk gaan snoek vang by Hondeklipbaai.  Ons het vroeg die oggend met een van die kreefskuite uitgevaar en daardie dag het ek so seesiek geword, dat daar pal ‘n paar hans seevoëls om my gedraai het met die hoop ek gooi vir hulle nog kossies uit.  Skielik het die skipper geskree:  “Lyne!”  Ek het my snoek se nek gebreek en verbaas vir die man langs my gevra:  “Wat gaan aan? “  “Kan Meneer nie sien die see tel op nie?”

Teleurgesteld het ek my lyn opgerol en gevoel hoe die boot begin rol.  “Die mis is besig om toe te trek en kyk daardie ‘wit perde’ op die horison,”  het oom Erasmus opgemerk.  Ek kon nie help om die kommer in die ouer visserman se stem waar te neem nie.  Ons twee buurmanne het bekommerd na mekaar gekyk toe die sleepmis soos ‘n groot kombers om ons toevou.  Skielik was die vangs nie meer belangrik nie.  “Die wind raak al sterker”, het ‘n ou visserman geskree, terwyl hy sukkel om op die wiegende boot sy snoek te vlek.  Ons het later almal soos verlore skaap op die dek saamgedrom, want die mis was nou so dik, dat ons niks om ons kon sien nie.  Onder elkeen se neus het ‘n paar lastige druppels water gehang, terwyl die klein dieselmasjien sukkel om vir Diana voort te dryf.

“Hoe weet Jackman ons is op koers?” het ek later bekommerd gevra.  Ek het aan my vrou en klein kindertjies by die huis gedink wat nog vanoggend in droomland was toe ek vieruur daar weg is.  “Hy’s ‘n ou skipper en hy kyk op sy kompas,” het oom Erasmus my probeer kalmeer.  Dit was asof my skietgebede beantwoord word toe die mis effe lig en iemand skree:  “Ek sien die ligtoring!”  Toe ek vaste aarde onder my voel, het ek myself belowe:  blou water, op jou vaar ek nie gou weer nie.

Gedagtig aan hierdie nare ondervinding het ek myself verwyt dat ek my so maklik laat vang het.  Terwyl ons die “groot dae” langs die see uitgespan het, is daar rondom die vuur by Koringkorrel bespiegel wat daar op die boot vir ons wag.  Bedags het die vrouens sommer na Boetiebaas-hulle toe gery en by hulle gaan kers opsteek, want hulle was die vorige jaar ook saam op die boot.

Een aand, terwyl ek ‘n kreef plunder, hoor ek een sê:  “Ons moet vir ons baaibroeke kry, want daar’s glo twee swembaddens op die boot.  Ons gaan met klein bootjies na die eiland toe ook.”  Ek sluk amper ‘n kreefpoot heel in soos ek lag, want hoe gaan ons almal in baaikostuums lyk?  Almal is al aan die verkeerde kant van 60.

Een oggend staan ek met ‘n slegte verkoue op en hoes die hele kamp wakker. “Jy moes nie gisteraand in die koue uitgegaan het nie,” verwyt my vrou my.  Almal is bekommerd, want dis nog net drie weke voor ons vaar.  Ek word gesmeer en gesalf met Herbaheat dat ek na toor ruik.  Die verkoue is later beter, maar ek hoes sonder ophou.  Saans as ek te lui is om hout te gaan haal, gee ek net so ‘n paar diep hoese, dan hoor ek een sê:  “Hoor daardie bors!  Jy staan nie vanaand op om te gaan hout haal nie, want die wind is te koud op jou bors.” Ek is soos ‘n seuntjie bederf, want by ons crew moes nie ‘n fout kom nie.

Die aand voor ons vertrek, sê my vrou:  “Jy moet môre op Vredendal vir jou ‘n swembroek koop.”  “’n Swembroek?!  Wat het van my swembroek geword wat ek op honeymoon gedra het?” vra ek stout.  “Is jy laf?” en haar oë rus op my boepie. “Bring dat ek hom aanpas,” treiter ek haar.  Sy grawe in my kas en kom met die verbleikte blou dingetjie te voorskyn.  Ek skud myself moeisaam in paaiemente in. Toe ek die laaste entjie na my naeltjie inbeur, is ek skoon kortasem.  My oë dop om en my vrou giggel.  “Kyk na my fris knoppie,” sê ek verspot.  “Newwermaaind jou knoppie, waar’s die broek se toutjies?  Hulle sal nooit bymekaar uitkom nie,” en sy begin hardop lag.  “Lag jy vir my of met my?”  vra ek knorrig in my eer gekrenk.  “Pak hom in, ek gaan nie ‘n nuwe een koop nie.” “Jy gaan ‘n bespotting wees …. ek sê maar net.”  “’n Bespotting?  Hoe dink jy gaan julle spul ou vrouens in baaikostuums lyk?” kap ek terug.

Vyfuur die oggend val ons in die pad.  Terwyl my vrou die hekke oopmaak, kyk ek in die motorligte na haar mooi lyf vir haar jare.  Hoe gaan sy na al die jare in ‘n baaikostuum lyk?  Half agt laai ek haar op Vredendal by Christine se haarsalon af.  Terwyl ek vir haar wag, dink ek aan ons gereelde besoeke by Christine as ons Kaap toe ry.  Hoe belangrik is dit nie vir ‘n vrou om goed te voel nie!  Ek gun gaan deesdae alles, want desjare, toe ons kinders grootgemaak het, was hulle die belangrikste en het die boervrouens hulself afgeskeep.

Sy kom met ‘n skewe koppie uitgestap – elke haartjie op sy plek.  “Nou’s jy reg vir die Sinfonia,” spot ek.  “Ek moet nog by Truworths gaan kyk vir ‘n baaikostuum,” sê sy.  “Is jy ernstig?” vra ek.  “Wil jy hê ek moet kaal swem?” vra sy sinies.  “Ok, kry vir jou die mooiste, beste – ek sal betaal,” sê ek braaf.  “Jy moet kom kyk as ek aanpas,” vra sy dankbaar vir my buigsaamheid.   “Meneer kan maar ingaan,” sê die jong dametjie ‘n rukkie later.  Ek bekyk haar op en af en dink onwillekeurig terug aan haar jong, ferm lyf van ons jongdae.  “Hoe lyk dit?” vra sy bekommerd toe ek effe te lank huiwer. “Ek wil jou bene ook sien.” “Moenie laf wees nie, ek gaan nie my bene wys nie.  Ek draai ‘n sarong om my middellyf.”  “Vat dit maar, Ma, ek dink nie ‘n tweestuk sal jou meer pas nie.” By die betaalpunt rek my oë, want byna ‘n halwe dorperlam word ge-offer.

“Het jy al ons naarwordpilletjies gekoop?” Sy knik. Toe ons in die bakkie klim, sê sy:  “Ons moet noual begin drink.” Die sonnetjie het sy laaste strale teen Tafelberg gegooi toe ons Kaapfontein binnery.  Die aand voor die groot reis trek ons almal opgewonde saam om ‘n vleisie te braai. Ons vier mans kry elkeen ‘n grys seevaarderskep met ‘n rooi anker, asook sokkies met ‘n ankertjie op. Aan tafel kyk ek die vrouens deur.  Hulle is almal opgedollie en daar’s ‘n paar brunette, ‘n swartkop, een met highlights in die hare, maar nie ‘n enkele gryskop te bespeur nie.

Vrydagoggend vroeg, toe die Kaapse hoenders nog op hul steiers sit, spoed ons op die R300 na die internasionale lughawe.  Op die lughawe drom ons saam.  Oral word groot reistasse op wieletjies gesleep.  My oë dwaal .. ek soek die manne met die keppe.  Ons crew kry later mekaar.  Die opgewondenheid kook.  Ons boek in.  Buite op die aanloopbaan staan British Airways vir ons en wag.  Oral merk ons passasiers met Huisgenootsakke op.  Ons gooi ‘n warm glimlag vir mekaar.

Terwyl ons deurstap, fluister ek: “Dis almal bootmanne.”  Buite waai ‘n paar koue miswolkies verby. Sus Marie stap vanoggend met ‘n nuwe tred.  Die linkerbeen swik so effe soos ‘n senter wat ‘n binnegaping wil vat en daar word net so liggies op die kierie gedruk.  Byna laaste stap ons span tussen sittende passasiers deur.  “Ek is Piet Retief en ek sal hierdie boerevolk na Umgungunglovo lei”, sê ek hard.  Almal lag.

Ons gespe ons vas,  die Engelse ystervoël gaan maak ‘n draai en toe trek die kaptein die kontrole oop. Ek sit by die venster en terwyl die enjin brul en ons spoed optel, vat my gedagtes my ver terug na my kinderjare.  My oë rus op die vinnigbewegende vlerk en ek dink onwillekeurig hoe ons kinders nog ‘n entjie agter Pa se eselkar vasgehou en saamgedraf het tot ons beentjies moeg geraak het.

Ek skrik uit my mymering toe die vliegtuig se neus lig en daar kom lê ‘n hol kol op my maag.  Onder flits die wingerdboorde verby.  Die groot damme water blink onder ons.  Ek wens net vir een dam vars water in ons dorre wêreld waar my Bolandse vrou al die jare moet bly.   Hoe sal ek haar nie bederf nie?  Maar hulle is met so min tevrede.

Dit word stil rondom my.  Sus Marie is lankal in droomland.  Haar valstande het vorentoe geskuif.  Die ander vrouens sit kiertsregop soos hase en slaap, want die haartjies moet tog nie aanstoot kry nie.  Ek skrik uit my drome wakker toe die miswolke soos ‘n groot wit kombers oor die landskap getrek word.  Dit lyk soos ‘n feetjiewêreld.   Almal raak nugter wakker toe die kaptein ons landing naby Durban aankondig.  Die groen landskap en wuiwende suikerplantasies is duidelik sigbaar, maar dis die nuwe Kingsmead Stadion wat my oog vang.

Op die lughawe groet ons vir broer Koos en sy vrou uit Bobbejaansberg.  Elkeen swaai sy Huisgenootsakkie oor skouer en klim die bussie wat ons hawe toe vat.  Ons jil en gesels soos opgewonde skoolkinders, want ons kan nie wag om die boot te klim nie.  Toe ons weer sien, toe lê die MSC Sinfonia in al haar majesteit voor ons.  Ons bagasie word gelaai en my vrou se tas lyk verdag.  Sy word gevra om dit oop te maak.  “Wat soek julle?” vra sy met ‘n frons tussen die oë.  “Dame, dit lyk of daar drank in u bagasie is.”  Sally lag.  “Jy wat nie eers drink nie, word vir drank deursoek!” Dit blyk toe dat ‘n boek bo in die tas op die skerm na ‘n boks wyn lyk.

In die grote saal bondel ons bootvriende saam.  Sus Betta breek weg en soek ‘n eetding.  Oorkant ons sit twee swaargewigte met ‘n sak biltong en droë wors op hul skoot en hul kakebene roer aanmekaar.  Terwyl almal wag, glip ek uit en gaan besigtig ons vaartuig.  Ek tree haar af en na 350 meter is ek al kortasem  … glo net so lank soos die Titanic.  By die sykant van die romp is hulle druk besig om tonne kosvoorraad in te skeep.  Julle sal nog moet gaan haal, want ons eet soos Mopaniewurms, praat ek met myself.

Ons wag, want daar het reeds ‘n lang tou gevorm.  Die koppe draai toe Kurt Darren en kleine Dunay by ons verbystap.  “Ek wonder wat hy vir my handtekening sal betaal,”  fluister ek stuitig vir my vrou.  Eindelik, na wat soos ‘n ewigheid gevoel het, is dit ons beurt.  Sus Marie het haar eie ry langs ons, want sy skuif van stoel tot stoel vorentoe.  Ons paspoorte word ge-scan en ons gaan aan boord.

Ons koffers staan reeds voor ons kajuite.  Elkeen ondersoek sy nessie en dit lyk heel gerieflik.  Ons gaan soek die eetplek.  In die hysbak sien jy jouself lewensgroot, want die spieëls weerkaats ‘n paar gesigte van jouself.  Op die elfde dek is die grootste kuierplek.  Dis warm en bedompig.  Voor die kroeg staan reeds ‘n paar dors manne.  Ons ondersoek alle eetplekke.  Terwyl ons in ‘n lange tou staan, dink ek weer aan my koshuisdae op Garies meer as vyftig jaar gelede.

Rondom half drie blaas daar skielik ‘n moerse toeter.  Ek skrik my gat af toe my bord amper uit my hande val.  Dit klink soos iemand wat op ‘n reuse bamboes blaas.  Die masjiene onder ons grom en stadig begin die Sinfonia beweeg.  “Hier gaat ons!”, skree een.  Ons laai ons borde vol en ek verwonder my aan die swartkop mannetjies met hul netjiese wit baadjies en swart broeke wat met die hoë stapels borde bokant hul skouers loop.  Ons eet rustig en min het ek geweet dat dit die laaste goeie bord kos was wat my vrou op die boot sou eet.

Ons ontspan op die boonste dek en nou wieg ons heen-en-weer.  “Kyk, dis klein wit vissies wat vlieg!” skree ek.  “Dis voëltjies, man.”  Ek stry.  “Jy ken nie ‘n voël nie, man,” sê broer Koos.  “Al voël wat jy ken, is ‘n hoender.” “Vat julle maar die wen,” sê ek afgehaal.  By die kroeg staan die bittereinders……hulle kuier en gesels, want hierdie naweek op die Sinfonia moenie vergeet word nie.

In die swembaddens baljaar die jongspan.  Op die kant van die dek lê ronde oompies en tannies uitgestrek op hul dekstoele in die son en baai. Die manne voor die kroeg lig hulle glasies vrolik.  Die vakansie tel nou stoom op.  Ons gesels en jil onder mekaar.  Broer Koos se kamera is nie ‘n oomblik stil nie.  So ‘n vakansie sal ons broers en susters nie gou weer meemaak nie.

Ek kyk nou na die windbranders in die verte en sê:  “Dis hoekom die boot so tekere gaan .. die see is omge-ellie.” My vrou word al stiller.  “Ons moet tog ons pille gereeld drink,” sê Sally en gooi vir ons elkeen ‘n paar in die mond.  “Moet hulle nie kou nie,” word ons vermaan.  “Lyk nie hulle help vir my nie,” sê my vrou en staan op.  “Is jy naar?” vra ek bekommerd.  Sy knik haar kop en stap onvas badkamer toe.  ‘n Frons kom sit tussen my oë. “Dis nou jammer .. ek het so gehoop sy geniet die vakansie,” sê ek teleurgesteld.

Oor die luidspreker kom ‘n aankondiging:  alle passasiers moet op die dek aantree vir ‘n dril.  Reddingsgordels word aan almal uitgedeel en ons word geleer wat om te doen sou die boot in die moeilikheid raak.  “Hy moenie neuk nie,” sê ek terwyl ons die oranje besigheid vasgespe.  Ek toets die fluitjie en wens ek het dit gehad toe ek as kind skaap opgepas het.

Die aand trek ons ons kisklere aan om in die restaurant te gaan eet.  Hestelle trek nie eens aan nie en bly net in ‘n bondeltjie lê.  Die nag, terwyl die boot voortstoom, is sy kort-kort badkamer toe.  Sy voel goor en ek kry haar innig jammer.  Saterdag-oggend is die Portugese eiland in sig.  Kort-kort vertrek ‘n bootjie met passasiers na die eiland.  Ons besluit om eers middag te gaan, want dis glo baie warm op die eiland.  Toe dit ons beurt is, gaan groet ek my vrou in die kajuit.  “Hoe voel jy nou?” vra ek bekommerd.  “Hulle kan my maar oorboord gooi,” prewel sy floutjies.  Gelukkig het broer Sarel vir haar setpille by die hospitaal gaan haal voor ons met die bootjie vertrek.  Ek haas my om in die vertrekkende ry in te val.  Ons los drie van ons siek maats agter – broer Koos sal na hulle omsien.  Jongmanne help ons op en ek skree:  “Captain, maak die voorperde los!” Hy kyk my met skaapoë aan en sy wenkbroue lig – ek sweer hy het nog nooit ‘n perd gesien nie.  Ons twintig passasiers klou verbete vas, want dit gaan rof.  Sus Marie druk haar wit hoed van oumagrootjie vas.  Dis voor opgeslaan en langs die kant pryk ‘n groot pienk roos.

Ek loer na die swaargewig oorkant my en wonder of die reddingsbaadjie hom sal bo hou sou hier ‘n foutjie kom.  Die eiland kom al nader.  Die vrouens gil toe die bootjie se neus die sandbank tref.  ‘n Paar jong gespierde manne help eers die vrouens af.  “Dan’s dit ‘n paar mooi mans,” fluister sus Marie kwylend.  Twee gryp haar met kierie en al en dra haar tot op droë grond.  Opgewonde gooi sy sommer haar kierie weg en sê:  “Dit was nou lekker!”

Ons dwaal tussen die stalletjies rond.  Dis bedompig en koue biere word uit koelhouers gehaal.  Ons drie mans knak elkeen ons eerste bier, want hier sal ons seker nie weer kom nie.  Terwyl ons later onder ‘n afdak sit en eet, ons moet ons die vriendelike Bennie Masinga.  Hulle is maar arm en werk is skaars, vertel hy ons.  Gulsig eet hy aan die kos wat ons hom gee.  Toe ons hom ‘n geldjie gee, ontvang hy dit met bakhande en sê:  “Dankie, my oubaas!”  Verbaas kyk ons na mekaar.  Ons groet en sê:  “Mag jy die volgende president van Mosambiek word!”  Hy glimlag met wit tande.

Almal koop goedjies en wag vir die eerste boot wat vertrek.  Ek draai om en gaan snuffel nog rond.  Ek soek vir my vrou en kleinkinders presentjies en laat hulle mooi toedraai, want op die bootjie gaan dit rof.  Ek besef later ek is die enigste van ons span wat agtergebly het. Ek loer na die son en kyk na die honderde mense wat in die tou staan en wag.  As ek agter moet inval, sal dit baie laat word.

Met die presentjies in ‘n sakkie stap ek onverstoord strandlangs en sê vir myself, ‘n boer maak ‘n plan.  Regoor die vertrekkende bootjie gryp ek ‘n reddingsbaadjie en iemand skree:  “Spring, omie!”  Ek was tot onlangs ‘n perderuiter en wip my oor, terwyl twee pare sterk arms my vang.  Ek beland tussen die bene van ‘n jong dame.  “Oppas, oom!” sê sy vriendelik.  Sy sit oorkant my, maar sy is breed geheup.  Ek staan op met die reddingsbaadjie in die een hand en die presentjies in die ander.  Hulle stoot die bootjie die water in, terwyl ‘n dwarsgolf ons tref.  Ek verloor my balans en val op haar breë boesem.  Sy vang my vas en amper versmoor sy my.  “Jammer,” sê ek verleë.   “Jy sal nie gou weer so ‘n man in jou arms hou nie!” probeer ek ‘n grappie maak.  Sy bloos, terwyl ‘n paar sandkorrels in die poortjie verdwyn.  “Dis all right, oom,” sê sy skamerig.

Die kaptein trek die refs oop, maar ons word deur die ander bote verbygesteek.  “Ons is oorlaai,” sê hy later moedeloos toe ons die Sinfonia nader.  Hy gooi ‘n wye draai en pyl op die aflaaipunt af.  Hy misgis hom en tref die kant met ‘n harde slag.  My maatjie gil en val twee van ons plat.  Gesmoord skree ek van onder haar:  “Kaptein, wat de hel maak jy?” Die boot het baie water geskep.  “Sorry for the landing,” sê hy verskonend.  Ons word met ywerige hande afgehelp en bondel die laaste hysbak in.  Laaste glip ‘n jongman met ‘n deurmekaar kuif in.  “Kom, Kurt, ek wil saam met jou sing!” sê ek onder gelag.  “Dis reg so, my omie,” sê Kurt Darren met ‘n glimlag.  Toe die hysbak op die agste vloer oopskuif, sê ek:  “Voorspoed vir die aand, Kurt!”  “Dankie, my omie!  Kom sing vanaand saam.”

Ek soek my maats op en vroulief is ook beter.  Sy is bly oor die geskenkies.  Ons eet vanaand vroeg, want Pieter Koen en Kurt Darren tree op.  Toe ons terugkom, sit die mense reeds bankvas en geen stoel is beskikbaar nie.  Die meeste van ons gaan sit op die muurtjie langs die swembad.  Terwyl die musiek oorverdowend bler, soek ek en Renier vir ons stoele.  Tussen hordes van mense kry ons later twee stoele.  Dis nog vier ure voor die show, maar niemand verlaat sy stoel nie.  Ek stap rond en slaan liggies op my sak en sê:  “Tien dollar vir ‘n stoel!”  Hulle kyk my vyandig aan.  “Twintig dollar?” Geen raksie. “Hoe lyk dit met vyftig dollar?” Die wenkbroue lig.  ‘n Man staan op en vra:  “Wanneer betaal jy?” “Tagtig dollar vir twee stoele!” en ek kyk na sy vrou.  Hy druk haar aan.  “Jy’s laf, ek gaan nie heelaand staan nie.” Almal lag en ek en Renier gaan sit op die twaalfde dek.  Sy vrou, Marlene, kry by ‘n vriendin nog ‘n stoel.  In die skemerte sluip iemand agter op die verhoog rond.   Ek herken die keppie en stamp vir Renier aan toe ek sien Sarel gaps twee stoele.  Alle aandag is egter voor op die verhoog waar ‘n lot jongmense in flikkerende ligte dans.

Die aand is besig om stoom op te tel.  Voor die kroeg dans die jongmanne, ander hang aan mekaar, ander hou hul glasies in die lug.  Die vrolikheid is aansteeklik.  Onder die harde gedoef-doef beur ek my pad deur die menigte om vir vroulief in die cabin te gaan haal.  Sy’s nog bleek, maar musiek is in haar bloed en ons almal maak ons tuis reg onder die verhoog.  Ek gaan soek vir Renier en Marlene en met stoele in ons hand beur ons deur die lot mense wat bankvas sit.  Toe ons tussen ons maats gaan sit, skud ek my kop, want die musiek is oorverdowend vir my gevoelige oor.

My oë val op drie tantes voor ons.  Al drie is breed om die heupe.  “Bliksem,” sê Renier.  “As die Stormers hulle vir ‘n voorry kan kry!” Skielik word die musiek gedemp.  Die seremoniemeester, Stephan Cloete, verwelkom almal en stel vir Kurt Darren aan die gehoor voor.  Die skare raak mal toe Kurt die mike vat en lostrek.  Voor die tantes spring ‘n vrou op en sing met haar hande in die lug.  Sy word deur die middelste tante afgepluk. “Jy staan reg voor ons!” Hulle gluur mekaar aan.   Die vrou reageer briesend: “Luister dame, ek sit al van vieruur vanmiddag en wag.   Ek het gekom om my aand te geniet.” Die ligte op die verhoog flikker, terwyl Kurt almal meevoer.  Onder die verhoog staan ‘n vrou ook op ‘n stoel.  Sy het wit klere aan, maar haar onderklere skyn helder deur.  Die hele lot onder die verhoog staan en wieg terwyl hulle met glasies in die hand uit volle bors sing.  Die kroegmane is moedeloos, want van alle kante word bestellings geskree, terwyl daar ongeduldig op die toonbank geslaan word.  My bek hang oop, want voor my speel ‘n fliek af wat al meer interessant raak.

Skielik verskyn die kaptein op die verhoog met ‘n papiersak in sy hand.  Die musiek word uitgedoof.  “Dankie tog,” sug ek.  “In die sak is my kapteinspet, Kurt.  Ek leen dit vir jou vir vyf minute!” Kurt sit die wit kep op en trek weg met “Kaptein, span die seile!”.  Pandemonium bars los en ‘n meisie in swart dans met haar wilgerlatlyfie skuins langs ons.  Sy wieg haar lyfie op die maat van die musiek en sing uit volle bors met haar bekkie wawyd oop soos ‘n ma-eend wat haar kleintjies roep.  Agter haar sit haar maatjie en voetjie klop – die een voet in gips.  Selfs sus Dina staan teen die pilaar en wikkel haar lyfie.  Verbaas sien ek dat die voorry van die Stormers ook op hul voete is en hande klap.  Hulle blok ons af.  Ons frons, maar ek skree vir my maats:  “Toemaar, hulle kan nie lank staan nie.” Hulle probeer hard om ook te wikkel, maar elke tien sekondes is daar ‘n klein beweginkie te bespeur tussen die walle van die vaskopstut.  As sy haar arms laat sak, is daar ‘n diep kuiltjie in haar elmboog …. lyk jy’t ‘n aartappel daar uitgesuig.  Soos een man sak die voorry moeg op hulle stoele neer.  Hulle bring ‘n papiersak te voorskyn en die kakebene roer.  ‘n Vrou skuins langs my gee haar slapende kind vir haar man aan, spring op haar stoel en gaan soos ‘n uitgelate kind tekere.  Ons skud ons kop in ongeloof.  Ek beleef vir die eerste in my lewe massahisterie.  Skuins na twaalf is die show verby en tot na drie-uur kon ek nog die doef-doef hoor soos die bittereinders partytjie hou.  Die kroegbaas se geldlaai kla nie.

Die volgende oggend stap ek by ‘n paar jongmanne verby.  Elkeen het ‘n donkerbril op.  “Manne, die son is vanoggend ‘n bietjie skerp, né?” spot ek.  Hulle lag.  “Omie, moenie so hard praat nie!”  Ek glimlag. “Die musiek was net te hard vir ons oumense,” kla ek.  “Van watse musiek praat oom?”  “Maar die musiek van Kurt Darren,” sê ek verbaas.  “Was hy dan daar, oom?” Ek lag en skud my kop – hulle was op ‘n nog beter plek.

Later die oggend gaan ek by ‘n openbare toilet langs die kroeg in.  Ek hoor ‘n paar jongmanne gesels en een sê:  “Op hierdie boot drink ek al my geld uit.” “Dis niks, ou pel, leen by my, want ons sal nie weer gou boot ry nie.” Die ander lag.  “Dis vandag ons laaste dag … vandag maak ons alle honde los wat nog vas staan.” Ek stap later by hulle verby en sê:  “Geniet dit, boys, maar onthou, agter hierdie lekker is daar nóg ‘n lekker.” Hulle kyk my verbaas aan, maar ek verduidelik nie wat ek bedoel nie.

Dis ons laaste dag en my vrou voel nog steeds ellendig.  Ek gaan soek die skeepsdokter.  Ek is ‘n bol senuwees, want ek sukkel om my beste Engels bymekaar te maak.  Skielik staan ek voor hom.  Ek stotter ….kan nie ‘n Engelse woord uitkry nie.  Ek wys na my borste soos ‘n dowe mens ‘n vrou beskryf.  Hy knik begrypend.  Ek probeer verder verduidelik, maar ons Namakwalanders se hande is gewoonlik te vinnig en jou sukkelende bek ver vooruit.  Ek haak vas en demonstreer deur te maak of ek braak.  Hy spring eenkant toe, want hy dink dis rerig so.  Hy knik weer en sê:  “Your wife must come for the injection.”  Ek stap natgesweet die gang af om haar te gaan haal en kry vir Oubaas van Sewende Laan wat ook met sy vrou op pad dokter toe is.

Sondagaand gaan kyk ons ‘n show en later is daar ‘n towenaar wat ons met sy toertjies vermaak.  Hy boei ‘n jong meisie, sit haar in ‘n staalhok en sluit haar met kettings toe.  Hy steek staalpenne kruis en dwars deur en waai ‘n geel doekie.  Hy spring op die hok en skud homself in ‘n geel sloop en siedaar – die meisie staan buite en hy sit geboei in die hok.  Almal klap hande.

Ons beweeg uit na ‘n ander lokaal waar Getroud met Rugby aan die gang is. ‘n Paar manne word na die verhogie gelei, waarvan broer Sarel een is.  Daar word vrae aan hulle gevra en so word hulle uitgedun tot net drie finaliste oorbly en Sarel is een van hulle.   Die seremoniemeester sê later:  “Die een wat die meeste bra’s uit die gehoor kry, is vanaand Mnr.Sinfonia!”  Vrouens maak ywerig hul straps los en gooi.  Die gehoor raak mal, want die gryskop man wen met die meeste bra’s voor sy voete!  Terwyl die kamera’s flits, word broer Sarel as Mnr. Sinfonia gekroon, tot groot vermaak van veral sy familie.

Dis al laatnag en die vrouens moet pak, want ons word oor die mikrofoon gewaarsku dat die tasse môre-oggend twee-uur in die gang moet staan om gelaai te word.  Moeg, maar tevrede kruip ons in.

Kort na brekfis vaar ons Durban se hawe in.  Die meeste passasiers is bo-op die elfde dek.  Ons monde hang oop toe die kolos van ‘n passasiersboot ook die hawe binnevaar – die Queen Mary 2 vaar stadig by ons verby met haar vyfduisend passasiers aan boord.  Sy is seker twee keer so groot soos die Sinfonia.  Ons stap later die hysbak binne en besef ons vakansie het tot ‘n einde gekom.  Ek loer na my bleek vrou en ek fluister vir haar:  “Toemaar, ons is netnou op land.”

Op die lughawe eet ons vir oulaas saam.  Dit word tyd om te groet, want broer Koos-hulle vat ‘n ander vlug.  Hulle vlug word aangekondig en ons neem afskeid.  “Ek sal die foto van ons almal met die Sinfonia op die agtergrond vir julle aanstuur,” is sy laaste woorde aan ons.

Toe ons loop om te gaan inboek, kom sus Liesbet vir oulaas met twee hande vol draairoomyse aangestap.  Alles is besig om te smelt van die warmte en tap teen haar arms af, terwyl sy aan almal gelyktydig probeer lek.  Toe sy myne probeer aangee, val die roomys voor my voete op die grond, terwyl Liesbet met haar bene gekruis staan en lag dat die personeel saamlag.

Wat ‘n herinnering!  Ons sal eendag op die ouetehuis se stoep daaraan herkou.